Simon Rademan, skrywer van The Style Bible, is ’n meester met aand- en troudrag, en deel 2018 se mode- en stylneigings eksklusief met Intiem.

Ek sou as kind in die kerk in een van die heel agterste rye sit. Ek sou net-net betyds opdaag om gedurende die openingsgebed in te sluip en ’n plekkie vind waar niemand kon sien ek het presies dieselfde Sondag-klere aan as verlede Sondag nie, en dit terwyl ek geweet het ek sal seker die volgende Sondag weer dieselfde voorkoms hê – ’n reeds gebruikte een.

Ek sou nietemin baie trots uitloop en soms selfs hoop mense sien dat ek ’n “gebruikte” Bybel het, en nie dat slegs my das ’n ander kleur is nie, maar ook die huppel in my stap. Dit was ongelukkig nie só nie.

Wat ek nie geweet het nie, is dat ’n mens se voorkoms die eerste aantrekkingskrag sou bly en dat die uiterlike nie die innerlike moet triomfeer nie, maar dit moet komplementeer.

Voor my in die kerk sou altyd ’n dame sit met die grootste hoed wat ek altyd wou skuif, of ’n tannie met ’n ritssluiter agter wat nie tot heel bo gaan nie. Gereeld sou só ’n ritssluiter ’n hakie en ’n ogie hê wat nie eens vasgemaak is nie. Dit was nie omdat iemand noodwendig vergeet het om dit vas te maak nie, maar omdat die rok nie die regte passing sou hê nie en die hakie en ogie sou losgaan as sy nie regop sit nie.

Daar sou ’n man sit wat nie sy nekhare sny nie, wat hoes en snuif en sy neus blaas. En daar sou ’n paartjie wees met ’n baba wat op ongereelde tye sou begin huil of kreun, of selfs ’n doek-omruiling sou nodig kry. Slegs dan sou hulle na die moederskamer verdwyn, of die tannie sou haar sneesdoekie vir die oom aanbied, of die oom sou net buite gaan staan, waar ander mense sou staan en ’n vinnige rokie maak.

Vandag is hoede nie meer sigbaar nie, rokke het nie altyd ’n vasmaakmiddel nodig in die ritssluiter se nek nie en die landswet bepaal dat jy nie op sekere plekke mag rook nie, maar die kerke is ook leër as wat ek onthou. Dit is baie jammer, want dit wat hierbo as voorwaardes beskryf word, is juis die onvoorwaardelikheid waarmee ons in die openbaar moet verskyn – met selfrespek en respek vir die een langs jou.

Die volgende is ononderhandelbaar:
• Jy moet jou nekhare sny.
• Jy mag nie jou broek natmaak nie.
• Jou klere moet skoon wees.
• Jy moet mense respekteer.
• Dit maak nie saak waar jy in die kerk sit, in die straat loop of in die winkelsentrum kuier nie.

Dit is selfrespek.

Hoe jy lyk, klink en optree, is nie veronderstel om só belangrik te wees nie, maar dit is . . . Dit is ons menslike natuur. Dit is hoe ons geskape is. Ons moet egter enige persoon wat ons pad kruis, komplementeer EN komplimenteer. Die baba moes nie haar doek in die kerk natgemaak het nie, maar sy het omdat dit haar natuur is. Alle babas leer egter mettertyd om dit nie meer te doen nie, om self hul klere te kies en aan te trek, waar om te sit, waar om te staan, wanneer om hul neuse te blaas en te rook waar dit ander nie pla nie. Dit mag soos voorwaardes klink, maar ons is nie meer babas nie. In ’n ideale wêreld is dit bloot goeie maniere.

Dit is onvoorwaardelikheid.

Die mode is soms die teenoorgestelde. Dit sê jy moet sus en jy moet só “as jy wil in wees”. En as jy “jam” wil wees, moet jy gelek word. Maar geen tannie of omie kan vir jou voorskryf nie, want slegs jy sal weet wat jy moet kies om jou voorkoms ’n wenner te maak.

En DIT is styl!

Volg my gerus op sosiale media, Facebook, Twitter en LinkedIn by @simonrademan.
012 460 5106
www.simonrademan.co.za