Bybelfigure . . . wie sou ooit kon dink dat hulle stories soveel wyshede en diep spore in ons lewens kon nalaat. Ja manne, as dit kom by intimiteit, kan ons gerus stilstaan by ou Salomo, sy raad aanhoor, toepas en vroulief verras met nuwe woema, passie en sjarme. Dit werk – ek kan jou dit beloof!

Promosie

In verlede jaar se uitgawes het ek ’n kursus geskryf oor Hooglied. Ek moedig jou aan om dié geskrewe artikels uit die kas te ruk, af te stof en weer deur te werk. Intussen gaan ek kerngedagtes aanhaal en mag Salomo daardie onderdrukte passie wat so dormant in jou gesetel is, weer loslaat om vroutjie opnuut sprakeloos te laat.

Manne, maak notas – hierdie gedagtes maak wel ’n groot verskil in jou liefdesverhouding. Elke vrou is uniek en behoeftes verskil van persoon tot persoon. Ek kan jou wel verseker dat vroulief elke gedagte met ope arms sal verwelkom!

“Vertel my tog, my sielbeminde, waar laat u wei . . .”

Sy het behoefte na opregte koestering. Dit is nou byvoorbeeld daardie tye wat jy sonder enige bybedoelings styf teen haar gaan staan en net soos jý kan, haar ’n behoorlike druk gee.

Sy wil intimiteit beleef. Ons praat nie noodwendig van seks nie, maar van jou wat byvoorbeeld oor ’n laatmiddag koppie koffie saam met haar by die kombuistafel sit en diep dinge deel.

Sy wil in jou wêreld betrek word. Jy is haar held, deel jouself met haar. Sy wil nie hê dat jy in jou “grot wegkruip” wanneer dinge jou pla nie, maar dat jy jou gedagtes wel met haar deel.

Sy het ’n behoefte daaraan dat jy tyd vir haar sal maak. Moenie al jou vry oomblikke net aan jouself en jou pelle bestee nie. Daardie gholf-game kan wag. Sy het ook ’n behoefte aan gehaltetyd saam met jou.

“Hy het my in die wynhuis ingebring, en sy vaandel oor my was liefde . . .”

Haar behoefte is jou erkenning. As sy haar rooi rokkie aan het waarin sy vir jou so mooi lyk, sê dit vir haar. Sê ook vir haar iets moois as jy weet sy het haar hare laat sny en komplimenteer haar vir die mamma wat sy is. Herken haar vroulikheid.

Sy het ’n behoefte aan ware liefde. In Engels noem hulle dit woo . . . Jy moet jou vrou weer whoo . . . Gee haar ’n onverwagse vuurwarm soen, druk haar styf teen jou vas en kyk vir haar soos nét jy kan – daardie kyk wat haar laat bloos en haar knieë laat lam word.

Sy wil trots wees op jou. Jip, kyk hoe jy lyk, ruik en hoe jy jouself voor haar en ander gedra. Is jy bereid om daardie ekstra moeite steeds vir haar en net vir haar te doen met ’n opregte hartsgesindheid?

“Op my bed snags het ek gesoek na my beminde . . .”

Wees kreatief met jou liefde-sêgoed. Met vandag se media- en filmbedryf word liefde en seksualiteit tussen paartjies voorgestel as kitsbewegings. Dink kreatief, manne! Wat roer jou geliefde? Waarmee is sy gemaklik? Toe nou, probeer iets nuuts en roer haar hart wat uitroep na jou alleen!

Bemin haar, sy wil voel dat sy bestaansreg in jou wêreld het. Manne, ’n vrou het ’n ingeboude begeerte na jou alleen! Sy wil weet waar sy staan met jou. Moenie vergeet nie. Maak tyd, plek en ’n geleentheid om jul liefde te vier.

Herken haar kwaliteite. Praat met haar en gee eer waar dit nodig is! Manne, ons vroue het nodig om te hoor hoeveel betekenis en waarde hulle in ons lewens het. Dis nou hier waar jy jou arms om haar lyfie sit, haar styf vashou, diep in haar oë kyk en waardering toon.

“Hoe mooi en hoe lieflik is u, o liefde, onder al die gietinge . . .”

Laat haar weet sy is heeltyd in jou gedagtes. Wanneer jy haar sien, fluister saggies in haar oor hoekom sy dit vir jou doen. Vertel haar hoe mooi sy vir jou lyk, jy weet mos! Daardie unieke gedagte maak tog die wêreld se verskil.

Ag haar as jou waardevolste besitting. Ons is baie gesteld op ons waardevolle voertuie se waarborge wat onderhewig is aan dienste op die voorgeskrewe tye. Net so kan ons as huwelikspaartjies geen waarborg gee vir ’n gelukkige huwelik as ons nie tyd aan mekaar spandeer en ’n naweek per jaar afstaan aan ’n huweliksverrykingsnaweek nie. Toe nou, neem vandag die besluit en bespreek sommer nou vir die INTIEM-Immunadue bootreis en wakker daardie mooi tussen julle tweetjies weer aan!

“Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels . . .”

My samevatting en gevolgtrekking is soos volg: Wees jy vandag die pasaangeër van ware liefde en dalk, net dalk, kan jy heeltemal verras wees met waarmee vroulief vorendag kom . . .