Dit is die twee girls wat na aan jou hart lê. Dit is die enigste twee vriendinne wat maar jou man mag verlei. Onselfsugtig laat hulle jou op jou beste lyk. Hulle is vooruitstrewend en die voorstanders van vroulike kurwes…

Party van ons spog met ’n diep klofie wat enige boesem na besigheid laat lyk. Ander meen hulle het ’n bietjie hulp nodig, of is dolgelukkig met hulle onopsigtelike bates. Maar hetsy hulle soos rosyntjies, pomelo’s of waatlemoene lyk, jou borste is jou trots en het selfs meer sorg nodig as die res van jou liggaam. Dit is nodig dat jy hulle in diepte ken.

Borskanker is ’n skokkende realiteit van ons samelewing en die mees algemene kanker onder vroue in Suid-Afrika. Tussen 60% en 80% van al die borskankerpasiënte by plattelandse klinieke het lokale gevorderde borskanker omdat daar so ’n lae vlak van bewustheid heers (www.breasthealth.co.za). Dít is waarom Oktober as borskankermaand só ’n belangrike rol speel. Dit is egter nie die enigste maand wat jy borsbewus behoort te wees nie. Die kans dat iemand ná aan jou waarskynlik al met borskanker moes worstel is baie goed, maar dit is belangrik om te weet dat die siekte betyds bespeur kan word en dat jy ’n rol kan speel hierin.

Borskanker-kenners stel voor dat elke vrou ‘borsbewus’ moet wees. Afgesien van ’n gereelde doktersbesoek vir ’n ondersoek en ’n mammogram elke jaar, moet jy letterlik in voeling wees met jou borste, sodat jy dadelik kan agterkom wanneer iets nie pluis is nie.

Daar is nie so iets soos ‘normale’ borste nie. Elke paar borste lyk anders wat grootte, vorm, tekstuur en fermheid betref. Die geheim lê daarin dat jy weet hoe jóúne lyk, sodat jy kan agterkom die oomblik wat dit nié meer so lyk nie. Borsbewustheid beteken dat jy bekend moet raak met hoe jou borste voorkom en voel, sodat jy enige veranderinge onmiddellik aan jou dokter kan rapporteer. Die Amerikaanse Kankervereniging meen selfs dat borsbewustheid belangriker is as die formele bors selfondersoek waarmee almal bekend is. Dít is blykbaar omdat bors selfondersoeke in die verlede baie vroue deurmekaar gemaak het. Hulle was ook nie seker of hulle dit reg doen nie en baie het dit glad nie gedoen nie. Daar is boonop bewys dat die meeste vroue ’n knop ontdek terwyl hulle met hul daaglikse aktiwiteite besig was, soos om aan te trek of te stort. ’n Bors selfondersoek kan egter nie skade doen nie en as jy dit uitvoer, sowel as om borsbewus te wees, kan jy seker wees jy doen alles moontlik om die siekte te help voorkom.

Om ’n bors selfondersoek te doen, stel jou voor jou bors is ’n lemoen wat in vier dele gedeel kan word. Hou jou regterarm agter jou kop en gebruik drie plat vingers van jou linkerhand om elke segment te masseer. Gebruik ligte, dan ferm druk in elke area sodat jy bo-op die oppervlak, sowel as dieper in die borsweefsel kan voel. Bring jou regterarm na jou sy en, met jou linkerhand, ondersoek vanaf jou borsbeen tot onder jou bra-lyn en armholte. Herhaal met jou ander bors. Vir vroue wat pre-menopousaal is (met ander woorde diégene wat steeds hul maandstonde het) is die beste tyd om aan hul borste te raak, direk na ’n menstruele siklus. Dan is die hormoonvlakke laer, wat borsweefsel sagter maak, en daarom is dit makliker om enige veranderinge op te spoor. Baie hiervan dui glad nie op kanker nie, maar as jy ’n andersheid opmerk wat langer as twee weke duur, stel jou dokter dadelik hiervan in kennis.

Borsbewustheid vereis nie enige spesifieke tegniek of spesiale onderrig nie. ’n Vrou moet net haar liggaam goed ken. Raak jou borste gereeld aan en ondersoek hulle om só bekend te raak met hul voorkoms en hoe hulle voel. Daar is geen regte of verkeerde manier om dit te doen nie. Aanraking kan wissel van onbewustelike, informele aanraking tot bewuste aanraking om te voel vir enige veranderinge. Knopperige borste is byvoorbeeld heeltemal normaal. Maar as jy knoppe opmerk wat voorheen nie daar was nie, besoek dadelik jou dokter. Jy kan jou borste in die bad of stort aanraak, wanneer jy aantrek, staan of lê. Onthou, jou kans op borskanker is groter as jy bo veertig jaar oud is, ’n familielid met borskanker het, vantevore die siekte gehad het, nooit ’n kind gehad het nie, jou eerste kind ná 30 gehad het of slegs vir ’n kort tydperk geborsvoed het.

Let op na die volgende veranderinge wanneer jy jou borste ondersoek: ’n Knop of massa in jou bors, vergrote limfkliere in jou armholte, veranderinge in borsgrootte en -vorm, veranderinge in jou veltekstuur of –kleur, rooiheid en pyn in ’n gedeelte van jou bors (wat nie met maandstonde gepaard gaan nie). Ander tekens sluit in: Kuiltjies of duikies in jou bors, tepelveranderinge of -afskeiding, afskilfering of uitslag en ’n tepel wat in een rigting trek.

As jy tussen 20 en 39 jaar oud is, is ’n kliniese borsondersoek elke een tot drie jaar nodig. Vanaf die ouderdom van 40 is ’n jaarlikse mammogram en kliniese borsondersoek noodsaaklik, so lank soos wat jy gesond is. En as jy weet jy het ’n hoë risiko (soos ’n familiegeskiedenis van kanker, ’n genetiese predisposisie of voormalige borskanker) moet jy met jou dokter praat oor die voordele en beperkinge daarvan om vroeër mammogramme te ondergaan en addisionele toetse te doen. (’n Mammogram masjien is ’n spesiale X-straalmasjien wat gebruik word om te ondersoek, sowel as om te diagnoseer. Die bors word platgemaak op ’n spesiale masjien om ’n helderder foto te verseker en die proses neem slegs ’n paar minute.)

Hoewel daar nie veel meer is wat jy kan doen om jou risiko te verlaag nie, kan jy lewenstyl veranderinge maak. Meer navorsing is nodig om ’n verband daar te stel tussen dieet, oefening en borskanker, maar alle vroue word tog aangeraai om ’n gesonde, gebalanseerde dieet te volg, ryk in vrugte, groente en volgraanprodukte. Beperk jou alkoholinname, behou ’n gesonde gewig en oefen gereeld.

Onthou, jy kry net een paar – ken hulle, koester hulle en pas hulle op!