Met hierdie splinternuwe reeks kyk ons na bekende Bybelfigure, hulle oorwinnings, neerslae, uitdagings en lewenslesse wat jou as leser op ’n praktiese wyse touwys kan maak om jou huwelik lekker vroeg in die jaar met ’n hupstoot tot hoër hoogtes te neem.

Deel 1: ADAM EN EVA

En jy het gedink die Bybel het nie romantiese verhale nie? Ek verseker jou, hartroerende lewensverhale oor liefdesuitdagings, passies en konflikte binne die huwelik is volop! Ek vertrou dat jy met hierdie karakters kan identifiseer en hul lewenslesse saam met jou kan neem.

Was jy al op ’n plek waar jy gedink het dinge kan nou regtig nie beter nie? Die liefde van jou lewe is styf en veilig langs jou ingewurm, en die passie tussen julle is op ’n hoogtepunt sonder kommer oor finansies en alledaagse probleme.

Elke mens het in die een of ander stadium van sy lewe as kind of volwassene al beleef dat hy ’n sekere oomblik nooit sou wou laat verbygaan nie. Dan, skielik en onverwags, staan nuwe uitdagings voor jou deur om die magic binne sekondes voor jou te laat verkrummel.

Hou moed, dink aan Adam en Eva! Die een oomblik is alles in orde. Daar is geen kwaal nie en hulle het alles wat hul harte begeer, die liefde loop hoog en alle behoeftes word bevredig – en dan skielik, weens verkeerde keuses, loop alles vir dié tweetjies verkeerd. Elke voorreg wat hulle as paartjie in die paradys gehad het, kom skielik tot ’n einde. Dink net – alle voordele en luuksheid kom net daar tot ’n einde omdat verkeerde keuses gemaak is!

Ja, hulle het verseker uit jou en my perspektief ’n perfekte omgewing gehad, en tog, as jy die verhaal sou deurtrek na ’n meer realistiese wêreld waar ek en jy onsself beleef, sien ons dat dieselfde storie herhaal word op ’n daaglikse basis! Wanneer jy na ander kyk, lyk dinge altyd beter, mooier en verseker meer idealisties as jou eie lewe! Stop net daar. Herken wat jy het, waardeer wat jy besit en gee waardering aan vroulief, want as jy haar nie oppas nie kan jy alles in een oomblik verloor.

Kyk, die tweetjies het egter in ’n paar slaggate getrap. Ek sou jou graag wou aanraai om te leer uit hulle foute en tipiese lokvalle waarin jy jouself kan kry, los te maak en stappe te volg om jou te korrigeer, reg te maak en ’n toekoms van hoop na te streef! Hier volg ’n paar lewenslesse waar oom Adam en tannie Eva hulself mee bemoei het, veral ná hulle drooggemaak het. Jy kan hulle tekortkominge lewenslesse maak en van hulle leer. Om ’n oorwinnende lewe te lei, verg soms van ons om uit ander se foute te leer. Hier is hulle nou…

  1. Adam het sy swakheid weggesteek. As jy jouself in die moeilikheid kry, praat! Ontbloot jou onvermoë. Maak ’n sterk koppie koffie, haal diep asem en praat met die vrou wat jou altyd sal bystaan. Ek waarborg jou, in jou swakheid word Sy krag volbring.
  2. Adam het nie oop kaarte gespeel nie. ’n Bekende gesegde lui: “Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond.” Hanteer vandag nog daardie donker verlede. Skakel die lig aan oor die onderwerp en beleef hoe waarheid jou werklik kan vrymaak! Om jou agtergrond weg te steek, maak jou nie optimaal skerp en reg vir aksie nie. Inteendeel, dit beïnvloed jou gesondheid tot ’n groot mate!
  3. Adam was bang om te konfronteer. Spanning is ’n passion killer en daarom moet jy jouself instel om jou vrese direk te konfronteer. Staan jou man en weet dat oorwinning jou deelagtig is. Praat met ’n geestelike berader en oorwin vreesgedagtes wat jy vir jare al onderdruk. Sodra jy sien hoe maklik dit is, gaan jy my bedank, jy sal sien. Doen dit vandag nog.
  4. Adam het nie sy grond gestaan nie. Edmund Burke het gesê:“Evil flourishes when good men do nothing.” Manne, staan jou staan, gee struktuur aan jou gesin. Gee stabiliteit en elke aksie wat jy uitvoer, veroorsaak ’n langtermyn suksesverhaal.
  5. Adam moes weet, elke aksie het ’n gevolg. Ek kan jou verseker, niks kom sonder konkrete vooraf beplande moeite nie! Sit aksie in jou besluite, en laat die Here toe om jou en jou geliefde toe te rus om nuwe hoogtes in Hom te bereik.

Adam se foute het hom ten duurste gekos, sy perfekte omstandighede het gedraai vir die ergste. Leer uit sy foute, neem regte besluite en weet . . . Sy genade is vir jou genoeg!