As jy gedink het die dag wan­neer jy trou, raak hande vashou iets van die verlede, dink weer. Dit is noodsaaklik vir ’n wenhuwelik!

Vir in geval jy dit nou nog nie weet nie – aanraking is vir Vroulief so belangrik soos wat dit vir jou is om die perfekte braaivleisvuur te stook. Of jy nou haar hand vashou, jou hand op haar been sit, haar van agter af by die opwasbak omarm . . . (ja, dit was nie ’n tikfout nie – omarm, nie opwarm nie!). Vroue begeer om gereeld in kontak met hul mans se lywe te wees. Hmm, ons weet wat nou deur jou brein gaan! Maar on­gelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Die sleutelwoord hier is nie-seksueel. Ja, natuurlik is seks vir haar lekker, maar sy wil beslis nie voel asof dít al is waarvoor sy goed genoeg is nie!

In 1963 het die Beatles gesing: “When I’ll feel that something, I want to hold your hand”. Vandag is lirieke veel meer eksplisiet, en hande vashou vorm nou nie juis deel van Justin Timberlake se vuurwarm liedjies nie.

Gelukkig is dié romantiese gebaar nog nooit deur die seksuele rewolu­sie bedreig nie, meen Dalton Conley, ’n professor en voorsitter aan die departement Sosiologie by die New York Universiteit. “Dit gaan minder oor seks en meer oor ’n openbare demonstrasie van paartjie-wees.” Om iemand se hand vas te hou, is om aan daardie persoon liefde, beskerming of vertroosting te bied. Dit is ook ’n manier om te kommu­nikeer dat jy nie beskikbaar is nie. Dit is boonop ’n praktiese manier om seker te maak dat jy en jou maat mekaar nie tussen ’n groot skare mense verloor nie!

Hou mense deesdae so gereeld hande vas as voorheen? Dalton sê hy dink nie so nie. “Ek sien meer mense op hul selfone praat as hande vashou. In ’n sekere mate verruil ons aangesig-tot-aangesig verhoudings waar daar aanraking en lyftaal is, vir elektroniese verhoudings.”

Is dit belangrik? Beslis. Selfs ape verstaan die noodsaaklikheid van ’n handdruk elke nou en dan. In Good Natured: The Origins of Right and Wrong in Humans and Other Animals het dr. Frans B.M. de Waal, ’n primatoloog, geskryf dat sommige ape handehou in versoening ná ’n bakleiery. Daar is ook bevind dat menslike aanraking baie belangrik in vreesaanjaende situasies is. Wan­neer jou eggenoot jou hand vashou, hou jy op om na ander gevaartekens te soek, en voel jy veiliger.

Om jou vrou se hand vas te hou, kan wys dat alles nie verlore geraak het in die rotresies nie, en dit kan haar daaraan laat dink dat nét jy en sy daar was, vóór die kinders, huis, rekeninge en hond ook daar was . . .

Hou mekaar se hande vas wanneer julle in ’n winkelsentrum loop. Steel oomblikke daarvoor en onthou – dit is nie betekenisloos nie. Dit kan jul huweliksband versterk. Ons gebruik handevashou as ’n voorbeeld, maar daar is verskeie vorme van niesek­suele aanraking, soos drukkies, om na aan mekaar te sit, om mekaar vas te hou, om mekaar te streel, om jou hand op jou maat se skouer te sit, ensomeer.

Huwelikskenners meen dat niesek­suele aanraking en ander maniere van toegeneentheid ’n huweliks­verhouding versterk. Dit skep ook ’n vertroostende en kalm atmosfeer in jou huis. Dit bou vertroue tussen julle en verdiep jul intimiteit met mekaar. Waarvoor wag jy?!

 Addisionele Bronne: www.nytimes.com; www.webmd.com; www.marriage.about.com