Die egskeidingsyfer gee negatiewe publisiteit aan die huwelik as instelling. Waarom sou jy nog enigsins wáág om te trou as die kanse so goed is vir jou en jou maat om te skei? En dit boonop in ‘n samelewing waar die stigma rondom saambly en buite-egtelike kinders heeltemal verdwyn het. Is die huwelik nog enigsins die moeite werd om te trou?

Die huwelik is ‘n eeue-oue tradisie wat vandag steeds in gebruik is. Vra jy sommige paartjies hoekom hulle trou, is dit een van die redes wat aangevoer word: “Dit is tradisie om te trou. Almal doen dit. Dit is die volgende stap …”

Goed, daar is wonderlike tradisies wat ons vandag steeds aanhang. Om kersies op ‘n verjaardagkoek dood te blaas, is ‘n tradisie wat uit die agtiende eeu in Duitsland dateer. En as jy jou sente in ‘n wens fontein gooi, neem jy ook deel aan ‘n eeue-oue tradisie. In ons kultuur is dit tradisie om ouers te vra voor jy aan ‘n meisie verloof raak. So ook is Sondagmiddag skaapboud, rugby en biltong, “oom en tannie” alles tradisies.

Maar alle tradisies is nie skadeloos en soveel pret nie. In Sjina byvoorbeeld is dit tradisie dat ‘n man sy swanger vrou oor vuurwarm kole die huis indra om toe te sien dat sy ‘n maklike en suksesvolle kraam-belewenis sal hê. En wanneer jy as ‘n Sateré-Mawé stamlid in Brasilië op 12 jarige ouderdom ‘n man word, moet jy deelneem aan ‘n eeue-oue ritueel, wat behels dat jy ‘bullet ants’ met jou hande moet versamel sodat jy as’t ware ‘mier-handskoene’ dra. Jy moet hierdie ‘handskoene’ twintig keer vir tien minute op ‘n slag dra terwyl jy ‘n spesiale dans uitvoer. Om deur so ‘n mier gesteek te word, word vergelyk met die pyn wat jy beleef as jy deur ‘n koeël getref word (vandaar die naam).

As jy dus die huwelik voorstaan omdat dit ‘n eeue-oue ‘tradisie’ is, moet jy dalk weer mooi dink. Die ‘tradisie-rede’ loop hand-aan-hand met die feit dat mense graag doen wat hulle ander sien doen. Die jong meisie wie se beste vriendin besig is om haar troue te reël, se vingers jeuk skielik baie meer om die bewoording van haar eie uitnodigings te tik.

In die tydskrif, Influence, skryf Robert Cialdini dat sosiale bewysstukke een van die ses sterkste invloede is as dit kom by besluitneming. Mense wil graag doen wat hulle ander sien doen. Hulle wil ook graag hê wat ander het, omdat dit hul status in die gemeenskap bewerkstellig.

Die huwelik as ‘n praktiese instelling

Eens op ‘n tyd was trou ‘n praktiese besluit. Dit het sin gemaak. Vroue het nie dieselfde regte as mans gehad nie (inherent is sy gesien as ‘n man se eiendom of besitting of slaaf). ‘n Vrou kon nie werk nie en het die finansiële sekuriteit wat die huwelik gebied het, nodig gehad. Daarteenoor het mans ‘n inkomste verdien maar nie erfgename gehad nie – vandaar die vanselfsprekende ruiltransaksie.

Dit is ook deur die jare, soos hierbo, gesien as “iets wat jy doen wanneer jy groot is”. Deur die jare is die huwelik ook gesien as ‘n statussimbool en dit was moeilik om die instelling te verlaat as almal jou beskou as deel van ‘n getroude paartjie.

Natuurlik het dinge heeltemal verander en is hierdie redes vir die huwelik geensins meer geldig nie. Sowat 60% huwelike word voorafgegaan deur ‘n periode van saambly. Die redes vir saambly verskil van paar tot paar en daar is baie paartjies wat glad nie die nut van die huwelik insien nie.

Tog, ten spyte van veranderde omstandighede is daar steeds miljoene mense wat jaarliks besluit om te trou. Die gedagte aan ‘n wettige kontrak, maak dit moeiliker vir ‘n paartjie om mekaar te verlaat. ‘n Huwelikskontrak word gesien as ‘n versekering vir jou huwelik en die ‘permanensie’ daarvan laat jou meer onafskeidbaar voel. Tog meen baie, is dit ‘n vals bron van sekuriteit omdat kontrakbreuk vandag algemeen is.

Verder lei die gedagte aan sekuriteit dikwels tot ‘n algemene gevoel van gemaklikheid. En, soos almal weet, lei gemaklikheid dikwels tot luiheid… en luiheid tot die mislukking van eens gelukkige huwelike.

Daar is mense wat beweer dat hulle wil trou, omdat dit ‘n veilige raamwerk bied waarbinne kinders groot gemaak kan word. Maar die pessimiste hou studies voor wat toon dat kinders dieselfde vaar – of ouers getroud is of nie, solank hulle saam onder een dak woon. En dan is daar mense soos Tara Parker-Pope wat in ‘n New York Times blog onder die titel “Do Kids Still Matter to marriage?” kyk na hoe die historiese patroon ten opsigte van kinders kry verander het. Waar ‘n lewe met kinders altyd sentraal gestaan het tot die norme van volwassenheid, die huwelik en die algemene ervaring van ‘n gesinslewe, raak ‘n kinderlose lewe vir vandag se paartjies al hoe meer algemeen. En waar kinders voorheen gesien is as ‘n voorvereiste, is dit nou ‘n leefstyl keuse. Mense trou nie meer om kinders te hê nie en hulle het ook nie meer noodwendig kinders wanneer hulle getroud is nie.

So, waarom trou?

Wanneer ‘n mens kyk na die argumente hier bo, lyk die keuse om te trou nie meer so waffers nie. Ja, daar is mense wat gekant is teen die huwelik en vir wie dié instelling nie sin maak nie. Baie mense wat geskei is, wil nie weer die kans waag nie en ander wag baie langer voor hulle die groot stap neem. In 2010 reeds het die Pew Research Center bekend gemaak dat slegs 50% van mense bo die ouderdom van agtien getroud is. In 1960 was hierdie syfer 72%.
Kom ons draai nie doekies om nie. Daar is té veel huwelike wat ongelukkig is. En té veel huwelike wat in die skeihof eindig. Die stigma rondom buite-egtelike kinders en saambly het verdwyn en die huwelik is beslis nie meer so ‘n eerbare instelling soos wat dit eens was nie.

Maar die gevolge van die huwelik bly positief.

Dit ís steeds die beste milieu waarbinne kinders groot gemaak kan word en die effek van die huwelik op kinders is baie positief! En hoewel daar baie mense is wat vandag kies om nie kinders te hê nie, kies die meeste pare tog wel om kinders te kry. Mens kan wel argumenteer dat kinders ewe gelukkig in ‘n saambly verhouding is, maar die feit dat ‘n kind se ouers in ‘n huwelik staan móét aan so ‘n kind meer sekuriteit bied as die moontlikheid dat enige party enige oomblik van die dag kan uitstap.

Die huwelik is goed vir die twee partye ook. Getroude mense leef langer, lei gesonder, gelukkiger lewens as enkellopendes en vaar finansieel beter as ongetroudes. Selfs seksuele bevrediging is beter binne ‘n huwelik as daar buite. “Seksuele intimiteit is ‘n gevolg van en katalisator vir emosionele intimiteit,” sê Todd O. Dufrenee op die blog thrivesingles.com. “Dit help om ‘n paartjie saam te gom in die wonderlike siklus van intimiteit wat lei tot seks wat lei tot verdere intimiteit.”

En om dinge ‘wettig’en finaal te maak, hou waarde in. Daar was ‘n studie waarin daar vir fotografie-studente gesê is dat hulle een van hul foto’s kon hou. Die een groep is vertel dat, sodra hulle hul keuse gemaak het, hulle nie van plan kon verander nie. Die ander groep kon enige tyd van plan verander. Later is daar van die studente gevra hoeveel hulle van hul foto’s hou. Resultate het getoon dat dié studente wat van besluit kon verander (en dus van hul besluit kon ontsnap) minder van hul foto’s gehou het as dié studente wie se besluite finaal was.

Die huwelik bring sekuriteit, vertroue, intimiteit, kommunikasie, geselskap, wedersydse aanvaarding en ‘n vlak van liefde en nabyheid wat moeilik beskryf kan word aan mense wat dit nie self beleef nie.

Die heel grootste rede…

Lees gerus weer Genesis 2:24: “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en hulle sal een word.” Dit is die grootste rede waarom ons steeds die huwelik voorstaan. Want dit was God se oorspronklike, ewigdurige plan en een van ons Skepper se briljante idees! Dit is hoekom alles wat binne ‘n gesonde huwelik gebeur, beter werk en meer suksesvol funksioneer, sonder dat ons eers veel daaroor hoef te dink.

Die huwelik is ‘n heilige instelling en daar vir almal wat dit wettiglik en in liefde wil binnetree, skryf Jeff Foxworthy op die webtuiste telllingthetruth.com. Dit is daar om ‘n man en ‘n vrou in reinheid en eerbaarheid te laat saamleef en om die mensdom te vergroot met Godvresende kinders. Dit is daar vir geselskap, vir gesondheid en vir gemak. En dit is daar vir die welstand van ‘n samelewing wat slegs sterk en gelukkig kan wees dáár waar die huweliksband geëer word. “Die waarheid is dat die huwelik goddelik, tydloos en beduidend is. Die huwelik is God se ewige doel vir die liggaam van Christus en dit sal so wees tot die dood ons skei.”

Ja, die huwelik het wel verander. Die dinamiek tussen paartjies het verander – in sommige opsigte ten goede en in ander opsigte minder goed. Die redes waarom ons trou het verander. Die huwelik is nie meer ‘n statussimbool nie (of dit behoort immers nie meer te wees nie) en dit is ook nie meer ‘n weg tot kinders kry nie. Dit is nie meer iets wat jy doen wanneer jy ‘n grootmens is nie. Die huwelik is ‘n baie bewustelike keuse. Jy doen dit wanneer en hoe jy dit wil doen. Jy doen dit omdat jy jou maat liefhet en jou liefde met jou sielsmaat wil vier.

Jy doen dit omdat jy jul lewens wil saam sement en jy doen dit omdat jy vertrou dat God ‘n baie spesifieke plan gehad het met Sy keuse om julle twee saam te voeg. Die huwelik is ‘n heilige instelling, ongeag van wat sommige mense glo. Dit is nie net ‘n transaksie op papier nie…

Wat ‘n voorreg het ons om deel te wees van ‘n tradisie wat soveel meer waarde dra as wat ons in ons menslikheid ooit kan begryp. Wat ‘n voorreg is dit om mekaar lief te hê en te sien hoe alles wonderbaarlik in plek val. En wanneer dinge nié in plek val nie, om te beleef hoe ‘n mens die steiltes as ‘n span kan trotseer, soveel beter as wat jy dit sou kon doen as jy enkellopend was.

Ja, die huwelik is ‘n goeie idee. God se goeie idee.

God se tydlose, ewige, briljante idee.

Addisionele bronne: www.jesusinstitute.org.za; www.psychologytoday.com; www.medium.com; www.tellingthetruth.org; www.telegraph.co.uk; www.25dates.com; www.thrivesingles.com