Soos enige ander paartjie, het Anerien en Henk Smit sterre in hul oë gehad op hul troudag. Min het hulle geweet watter beproewings dié jaar sou bring, maar ook met watter vreugde die jaar sou afsluit.

Anerien en Henk het mekaar in Maart 2014 ontmoet en dit was liefde met die eerste oogopslag. Op 28 Februarie 2015 is hulle in die eg verbind. “Daar was niemand so gelukkig soos ons nie. Ons geluk was ongelukkig van korte duur, toe ek drie maande later met ’n enorme skok uitvind dat ek op 24 limfklierkanker (Hodgkins lymphoma) het. Vyf dae later het ons boonop gehoor dat ek swanger was.”

Anerien vertel dit was ’n verskriklike tyd, want die dokters het beweer dat die baba abnormaal sou wees as gevolg van die narkose en bestraling van die CT-skandering. Ondanks dít het Anerien en Henk moed gehou dat daar geen abnormaliteite by hul ongebore baba sou wees nie. Op twaalf weke het Anerien vir ’n fetale assessering gegaan om seker te maak dat die baba geen blootstelling vanweë al die bestraling gehad het nie.

“My swangerskap is deurlopend baie goed gemonitor. Ek moes elke tweede Vrydag vir chemoterapie gaan en ná dit het ek my ginekoloog besoek sodat ons haar groei kon dophou. Die chemoterapie het haar groei belemmer, maar verder was sy gesond.”

Emosionele wipwaentjierit

Anerien sê dit was ’n ontsettende emosionele tyd vir hul gesin. “Ek kon glad nie ’n kalmeermiddel of pynpille drink nie. My liggaam het vreeslik gepyn van die chemoterapie. Henk het talle kere deurnag by my gesit om seker te maak dat ek okei is. Ek was ’n emosionele wrak en het sommer oor enigiets in trane uitgebars.”

Anerien vertel dankbaar hoe getrou hy haar gehelp het om hul seuntjie, Demetri du Plessis, te bad en kos te maak sodat sy niks hoef te doen nie. Hy was só geduldig en haar steunpilaar.

Om dinge te vererger, is Anerien se broer op 7 September daardie jaar oorlede. “Hy het dubbele longontsteking en brongitis gehad. Dit het sy hartspier aangetas en hy is aan hartversaking oorlede. Hy was maar 26. Ons was baie na aan mekaar, ons was soos een mens. Dit het baie druk op ons huwelik geplaas, want ons het alreeds al die emosies van die afgelope jaar probeer verstaan en verwerk.”

Finansieel het dit ’n enorme impak op die gesin gehad, want daar was talle doktersrekeninge en bloedtoetse wat nie deur die mediese fonds gedek is nie, asook brandstof na Pretoria en weer terug na Brakpan.

Geluk by die ongeluk

Met God se groot genade en honderde gebede, is die Smits geseën met ’n pragtige dogtertjie op 7 Desember daardie jaar. “Zoey is prematuur op 34 weke gebore omdat dit beter vir haar was buite my liggaam, wat chemoterapie ontvang het. Sy was ’n gesonde, sterk baba en het net sewe dae in die neonatale eenheid deurgebring.”

In Januarie 2016 het Anerien in remissie gegaan en hulle was só dankbaar dat hulle weer normaal kon aangaan met hul lewens. Teen Augustus 2016 was haar kliere egter weer geswel, met erge simptome van Hodgkins lymphoma.

“Dit het tot in my beenmurg versprei en is as fase 4 geklassifiseer. Ek en Henk het weer van voor af begin bid en hoop. Ek het baie gewig verloor en die moegheid het die oorhand begin kry.”

Daar is weer begin met chemoterapie vir vier maande lank, waartydens sy een keer per week elke maand in die hospitaal moes wees. Ongelukkig het dit nie gewerk nie en moes hulle oorskakel na ander chemoterapie. Genadiglik was dit suksesvol en kon sy ’n beenmurgoorplanting kry.

Geloof hou ons sterk tot hier

Ten tye van dié onderhoud was Anerien in isolasie in die Pretoria-Oos Hospitaal, waar sy op 25 Augustus ’n beenmurgoorplanting ontvang het. “Dis moeilik, ek was vir een week in die hospitaal vir chemoterapie, waarna ek eers die beenmurgselle kon ontvang. Hulle kon nie my eie beenmurg gebruik nie, want my liggaam het al te veel chemoterapie gehad. My ma, Ansie Erasmus, was die beste kandidaat, so sy is my skenker.”

Sy vertel sommige dae is makliker as ander, maar oor die algemeen is dit bitter moeilik sonder haar kinders. “Demetri is nou vyf jaar oud en Zoey 21 maande, en dit breek my hart omdat ek hulle nie nou kan sien nie. Ek mis my man en kinders verskriklik. As dit nie vir die Here en my en my man se sterk geloof was nie, sou ons nie nou so ver gewees het nie.”

Wanneer Anerien in die hospitaal is, help haar skoonma, skoonpa en skoonsuster vir Henk met die kinders. Haar ma is ’n enorme steunpilaar, asook haar peetma, Annetjie Lawson.

“Ek het die beste man”

In die twee en ’n half jaar wat Anerien en Henk getroud is, is hul huwelik deur diep waters. “Ons is deur ’n rowwe paar maande, maar ek verruil my man en kinders vir niks nie. Ons het al soveel deurgegaan, maar ons band raak elke dag net sterker. Ons het saam gegroei in ons geloof, in ons menswees en die belangrikste van alles, ons respek vir mekaar.”

Sy voel as daar raad is wat sy vir mense kan gee wat deur beproewings gaan, is dit om altyd positief te wees, ongeag wat gebeur. “Ons probeer ons bes om elke dag positief te bly, want positiewe gedagtes wek positiewe dade. Al hoe ons oor hierdie struikelblokke kan kom, is saam én saam met God.”

Hulle het elke aand Bybelstudie-tyd en bid saam en respekteer mekaar met alles wat hulle doen. Anerien sê Henk is ’n fantastiese man, wonderlike pa en hardwerkend. “Ek haal my hoed vir hom af en dank daagliks die Here vir hom in ons lewens. Ek het beslis die beste span wat dié stryd saam met my veg en elke dag raak ek net sterker. Dis belangrik om elke liewe dag te bid en nie net te vra vir genesing nie, maar die Here te dank dat jy gesond kan word.”

Artikel deur YOLANDA WESSELS