Intimiteit is nie ‘n waarborg in jou huwelik nie. Dit is ‘n dinamiese proses en terwyl jy en jou maat by tye buitengewoon ‘close’ kan voel, is daar ook tye wat daar ‘n emosionele afstand heers… Ja, dit maak ‘n mens paniekerig, maar daar is twee dinge wat die situasie altyd kan beredder.


Daar was ‘n Volkspele-liedjie met woorde oor die ‘huwelik-skuit’ en die stormwinde wat die skuitjie kan laat omwaai… so, ons dink dikwels dat ons saam in dieselfde voertuig op hierdie lewensee vaar. As ‘n mens egter mooi daaroor dink, is ons eerder soos twee skippies wat deur ‘n tou verbind word. Saam met die seestrome dryf die bootjies by tye naby aan mekaar en met ander tye al hoe verder weg van mekaar, maar danksy die tou sal hulle mekaar nie verloor nie – tensy hulle met soveel krag in teenoorgestelde rigtings beweeg dat die tou eindelik breek. Dit is belangrik om met mekaar in voeling te bly wat emosionele intimiteit aanbetref. Om mekaar nie uit die oog te verloor nie. Daar is twee broodnodige elemente wat julle teen emosionele verwydering kan beskerm…

Anker nommer 1: Self-openbaring
Om te praat en te luister laat paartjies na aan mekaar voel en kan baie doen om mekaar te troos en op te hef. Ja, julle praat waarskynlik gereeld met mekaar, maar wáároor praat julle? Hoeveel inligting openbaar jy van jouself? Hoeveel van jou gedagtes, gevoelens, doelwitte, mislukkings, drome, vrese, voorkeure en afkeure deel jy met jou maat? Navorsing toon dat hoe meer paartjies privaat gedagtes en gevoelens met mekaar deel, hoe gelukkiger is hulle. Wanneer dit egter sleg gaan met ‘n huwelik, hou paartjies op om hierdie dinge met mekaar te deel en draai gesprekke slegs om koeitjies en kalfies. Daar is egter ook ‘n ander kant van die munt. Ewe belangrik as om hartsake met jou maat te deel, is jou maat se vermoë om daarna te luister en bevestigend daarop te reageer.

Anker nommer 2: Kwaliteit-tyd
Aan die begin van ‘n verhouding of huwelik kom dit maklik, maar mettertyd raak gehalte-tyd al hoe moeiliker om in jou huwelik te onderhou. Wanneer dinge soos finansies, kinders, beroepe en dies meer al jul tyd opslurp, raak gehalte-tyd al hoe belangriker. Dit beteken nie dat julle ure en ure in mekaar se geselskap hoef deur te bring nie, maar dat die tyd wat julle wel saam bestee, gehalte-tyd moet wees. Soms is dit daardie vyftien minute in die kar wanneer jy hom gaan haal ná sy kar vir ‘n diens ingegee is. Soms is dit die halfuur wat hy by jou sit en gesels terwyl jy bad. Min paartjies het die tyd om elke dag oorkant mekaar te kan sit en gesels, maar ons dink dikwels verkeerdelik dat kwaliteit-tyd daardie eksklusiewe een-tot-een gesprekke moet wees. Hoewel tyd voor die televisie, terwyl julle sepies inhaal, nie noodwendig as gehalte-tyd kan tel nie, is daar ander geleenthede waar julle besig kan wees met iets en terselftertyd ook kwaliteit-tyd met mekaar kan bestee. Dink aan tuinmaak, om saam ‘n kassie te restoureer, of om saam met die kinders buite te speel. Dit alles kan tel as kwaliteit-tyd.

Implementeer gerus hierdie twee dinge en jy kan seker wees jul bootjies dryf nie té ver weg uit mekaar nie. Anker jul intimiteit en julle sal op koers bly.