Bybelfigure met hul dag-tot-dag liefdesuitdagings, lewenslesse en persoonlike oorwinnings bly vandag na soveel jare nogsteeds relevant en steeds ’n inspirasie! Manne, nou’s die tyd – sit lekker terug en bepeins bietjie hierdie belangrike waarhede rondom jou huweliksverhouding en laat vroulief sommer van vooraf lief raak op jou deur die betowerende maniere waarop jy haar jare gelede gewen het.

Al kos dit wat, elke mens, klein of groot, het ’n droom, ’n innerlike dryf wat hom in staat stel om passievol, sonder verwyte, doelwitte na te jaag en met tyd, te bekom. Jakob is ’n perfekte voorbeeld – hy het verlief geraak op sy droomvrou en alles op die prys gestel om hulle lewens met mekaar te deel. Klink dit soos ’n sprokiesverhaal? Vir seker nie! Sy lewensverhaal was vol uitdagings met hindernisse wat kon strek van hier tot in Timbuktu! Van werk- en omgewings uitdagings, tydskwessies, eksterne invloede en ’n uitdagende skoonpa. Dis alles maar ’n druppel in die emmer wanneer dit kom by Jakob se dag-tot-dag gestoei om sy geliefde Ragel aan sy sy te hê. Verhale wissel van persoon tot persoon, maar vandag kyk ons na dié tweetjies se lewenswandel opgeteken in die Bybel, en vertrou dat jy jou eie lewe met hulle kan identifiseer.

  • Jakob het net oë gehad vir een meisie. Maak vandag ’n kwaliteitsbesluit en sê vir vroulief sommer vandag nog hoeveel sy vir jou beteken. Verseker haar oor jou onvoorwaardelike liefde, jou bystand en omgee. Ja man, sommer so spontaan, selfs al kuier julle saam met gaste. Kyk haar in die oë en, op die regte oomblik, fluister saggies in haar oor hoeveel sy vir jou beteken. Kyk manne, nou’s haar voete behoorlik onder haar uitgeslaan en niks sal haar laat twyfel oor jul liefde vir mekaar nie. Elke vrou het ’n ingebore behoefte om deur haar man geliefd te wees. Wakker nou jou liefdes-passie aan en laat toe dat daardie ingeboude dryfkrag om lief te hê tot vervulling kom.
  • Jakob het nooit probleme persoonlik opgeneem nie. Vir sommige van ons is uitdagings deel van ons daaglikse lewens. Kyk na Jakob se lewe as voorbeeld, van ’n skoonfamilie direk uit ’n nagmerrie tot drome wat hom in die pekel laat beland het dié man was letterlik deur die meule! Dit kort moed om kragte van buite opsy te skuif wanneer dit daarby kom om doelwitte en planne met ’n huweliksmaat deur te voer. Maar wanneer jy hard fokus en gebruik maak van daardie einste liefdesbron binne jou, sal jy vinnig agterkom waartoe jy in staat is, wat jy kan doen en bereik! Ja man, kry weer daardie passie binne jou in werking, neem aksie en laat toe dat jou ingeboude dryfskrag inskop en vroulief op ’n reis neem waarvoor ander hulle voortande sou gee!
  • Jakob het teleurstellings oorkom. Met vandag se tipe lewenstyle, ervarings en besluite wat geneem moet word, kan ek onomwonde sê, hiérdie man het dit reggekry om ten spyte van slegte omstandighede, wel teen die einde tog oorwinning te behaal! Van sy skoonpa wat hom ingedoen het met hul besigheid en op verskeie ander vlakke, insluitend om nie sy woord te behou oor Ragel nie, en die geweldige teleurstelling om nie van die begin af kinders met sy sielsgenoot te kon hê nie. Iemand het eendag gesê, “Dis nie hoe jy begin wat bepaal wie en wat jy is nie, maar eerder hoe jy klaarmaak.” Jou finale prentjie stel jou in staat om daagliks deur moeilike omstandighede, te werk. Fokus dus op jou eind doelwitte. Stap-vir-stap sal jy wel jou bestemming bereik.
  • Jakob was ’n man van sy woord. Jong, hier is ’n lekker uitdaging vir almal! Manne, slaan ag op hierdie eienskap! Indien jy deur jou woorde ’n verwagting geskep het, gaan dit vir seker ’n ingesteldheid vra om dié verwagte prentjie te vervul. Onthou manne, woorde skep prentjies in mens se gedagtes, wees dus ingesteld daarop en versigtig om verwagtinge te kan vervul – anders slaap jy vanaand saam met Wagter op die stoep! Wees dus ’n man van jou woord!
  • Jakob het als wat teen hom gewerk het ten goede laat draai. Almal werk deur storms een of ander tyd, dalk vroeg in ’n verhouding, miskien later of selfs op dié huidige oomblik. Ek wil jou tog herinner dat daar wel ’n vervaldatum van swaarkry op jou lewe is. So, met jou verhouding in gedagte, weet dus – elke droom en mooi gedagte wat julle as paartjie gehad het oor julle verhouding kan bewaarheid word. Hou moed, daar is ’n seisoen van oorwinning wat vir jou gaan aanbreek! Net soos ’n sandkorrel eers die oester binne irriteer, vorm dit daarna ’n volmaakte pêrel. Jou huwelik is ook oppad daarheen!

Hoe ookal, Jakob het sy drome en uitdagings in volle werklikheid uitgeleef en ervaar. Ons moet elke dag die lewe vasgryp, al kos dit inspanning en deursettingsvermoë. Doen meer as wat van jou verwag word! Manne, doen meer as net bestaan – leef! Doen meer as net kyk – neem waar. Doen meer as net lees – absorbeer. Doen meer as net hoor – luister. Doen meer as net dink – bepeins. En laastens, doen meer as net praat -sê iets wat waarde toevoeg en lewe skep.