In Engels is daar ’n woord vir iets wat ’n jong getroude paartjie gou moet leer, waarsku kenners. Dit is ‘compromise’. Afrikaans het nie só ’n mooi woord hiervoor nie, maar in kort beteken dit dat jy soms agteroor moet buig ter wille van jou huwelik. Die geheim is egter: Jy mag nooit só ver agteroor buig dat jy jou rug seermaak nie . . .

Om te compromise is waarskynlik een van die moeilikste dinge om te doen. Want al is jy een van twee in ’n huwelik, is jy steeds één van twee. Met ander woorde: ’n Individu. En individue het verskillende voor- en afkeure. Die huwelik verg klein kompromieë . . . én grotes. Wanneer jou maat daarvan hou om vroeg in die aand te eet en jy gewoond is aan ’n laatnag-gepeusel, is dit nie so erg om maar ’n bietjie buigbaar te wees en jul etenstyd vroeër te maak nie. Natuurlik behoort hy dan byvoorbeeld bereid wees om soms sy gholf-game af te stel om Saterdag die kinders op te pas sodat jy ’n bietjie kan gaan inkopies doen – nie omdat jy dit verwag nie, maar omdat hy dit uit liefde vir jou wíl doen.

Eintlik gaan compromise daaroor om mekaar halfpad te ontmoet. Dit is ’n ooreenkoms wat bereik word deur middel van aanpassing. Jy is dalk gek oor een DSTV program en Manlief is ’n Discovery Channel-kanniedood. Die probleem is egter: Jul twee gunsteling programme word tegelykertyd op twee verskillende kanale uitgesaai. Julle tweetjies is pas getroud, daar is nie geld vir PVR nie en een moet meegee. Dalk hou hy van Pizza en jy hou van Susji. Dis take-away– aand – wie kry sy sin? Daar moet koppe bymekaar gesit word en miskien beurte gemaak word. Die dilemma is egter dat ’n mens ’n selfsugtige wese is en dis baie maklik om meer te wil ontvang as wat jy bereid is om te gee.

So, hoe bereik jy ’n kompromie met jou maat? Deur te besluit watter oorloë is die moeite werd, meen Gillian Reynoldts op Articlesbase.com. Jy moet besluit wanneer om jou man te staan en wanneer om toe te gee. Want soms raak kompromie opoffering . . . compromise is om te onderhandel sodat nie een van julle ingedoen voel nie. Opoffering is om iets te laat vaar wat vir jou kosbaar is, in die naam van ’n pligsgevoel. Albei is edel en noodsaaklik, maar baie huwelike kry moeilikheid oor die wanbalans tussen dié twee begrippe, verduidelik Rodney Southern in sy artikel Is your Marriage Filled with Compromise … or Sacrifice? (Associatedcontent.com).

Corey Allen, ’n gelisensieerde gesins- en huweliksterapeut en professionele lewens- en verhoudingsafrigter, meen compromise is wanneer elke party gelukkig wegstap. Maar, hy glo nie in compromise nie, omdat, sê hy, die meeste mense dit nie doen nie, en eerder ingee. “Die meeste mense, veral Nice Guys, pleasers en fixers, gee in om hul eie benoudheid en ongemak met konflik te bestuur. Hulle gee ook in met die hoop om hul maats gelukkig te maak. Die probleem is dat hulle net skade tot hulself en hul verhoudings aanrig. Elke keer wat ’n maat van ’n kompromie af wegstap met selfs net ’n bietjie ongelukkigheid, word die verhouding beskadig.”

Dít, sê hy, skep ’n atmosfeer vir verwagting. “Ek het ingegee en jou ouers gaan besoek al wou ek nie, so nou verwag ek seks in ruil hiervoor,” word gedink en soms gesê. Of “Jy het Saterdag gaan gholf speel, so jy beter opmaak daarvoor deur ’n bietjie meer in en om die huis te help”. Natuurlik skep dit ’n taai toffie-situasie want ’n huwelik werk nie op ’n puntestelsel nie. Dink hoe lekker sou dit wees as jy tien punte kon kry vir ’n kuier saam met sy vriende. Dan het jy geweet jy het tien punte krediet en volgende keer, as jou voete sleep en dis badtyd met die kinders, kon jy daardie tien punte terug-eis en op die bed gaan lê! Maar nou is daar natuurlik iets soos ‘onvoorwaardelike liefde’ wat die terug-eis so effens ’n no-go maak!
As jy iets doen met die doel om iets terug te verwag, gaan jy begin telling hou en geen verhouding sal ooit regverdig wees as jy dit doen nie! “In plaas hiervan, sal die tekort aan ‘teruggee’ frustrasie en teleurstelling skep. En al dié klein blokkies teleurstelling sal oor tyd opbou en ’n muur van veragting skep,” meen Corey.

Baie mense sal getuig van hoe iets wat as ’n kompromie begin het, eindelik ’n opoffering van hul kant af geword het, maar min kan van die teenoorgestelde getuig. Lani van Rensburg* vertel: “My man is die tipe mens wat maar altyd na ’n nuwe geleentheid sal soek en sy voete jeuk al lank om oorsee te gaan bly. Ek is ’n apteker en kry kort-kort poskaarte van apteekgroepe wat vra: ‘Wil jy in Amerika werk?’ Die poskaarte het voorheen in die asblik beland, maar eendag het Daniel* dit voor my in die hande gekry en voorgestel dat ons die geleentheid ondersoek. Ek was geheel en al daarteen gekant en dis waar ’n tweejaarlange worsteling oor die saak in ons huwelik begin het.”

Lani en Daniel se seuntjie was een jaar oud, hulle het pas uit hul huur-eenheid getrek en na ’n lekker woonhuis in Johannesburg begin soek. Sy wou settle en kinders grootmaak en Daniël wou die wêreld verower . . .

“Ons was op verskillende golflengtes, maar ek het toegegee en saam met hom na die eerste vergadering toe gegaan. In daardie stadium het ons ons droomhuis gekry en gekoop.” By die vergadering is die saak aan hulle verduidelik. Lani het ’n kennis daar raakgeloop wat in die proses was om te emigreer en dit het Daniel se missie aangevuur. Daar was ’n tweede vergadering. “Ek het saam gegaan om die vrede te bewaar, maar met die hoop en geloof dat dit sal oorwaai. Hy het gevra waar in Amerika ek sou wou bly, en ek het gesê: ‘Enige plek, want ek is nie van plan om te gaan nie.’”

Die volgende stap was dat sy moes inskryf vir haar aptekers-oorbruggingseksamen. Sy het geweier en die Pil gelos om weer swanger te raak. Vir drie maande lank het niks gebeur nie en het Daniel aanhou vra: “Gaan jy regtig nie inskryf nie?”. Die eerste eksamengeleentheid het verby gegaan. Sy het uit woede besluit om die eksamen te skryf en ’n jaar gehad om voor te berei. “Ek het uitgevind dat as jy die eksamen een maal geskryf het, dit nooit verval nie en toe maar besluit ek sal die moeite doen.”

Hulle het voortdurend daaroor baklei en intussen het sy swanger geraak met hul tweede kind. “Hy het aanhou sê dit is beter vir ons familie. Ek het gesê ons sou ver weg wees van familie, waarop hy geantwoord het dat ons nuwe vriende sal maak. Hy het gesê dis beter vir die kinders in Amerika want hulle het meer geleenthede daar en ek het gesê dit is beter vir hulle hier, met soveel mense naby aan ons wat ’n inspraak op hul lewens kan maak. Vir elke argument wat ek gehad het, het hy ’n teen-argument gehad.”

Hulle het gepraat en gepraat, maar kon nie tot ’n vergelyk kom nie. As hulle besluit het om te gaan, sou sy moes gaan werk terwyl hy die kinders sou moes oppas, aangesien hy nie sou mag gewerk het nie. Sy het haar eksamen gaan skryf en geslaag. “Dit was baie moeilik vir ons huwelik. Ons het die heeltyd baklei, ek was mislik en ek was so opstandig dat ek nie eers wou bid nie.”

Eindelik het Daniel besluit om te bly. Sy het haar brief aan die aptekersgroep geskryf, wat Daniel namens haar getik het, maar die brief het in sy rekenaar se outbox gelê. Hy het dit nooit gestuur nie . . . “Ek het toe begin agterkom hierdie man wil régtig gaan. Dit is asof hy dit nie kan stop nie . . . en ek het besluit om toe te gee. Om maar die opoffering te maak en te gaan. Ek wou dit in elk geval nie op my gewete hê dat ons hier bly en iets slegs gebeur nie.” Sy het dit vir hom gesê,
maar het hy gesê hy wil nie gaan as sy so ongelukkig is nie, want as albei nie positief oor die ervaring is nie, gaan dit nie werk nie.

“My kopskuif het gekom die dag toe my naam getrek is vir die Amerikaanse groen kaart. Hoewel ek nooit vir ’n teken gevra het nie, het ek besef dat hierdie dalk die teken is wat die Here my gee en dat hy dalk regtig vir ons ’n doel daar het . . .”

’n Groen kaart sou hul hele situasie verander sodat Daniel daar kan werk. Die papierwerk is in proses en hulle het nog nie die kaart nie, maar die uitkoms lyk positief. “Ons is op verskillende plekke in ons lewens en ek vertrou dat die Here dinge sal laat uitwerk want ons self kon nie tot ’n vergelyk kom nie. Ek weet ook dat as ons nie saam staan nie, dinge
nie gaan uitwerk nie.”

Daniel is bang dat sy net “ja” gesê het omdat sy moeg gebaklei was, maar, meen sy, dis nie die geval nie. “Vandag is dit my besluit ook. Die afgelope twee jaar was dit loutere hel en absoluut ’n opoffering, maar nou beskou ek dit as ’n compromise. Ek vertrou ook dat Daniel ’n sukses van enigiets sal maak en daarom sal ek enige plek saam met hom heen gaan. Ek het ook geleer: Al los ons die Here, los Hy ons nie. Ek glo vas dit sal uitwerk.”

Hoe hanteer jy kompromieë?
Begin deur te besluit of die kwessie gaan saak maak oor ’n dag, ’n week, ’n maand? As die antwoord “nee” is, kan jy maar ingee (dit is ’n baie wye meetinstrument en hang natuurlik af van situasie tot situasie). Wanneer dit kom by belangrike kwessies wat die dinamiek van jul verhouding kan verander, lyk ’n kompromie soms onmoontlik, maar dit is nie – daar is altyd ’n uitweg.

Berei jou kant van die argument voor en laat jou maat toe om dieselfde met sy kant te doen. Stel vas hoekom jy dink jy is reg. Gee mekaar dan kans om jul saak te stel sonder om die ander persoon in die rede te val en bloot te luister. As julle elkeen dit kan doen, is die kans goed dat jy jou maat se kant van die situasie sal insien. Dit gaan nie noodwendig ’n gevolgtrekking beteken nie, maar dit sal julle help om makliker ’n kompromie te bereik.

Ware kompromieë kan slegs bereik word wanneer twee mense wat ewe sterk is, hul behoeftes helder aan die ander persoon stel. Sterk, volwasse mense kan steeds die behoeftes en begeertes van die mense waarvoor hul omgee eerste stel, maar doen dit vanuit ’n plek van onafhanklikheid en nie ’n plek waar hulle hul vrese bestuur of die ander maat se goedkeuring soek nie.

Vra jouself: “Tree ek nou in liefde en integriteit op, of gee ek bloot in om die vrede te bewaar?” As dit is om die vrede te bewaar, bereik jy nie ’n kompromie nie. Jy maak ’n opoffering.

Addisionele bronne: www.ezinearticles.com; www.simplemarriage.net
*Skuilname

Artikel deur Annelize Steyn