Daar het die naweek iets in ons huis gebeur wat ek nie uit my gedagtes kan kry nie. My man was nog altyd lief vir kuier saam met sy vriende – al vandat ek hom ken, maar hy het rustiger geraak vandat ons weggetrek en ek gekraam het. Dié naweek was ons dogtertjie se eerste verjaardag en ons hele huis was vol mense – oud en jonk!

Teen so drieuur die oggend het ek nog wakker gelê en geluister hoe almal buite kuier. Ek het heeltyd gestres oor die arme oumense en gaste met kinders wat deur die geraas probeer slaap, en het toe mooi vir een van sy pelle by die kroeg gaan vra of hulle nie eerder wil huis toe gaan nie – ons kan mos môre weer kuier.

Dit was asof daar ’n bom in my man afgegaan het. Hy het op my begin skreeu en vloek. Hy het bitterlik lelik gepraat. Sy oë was bloedrooi en hy was baie dronk. Ek het niks gehad om vir hom terug te sê nie, want ek was só geskok. My man het nog nooit só met my gepraat nie. Ek het die hele nag om gehuil en die volgende oggend lank gesukkel om die pofferige ogies reg te kry!

Ek weet nie wat om te doen of hoe om te maak nie. Die volgende oggend kon hy niks onthou nie. Hy het my nie geglo toe ek hom vertel nie – tot sy vriend vir hom gesê het wat hy gesê het. Die aand in die bed het hy vir my gesê hy is baie jammer. Ek waardeer sy verskoning baie, maar dit neem nie die prentjie van sy rooi oë en gevloek uit my kop nie. My hart is stukkend en ek kan nie ophou huil nie. Van sy kant af toon hy nie liefde nie, so dit voel nog erger – asof hy nie eers omgee nie! Wat moet ek doen?

Wilmé Steenekamp, ’n mediese dokter, antwoord:
Dit moes ’n baie nare ondervinding gewees het! Dit is vir seker iets wat julle aan sal moet werk. Dit is dié soort insident wat geweldig baie emosionele bagasie en onbewuste wrokke kan nalaat – net om later op ander maniere te voorskyn te kom. Kortliks: Dit is belangrik dat julle daaroor moet kan praat sonder om mekaar te beskuldig of aan te val. Elkeen moet ’n kans kry om hul belewenis van die situasie te deel, terwyl die ander een net luister (ook sonder om aan te val, te beskuldig of enigiets te probeer verduidelik).

Dit geld vir elkeen se belewenis van vóór jy met die gaste gaan praat het, toe jou man begin skreeu het, toe jy hom daarvan vertel het en hy nie onthou het nie, en nou dat hy nie liefde toon nie (soos jy dit beskryf).

Dan behoort elkeen seker te maak hulle weet wat vir die ander een swaar was van die situasie. Elkeen moet kan begrip toon vir wat vir die ander een moeilik was. Indien dit klink asof hierdie tipe gesprekke vir julle baie moeilik gaan wees, moet julle beslis hulp kry by ’n professionele persoon!