Voel jy soms of iets tussen jou en Manlief skort? Jy kan nie jou vinger daarop lê nie, maar daardie ‘praat sonder woorde’ is net afwesig…wel, intimiteit kan ’n huwelik maak of breek, en seks is slegs een van die onderafdelings daarvan. Sonder spirituele intimiteit kan ’n Christen-paartjie nooit volkome een wees nie.

In die ou dae was huisgodsdiens so ’n deel van ’n Afrikaanse gesin, soos tuisgebakte beskuit en radioverhale. Gesinne was Sondae getrou in die kerk en die ouderling het gereeld kom huisgodsdiens hou. ’n Gesin se spirituele status het heel anders as vandag gelyk, waar Sondag vandag vir baie gesinne die enigste beskikbare tyd vir uitstappies en laatslaap is.

 Wat is spirituele intimiteit?

“Intimiteit is die deel van jou lewe wat jy slegs met jou maat behoort te deel, of dit nou intellektueel, spiritueel, emosioneel of seksueel is,” meen Barrington H. Brennen, huweliks- en gesinsterapeut. Intimiteit is so belangrik tussen ’n Christen-paartjie, veral as hulle al die seëninge wat God vir hulle ingedagte het, wil ontvang. Dikwels is dit egter die een ding wat Christen-huwelike kort, meen Gary Chapman, skrywer van die boek, Covenant Marriage (asook The Five Love Languages).

Gary kom verskeie paartjies teë wat individueel persoonlike groei ervaar, maar net nie die vreugde van spirituele intimiteit ken nie. Hy beskryf hierdie term as “die nabyheid wat volg wanneer huweliksmaats iets van hul eie spirituele pelgrimstog met mekaar deel.” Een van die redes waarom paartjies huiwerig is om hierdie aspek van hul lewens met mekaar te deel, is omdat hulle ongemaklik daaroor voel, maar Gary sê ons moet onthou dat die grond by God se kruis gelyk is.

“Spirituele groei is nie om méér kennis van die Bybel te kry nie; dit is om meer soos Christus te word. Ons hoef nie om verskoning te vra vir die huidige stand van ons groei nie. Ons moet eerder daarvoor oop wees om Christus in ons lewens toe te laat, en spirituele intimiteit kan eers ontstaan as ons na God draai en Hom vra om intimiteit in ons huwelik in te bou,” meen hy.

Hoe groei ’n paartjie spiritueel?

Die antwoord lê daarin om jou verhouding en die res van jou lewe aan God oor te gee. Tussendeur mallemeuleskedules en verpligtinge kan dit moeilik wees om ’n diep, spirituele konneksie te ervaar, maar elke paar het dit nodig en is dit aan hulself verskuldig. Vir die een paartjie is dit dalk genoeg om saam kerk toe te gaan en hande vas te hou. ’n Ander paartjie hou dalk daarvan om in stilte langs mekaar te bid.

Jody, ’n vyf en twintigjarige joernalis van Pretoria, vertel ook: “Ons pastoor het altyd vir ons gesê: ‘Couples that pray together, stay together…’, maar dit was eers twee jaar na ons huwelik dat ons besef het dat ons nie meer as net ’n paar keer per maand saam bid nie, en dan net wanneer ons regtig desperaat en mismoedig is. Wanneer ons wel saam gebid het, was daar ’n onbeskryflike gevoel van vrede en eenheid. Ons sien gebed as ’n erkenning dat ons nie alleen deur die lewe kan gaan nie – ons het God se hulp nodig!”

Die paartjie het in 2009 besluit dat dinge moet verander, hoe moeilik dit ook al sou wees. “Ek het ’n man wat vasgenael aan die bed wakker word, terwyl ek wakker word soos roosterbrood wat uit ’n toaster spring! Wanneer hy saans laat by die huis kom, is ek weer vasgegom aan die bank, terwyl hy gereed is vir ’n marathon Playstation-sessie. Nie een van ons was in die bui om leierskap te neem en ’n spesifieke tyd in te stel nie … ons het hulp nodig gehad! Eindelik het ons ’n boek deur Dennis en Barbara Rainey gekry, getiteld ‘Moments with you’, ’n 365-dag geestelike dagboek vir paartjies. Elke dagstukkie neem ongeveer tien minute om deur te werk, met ’n skriflesing, verduideliking, onderwerp van bespreking en riglyne vir gebed. Dit maak saambid soveel makliker as om vir geskikte onderwerpe te moet soek,en dit is perfek vir beginners, aangesien dit rigting gee oor die tyd wat saam bestee word.”

 Maak dit regtig ’n verskil?

Jody meen dit het beslis ’n verskil in hul huwelik gemaak. “Dit is ongelooflik hoe hierdie tye ons dwing om eerlik oor ons vrese te wees, omdat dit wat jy jou maat vra om voor te bid, veroorsaak dat jy oopmaak oor dít waarmee jy worstel. Eindelik versterk dít wat jy vir jou maat voel as jy gebed ontvang, en die vlak van sagtheid en begrip tussen die twee van julle ook om God in jul huwelik in te nooi. Dit is ’n fantastiese reis na intimiteit en verhoog ’n bewustheid van mekaar se emosies, hoop, strewes en drome,” vertel sy.

“Om in hierdie areas te bid en God vir hierdie dinge te vertrou, het ons huwelik op ongelooflike maniere versterk. Dit is hierdie gebed wat ons dikwels deur dae dra, wanneer die realiteit van dit waarvoor jy God vertrou, baie ver weg blyk te wees…”

Is spirituele intimiteit haalbaar?

Dit is, maar dit is nie maklik nie. Jy smag waarskynlik hierna (bewustelik óf onbewustelik), maar dit is die een deel van ’n verhouding wat die minste ontwikkel word, en dit verg tyd, oop kommunikasie, nederigheid en ’n begeerte om spiritueel te groei.

Behalwe vir die gees van die tyd, is daar verskeie ander vyande wat spirituele intimiteit ’n moeilike uitdaging maak. Besige skedules is een van die groot sondebokke. Hoekom beweeg ’n paartjie nader aan mekaar as hulle met vakansie is? Want die pas is stadiger en die fokus verskuif na mekaar. Verhoudings is natuurlik vol hikke en stote. Sonder goeie kommunikasie en gesonde konflikhantering, bou klein irritasies en frustrasies op, totdat dit ’n sak propvol woede tot gevolg het. Wanneer hierdie kwessies in jou borrel en kook, is dit moeilik om spiritueel te kommunikeer en dra dit tot nog ’n probleem by – ’n tekort aan vergifnis. As jou maat iets gedoen het waarvoor jy hom nie kan vergewe nie, blokkeer jy spirituele intimiteit, en voordat jy nie werklik kan vergewe nie, is spirituele groei onmoontlik.

’n Tekort aan respek is nog iets wat spirituele intimiteit bemoeilik. As jy en jou maat nie respek vir mekaar het nie, kan julle maar van spirituele groei vergeet. Onthou ook dat die duiwel die huwelik as die perfekte oorlogsveld sien.

Barrington noem verdere blokkerings vir spirituele intimiteit, byvoorbeeld afsonderlike finansies (julle het verskillende bankrekenings en nie ’n gesinsbegroting nie), persoonlike doelwitte wat bots en die bywoning van verskillende kerke…

 

Wat kan paartjies doen wat spiritueel saam wil groei?

  • Gaan na jul plaaslike, Christelike boekwinkel en koop ’n opwindende boek. Maak beurte om uit die dagboek te lees.
  • Bid saam, selfs al is julle kwaad vir mekaar. Gebed is ’n intieme ervaring, en dit is soms moeilik om vas te byt as daar konflik is, maar druk deur en bid saam.
  • As een van julle ongemaklik voel om te bid, kan een persoon die leiding neem.
  • Besluit vooraf waaroor julle wil bid en onthou die model van lofprysing, belydenis, danksegging en versoek.
  • As riglyn, probeer om jul gebede eers neer te skryf.
  • As jy skaam is om hardop te bid, lees gebede tot jy gemaklik voel om self te bid.
  • Hou julle stiltetyd op ’n tyd wanneer julle albei wakker en ontspanne is (“Vir ons is dit direk ná aandete,” sê Jody).
  • Skryf die datum bo-aan elke dagstukkie sodat julle kan tred hou met wanneer julle laas saam gebid het.
  • Gaan vir spirituele staptogte. Dit is anders as om bloot saam te stap. Maak dit ’n spirituele ‘stap’ deur slegs bemoedigend met mekaar te praat. Dit is boonop wonderlik om uit te kom en God se skepping saam te sien.
  • Gaan op ’n vas- en gebedsnaweek. Maak dit ’n naweek waar julle jul spirituele doelwitte bespreek en saam bid.

Addisionele bronne: www.store.familylife.com; www.lovefortoday.com