Kreatiwiteit is ‘n veel wyer begrip as wat jy dink. Nee, jy hoef nie ‘n Leonardo da Vinci, ‘n J.K. Rowling of ‘n Jimmy Choo te wees om jou kreatiwiteit uit te leef nie.

Ons almal is vriende met só ‘n paartjie – dalk is jy en jou maat self dié paartjie: Jan en San is voorspelbaar sover dit konflik aangaan. Sy sê iets (jy het geweet iewers deur die loop van die aand sou sy dit kwytraak), hy reageer daarop (jy het geweet hy sal op dié manier reageer) en voor jy jou oë uitvee, is daar ‘n reuse-rusie. Die trant is altyd dieselfde. Die uitkoms ook. Hulle praat vir drie dae nie met mekaar nie (gedurende dié tyd bel sy jou vir raad en vir ‘n ‘afpak’ sessie en haar man bel jou man). Dieselfde patroon herhaal hom nou al vir jare lank en dit is asof almal, behalwe hulle self, die patroon raaksien…

Elkeen van ons beskou sake op ‘n unieke manier en reageer op ‘n sekere manier – sonder om ooit ons waardes en beskouinge te bevraagteken. Ons aksies word aangevuur deur die manier waarop ons die wêreld beskou. Albert Einstein het gesê: “Jy kan nie probleme oplos met dieselfde ingesteldheid wat hulle geskep het nie.”

Op die webtuiste wanderlustworker.com skryf Robert Kanaat oor die mag van ons denke en noem dat dít wat deur jou gedagtes dwaal, jou kan help om die lewe van jou drome te manifesteer óf jou nader trek aan jou grootste vrese. Die meeste mense is egter nie bewus van die mag wat hul denke het nie. Ons gaan deur ons lewens, vasgevang in ‘n vaste ingesteldheid, sonder om te besef dat ons al hoe nader aan daardie ingesteldheid beweeg. Ons is ‘n produk van ons gedagtes. Maar ons is te geneig om in die verlede vas te val of die toekoms te vrees, sonder om te besef dat die aandag wat ons aan ‘n gedagte wy, ons kan help om daardie gedagte te realiseer.

“Op ‘n fundamentele vlak is gedagtes suiwer energie. Dit beweeg deur die sinapse van ons brein, en spring van een neuron tot ‘n volgende, beweeg van een tros tot die volgende teen die spoed van wit lig. Dit is ‘n onmiddellike proses… die brein is op die oomblik die kragtigste rekenaar ter wêreld.”

Dink daaraan: As jy elke dag van jou lewe vir jouself vertel hoe sleg jou huwelik is, hoe emosioneel afwesig jou maat is en hoe ongelukkig jy is, trek jy jouself al hoe nader aan daardie prentjie in jou kop. Jou gedagtes word jou realiteit.

Onthou jy toe jy jonger was en jy en jou maatjies gedroom het: “Wat as…?” Wat as hierdie wolke goud gereën het? Wat as daar regtig feetjies onder paddastoele woon? Wat as jy eendag regtig met ‘n prins trou? Wel, dit is dalk tyd om weer die “Wat as” speletjie te gebruik. Een van die gevaarlikste dinge in ‘n huwelik is wanneer ‘n paartjie in ‘n groef verval wat konflikhantering aan betref (tensy julle die perfekte metode gekry het – wat baie min van ons kan sê). Sommige kenners meen dit is ‘n goeie plan om ander moontlikhede te ondersoek sover dit konflikhantering aangaan (nee, nie ander moontilkhede vir maats nie, maar ander argumenterings-metodes!).

Op creativeconflictwisdom se blog, skryf Ann Arbor dat jy en jou maat bewus is van die ‘data’ van jul konfliksituasie. Jy ken ook jou belangstellings én jou maat s’n, so dit is tyd om kreatief te raak en met behulp van ‘n dinkskrum (brainstorming), die vraag “Wat as?” te ondersoek en so te kyk na al die moontlike maniere om die konflik op te los sonder om kritiek te lewer.

Wat as ons eerder die saak van ‘n ander hoek benader? Wat as jy reg is en ek is subjektief? Wat as ons ons huweliksterapeut se woorde weer in ag neem? Wat as jy eers praat en ek luister voor ek terug-antwoord? Wat as ons mekaar styf vashou voor ons rusie buite beheer raak? Wat as ons mekaar eerder nie voor die kinders slegsê nie?
Wat as ons nog ‘n keer probeer (dié keer harder as ooit) voor ons prokureur toe gaan?

Deur jou denke kreatief te gebruik, kan jy jou huwelik ‘n hupstoot gee of ‘n huwelik wat besig is om te vergaan, weer lewe inblaas. Kreatiwiteit is ‘n primêre en kritiese verhoudingsvaardigheid, meen Eve Eschner Hogan, verhoudingskenner en outeur op spiritualityhealth.com. Sy glo dat as ons kreatief in ons verhoudings te werk gaan, ons verskeie moontlikhede kan sien wat ons kan gebruik om dieselfde probleem op te los. Eerder as om mý manier of jóú manier te gebruik, kan die kreatiewe brein ‘n derde, vierde of vyfde oplossing uitdink.

Sy gebruik ‘n sisteem wat bekend staan as EROS en dit betekend Voorval (Event) + Reaksie (Response) = Gevolg (Outcome) en Oplossings (Solutions). “Wanneer ons nie kreatief of verantwoordelik dink nie, voel ons dat voorvalle gelyk is aan gevolge en oplossings, sonder om die reaksie-gedeelte in ag te neem. Ons dink dat as ons die eksterne voorvalle (of ander mense) kan verander, sal dit lei tot ‘n oplossing. Maar… as ons kreatiwiteit aanwend, sal ons besef dat, net soos kleure op die palet, gebeure en mense ís wat hulle is. Ons ware krag kom uit hoe ons die kleure meng en hoe ons reageer op daardie gebeure of mense. Ons kreatiwiteit laat ons ‘n ander ingesteldheid toe, waarmee ons verskeie reaksies kan ondersoek wat lei tot verskillende uitkomste en eindelik die oplossings.”

Gebruik die verlede as ‘n metode om hierdie kreatiwiteit te ontwikkel, meen Eve. Dink aan ‘n situasie wat nie uitgedraai het soos jy graag wou hê dit moes nie. Dink aan wat die oorspronklike voorval was en dink aan wat jy gekies het om te glo (jou ingesteldheid). Hoe het jy reageer? Wat was die uitkoms? Dink aan alternatiewe, kreatiewe opsies wat jy kon toepas as reaksies, in plaas daarvan, en gebruik jou verbeelding om te oorweeg wat die moontlike uitkoms kon wees.

Lys soveel moontlike reaksies soos jy kan en dink aan watter reaksies tot watter uitkomste/gevolge sou lei. Evalueer watter van dié sou lei tot die oplossings waarvan jy sou hou. Kyk na wat jy gekies het om te glo en probeer die teenoorgestelde dink (In plaas daarvan om, oudergewoonte, vir jouself te se: ‘Ek voel so afgeskeep’, vervang dit met die gedagte ‘Ek voel so geliefd’ en probeer dit inoefen). Dink aan soveel moontlik hipoteses soos wat jy kán (byvoorbeeld: ‘Ek voel soos ‘n koningin/Ek voel bewonder/ Ek voel oorlaai met aandag).

“Deur kreatiwiteit in jou geloofstelsel aan te wend, sal dit jou toelaat om te erken dat nét omdat jy iets glo, nie beteken dit is waar nie. Hierdie herkenning sal jou bevry om jou ingesteldheid te verander; en om jou ingesteldheid te verander is noodsaaklik om jou probleme te kan oplos.”

Eve meen dit raak pret namate jy gesout raak in hierdie oefening en jy begin besef hoe kragtig jy is as die skepper van jou denke. Probeer in die toekoms om nie te reageer op jou ou, voorspelbare manier nie, maar haal asem en oorweeg jou kreatiewe reaksies.

“As die prentjie van jou verhouding nie lyk soos jy wil hê dit moet lyk nie, maak ‘n paar veranderinge; voeg ‘n spatsel liefde, ‘n druppel deernis, ‘n tikkie verantwoordelikheid, of ‘n krul vergifnis by en verander jou verhouding in ‘n meesterstuk.”

www.spiritualityhealth.com