Min het Loré en Waldo Nagel geweet toe hulle mekaar in 2007 ontmoet, dat dít die begin van God se plan vir hulle was . . .

Onbewustelik was hul liefde reeds diep gewortel en was dit ’n maklike besluit om aan mekaar trou te beloof. Ná ’n huwelik van sewe jaar is hulle dit eens: “Dit was ’n gereëlde huwelik, beplan deur God. Ons is liewer as ooit vir mekaar, dis asof ons mekaar nog altyd geken het.”

“Die Here weet wie my vrou is” – Waldo

Voordat Waldo vir Loré ontmoet het, was hy byna vier jaar lank enkellopend. Tydens ’n gebedsvergadering in 2006 het ’n vriendin vir Waldo gevra hoe sy vrou eendag moet lyk. Waldo erken: “Ek het nooit vantevore regtig daaraan gedink nie, maar die antwoord het skielik vanself gekom: Sy moet lang, donker krulhare en sproetjies hê.”

In 2007 begin Waldo sy eie lewenstyl-onderneming, Applied Lifestyle. Dit mik om elke persoon binne sy konteks te help om sy lewe te verbeter en waarde daartoe te voeg. Waldo het gevoel dat hy lank genoeg alleen was en gereed was om sy maat te kry. “Ek het op die Here vertrou dat Hy weet wie my vrou is. Ek het gebid en gevra of Hy nie my vrou vir my wil gee op my verjaardag (10 Maart) nie.”

Op 9 Maart het die NG-gemeente Moreletapark hul Ester-konferensie gehou en daar het hy Loré vir die eerste keer vlugtig gesien.

“Ek het spesifiek geweet waarna ek op soek was” – Loré

As student op Stellenbosch het Loré met ’n wynboer uitgegaan. Hulle het Pretoria toe getrek, waar hy vir haar pa begin werk het. “Ons het alles saam gedoen, maar dikwels gestry oor geestelike dinge. Dit kon nie so aangaan nie.”

Terug in haar ouerhuis het sy opnuut die Here gevind en haar ma het voorgestel dat sy ’n brief vir God skryf waarin sy sê hoe haar man eendag moet lyk.

“Ek het vervul geraak met die Heilige Gees en kon baie spesifiek dié dinge neerskryf. Daarna het my ma die briefie in die laai gebêre en ons het daaroor gebid. Ek het ’n sterk gevoel gekry dat ek my man die volgende jaar (2007) sou ontmoet. Ek het die Here gevra dat as Hy die man op my lysie vir my gaan gee, daardie man my aan die arm moet neem en sê: ‘Loré, die Here het jou vir my gegee.’”

“Die Here is ernstig oor Sy beloftes” – Loré

Beide Waldo en Loré het op presies dieselfde tydstip vir die Here gesê dat hulle nie meer wil date nie en hul het begin om mekaar te visualiseer. Loré sê: “Ek het gedink dit is profetiese woorde toe almal my gelukwens met my verjaardag in Januarie en sê: ‘Mag jy jou man hierdie jaar ontmoet!’”

Sy het ’n ring begin dra as teken dat sy met God getroud is en Hy haar oë vir ander mans sal sluit totdat die man wat die Here vir haar beplan het, oor haar pad kom. Sy het in mirre gebad om haar geestelik ryp te maak en die ramshoring soggens geblaas om te sê: “My time has come.”

Loré het die sale vir die Ester-konferensie verfraai. ’n Tannie het haar geskakel om die reëlings te bevestig. “Toe ek haar ontmoet, vat sy aan my hare en sê: ‘Jy het sulke mooi hare. Jy moet my seun ontmoet.’” En op pad na die konferensie het Loré se ma gesê dat sy haar ring maar kan afhaal, want daar gaan 7 000 vroue wees.

Maar tydens die oggend se verrigtinge het 300 mans die kerk ingestap met rooi vlae en blasende ramshorings . . . “Ek het die gevoel gekry dat my man tussen dié groep was. Toe ek later die vlaggies terugneem na dié einste tannie, stel sy my voor aan haar seun, Waldo. Vlinders het in my maag tekere gegaan, my hart het wild geklop en my keel het toegetrek. Op daardie oomblik het God die skille van my oë afgehaal. Toe sien ek my man vir die eerste keer.”

Op Waldo se verjaardag is al die vroue by die konferensie as God se Esters gekroon. ’n Vrou, geseën met die gawe van profesie, het ’n kroon op Loré se kop geplaas en gesê: “My kind, God sien wat jy in jou lewe doen. Hy wil jou beloon, jou man kom binnekort.”

“Die Here het ons geestelik laat ontmoet” – Waldo

Twee weke later het Loré ’n vergadering vir haar ouers se ontwikkelingsfirma bygewoon en wie het opgedaag? Waldo! Hy het die volgende dag projekplanne by hul huis kom optel en Loré het saamgery om hom te wys waar die huis is.

“In die motor het Waldo getuig oor sy lewe en ek het geweet hy is ’n man van God. Ek het moed bymekaargeskraap en hom vertel van my profesie by die Ester-konferensie: ‘Your husband is coming soon.’” Waldo het daarop geantwoord dat die Here vir haar gaan gee wat Hy belowe het. “Ek het geantwoord: ‘Ek dink Hy het.’”

En Waldo het haar aan die arm geneem en gesê: “Loré, die Here het jou vir my gegee . . .”

Gekroon as Ester

Na een maand het Waldo ouers gevra, hulle was drie maande verloof en agt maande later, op 2 November, is hulle getroud. Waldo het haar as sy Ester gekroon. Loré is ’n gekwalifiseerde patisserie-sjef en die trotse eienaar van The Baking Room. Hulle is ook geseën met twee kinders, Zia (6) en Xuan (5). Loré sê: “Ons geloof in God was die hele tyd in plek en dis waarom ons band nou só sterk is. Die Here onderhou wat Hy jou gee, Hy is daarvoor verantwoordelik.”

Waldo sê die boodskap was vir hom duidelik. “God wil elke man se hart steel, voordat jou vrou jou hart steel, sodat die fondasie reg is. Die hiërargie soos ek dit sien, is dat gees voor siel en liggaam kom. Die Here het ons geestelik laat ontmoet. Daarna het ons aan ’n sielsverhouding begin bou, tot ons getroud is en dit in ’n fisieke verhouding oorgegaan het.”

Sy vertel: “Beide van ons het besef dat alhoewel ons reeds ’n diep verhouding met Yeshua gehad het, Hy ons soeke na ’n maat gebruik om ons nog nader aan Sy liefde en openbaring te trek. Elke behoefte en situasie in ons lewens se uiteinde moet wees om nog nader aan Yeshua se hart te wees . . .”

Artikel deur Yolanda Wessels