Kan die een sonder die ander? Waarskynlik. Daar is platoniese liefde en daar is liefdelose seks, maar vir ’n gesonde, Christen-verhouding is albei hierdie elemente broodnodig en onlosmaaklik van mekaar …

Jy het waarskynlik al van die getroude paartjie gehoor wat al vir tien jaar lank ’n sekslose bestaan voer, maar dolgelukkig is, aangesien hulle glo dat die nie-fisieke liefde tussen hulle genoeg is. En die getroude paar waarvan elke maat al tien jaar lank ’n buite-egtelike verhouding het met ’n maat wat aan hul fisieke begeertes voldoen, maar dat geen emosionele band of liefde tussen hulle bestaan nie. En dan is daar natuurlik die pienk olifant wat kan vlieg en die seuntjie wat met ’n boontjierank tot in die hemel geklim het…

’n Geurige huwelikslewe…

“Al ooit gedink hoe kos gaan smaak as jy net peper vir smaak byvoeg? Dit sal smaakloos wees, vars proe en miskien oneetbaar wees,” sê Leandie Buys, seksuoloog van Port Elizabeth. “Ons verskil almal in elk geval as dit kom by die hoeveelheid sout wat ons by kos voeg vir smaak. Sommige mense sal sommer baie sout oorgooi en ander weer minder, maar ons het almal nodig om ’n bietjie van die een en ’n bietjie van die ander te gebruik. Sout en peper gaan saam, hulle komplementeer mekaar en of ons dit wil weet of nie – só is dit met liefde en seks. Sommige mense mag dalk seks hê sonder liefde, maar wanneer daar liefde is, is seks soveel meer vervullend, intens en baie geuriger!”

Seks is oral teenwoordig en verkoop alles om jou. Van tandepasta tot luukse voertuie. Jy hoor van goedkoop, liefdelose seks tussen sogenaamde swingers, betaalde seks, one night stands en seksmaats met ’n sogenaamde ’verstandhouding’… Dit is waar – die samelewing se waardes rondom seks verskil, maar dat liefde en seks nie sonder mekaar in ’n gelukkige, vervulde verhouding kan bestaan nie, is ’n waarheid. Seks is wel ’n lyfspel wat vir baie mense tydelike liggaamlike bevrediging kan verskaf, maar op die lange duur is dit onmoontlik vir albei maats om hulself emosioneel te distansieer van die fisieke daad. Daar is ’n groot verskil tussen seksuele begeerte en liefde. Seksuele begeerte is ’n sterk, fisieke opgewondenheid, terwyl liefde ’n kragtige omgee vir iemand anders is. Hoewel die twee waarskynlik sonder mekaar kan bestaan, is dit bykans onmoontlik dat albei partye ten volle gelukkig kan wees sonder ’n verband tussen dié twee elemente.

Die noodsaaklikheid vir daardie spark

Onthou jy die eerste keer toe jy besef het daar is fisieke aantrekkingskrag tussen jou en hom? Karien Sanders (29) vertel: “Ek en Cobus was vir lank slegs goeie vriende. Ons het oor-en-weer gekuier en allerhande fun dinge saam gedoen. Ons kon ’n fliekmarathon inwerk en nagte om gesels sonder om aan mekaar te raak, maar ek onthou die eerste keer wat ons saam gaan tenpin bowling speel het. Ons kon daardie aand nie vriende kry om saam te speel nie en ek en hy het besluit om in elk geval alleen te gaan. Ons het só gelag en ná ek vir die soveelste keer daardie aand die bal heeltemal skeef gerol het, het hy nader gestap en gesê ek hou die bal verkeerd vas. Hy het sy hand onder myne gesit en dit is asof ek net daardie aand ’n onbeheerbare elektriese vonk tussen ons gevoel het. Daar was ’n paar oomblikke van stil ongemaklikheid omdat hy dit ook gevoel het. Dit het nog so ’n week geneem voor ons erken het dit was chemistry, maar sedertdien is daar geen keer aan ons nie. Ons is vandag al vier jaar getroud en ek kry steeds soms hoendervleis wanneer hy aan my raak.”

Karien se verhaal is só illustrerend van die feit dat seks en liefde onlosmaaklik deel is van mekaar. As sy en Cobus nie reeds daardie vriendskapsband gehad het nie, was die vonk tussen hulle hoogs waarskynlik nie so sterk nie – dit is omdat intimiteit reeds die grondslag vir ’n fisieke verhouding geskep het. Die gevaar is egter wanneer mense begin glo dat ware liefde nie sonder fisieke aantrekkingskrag kan bestaan nie en tot die gevolgtrekking kom dat as hulle hierdie intense gevoelens teenoor iemand koester, hulle die basis het vir ’n langdurige verhouding. Dit is nie noodwendig die geval nie. Liefde is ewe nodig.

Die noodsaaklikheid vir daardie dieper emosie

Sarah is in haar dertigs. Sy is aantreklik, suksesvol en professioneel. Vir die afgelope jaar is sy by ’n verhouding betrokke met ’n man wat ontrou is, haar nie respekteer nie en nie bereid is om met haar te trou nie. Tog, wanneer hy haar laatnag bel vir ’n sekssessie, haar verjaardag vergeet of bloot nie hul afsprake nakom nie, bly sy bereid en gewillig, ten spyte van haar algemene ongelukkigheid oor hul sogenaamde ’verhouding’. Hoekom? “Ek dink ek het goeie seks met liefde verwar. Ek voel hierdie intense chemie en fisieke intimiteit wanneer ons seks het, alhoewel hy my niks meer bied nie. Met tyd het dit my ongelukkig gelaat en my sleg oor myself laat begin voel.” In die artikel True Love and Chemistry: Exploring Myth and Reality, skryf Toni Coleman dat Kahlil Gibran die element wat hier kortkom beskryf as ’spirituele affiniteit’, die weggesteekte element van chemistry.

Dit is wanneer twee wesens mekaar ontmoet en op ’n dieper vlak konnekteer. “Dit kan slegs in die hart en siel gevoel word. Dit gaan oor vriendskap, respek, humor en die gevoel van warmte en genoegdoening wat kom wanneer jy in sy/haar teenwoordigheid is.”

Fisieke aantrekkingskrag geskied gewoonlik in die eerste fase van ’n verhouding. Dit kan mettertyd ontwikkel. Die chemiese stof wat ontstaan vanuit hierdie aantrekkingskrag (en wat dit intensiveer) is Peniel etielamien. Dit is ’n natuurlike amfetamien wat fisieke en emosionele energie stimuleer. Aantrekkingskrag veroorsaak dat ons meer van hierdie stof vervaardig en dít lei tot daardie vlinders-in-die-maag gevoel wat met romantiese liefde geassosieer word. Dopamien word ook vrygestel, ’n chemiese stof wat ’n begeerte om na aan mekaar en intiem gekonnekteer te wees, vergroot. Spirituele affiniteit ontwikkel oor die tyd heen en met herhaalde kontak, meen Toni. “Wanneer hierdie gevoelens na die oppervlak begin kom, vervaardig die brein endorfiene. Dit is meer soos morfien en veroorsaak ’n vergrote gevoel van kalmte wat angs verminder en help om verbintenisse skep. Soos wat verhoudings in hierdie fase inbeweeg, word dit gekarakteriseer deur gemak, toewyding en vriendskap.” Wanneer jy in ’n verhoudings met ’n sielsgenoot staan, vereis dit ten minste ’n mate van elk hiervan, maar dit is belangrik om te onthou dat die hoeveelhede in fases kom. Fisieke aantrekkingskrag gaan nie tot niet soos wat ’n mens ’n dieper verbintenis ontwikkel nie – dit mag nooit! Dit verander egter. Daardie intense emosies kan nie onderhou word soos wat ’n mens na toewyding en ’n gedeelde lewe beweeg nie, maar in gelukkige verhouding behoort daardie oomblikke van intensiteit steeds te bestaan (www.enotalone.com).

Kweek vaardighede vir ’n gesonde, suksesvolle verhouding

Daar kom egter tye wat jy voel dat een of die ander in ’n verhouding kortkom. Dit is normaal vir elke huwelik om deur hierdie fases te gaan. Leandie meen egter dat enige verhouding nie net op óf seks óf liefde kan voortbestaan nie en dat dit ’n kombinasie van albei is wat maak dat jy in ’n gesonde verhouding kan funksioneeer. Deur jouself die volgende vrae af te vra, kan jy tot so ’n verhouding bydra:

  • Weet wat jy nodig het: Dikwels betree mense ’n verhouding omdat hulle iets nodig het of behoeftes het wat vervul moet word. “Ons het ’n verwagting dat daardie behoeftes bevredig gaan word. Dit is verbasend hoe dikwels mense nie ’n idee het wat hulle nodig het nie! Weet jy wat jou behoeftes in ’n verhouding is?” vra Leandie. Gaan sit eenkant in ’n stil vertrek en skryf neer wat jy vanuit jou verhouding verwag. Wil jy sekuriteit hê? Verwag jy meer van sy tyd? Wat is dit wat jou vervulling in jou verhouding gaan gee?
  • Vra dat jou behoeftes bevredig word: “Dit is verbasend hoeveel kere ons die belangrikste persone in ons lewens straf omdat hulle nie ons gedagtes kan lees nie,” se Leandie. “Onthou, niemand kan weet wat in jou kop en hart aangaan nie, en tog voel jy baie keer so seergemaak en verloor jy die vermoë om te vertrou, omdat jou maat net nie jou behoeftes bevredig nie. Het jy al gevra dat jou behoeftes bevredig word? Nie opdrag gegee nie en dit nie uitgeskree nie, maar gevra? Weet jou maat wat jy nodig het en wat jy van jul verhouding verwag?”
  • Vra jouself af of jy jou maat se behoeftes bevredig: Volgens Leandie is dit nodig om te weet of jy regtig omgee dat jou maat se behoeftes bevredig word. “Jy sien, so balanseer ons dit – ons almal gee om dat ons eie behoeftes bevredig word, maar het ons regtig erg aan ons maat se behoeftes?”

Die algemene scenario klink dikwels so: ’n Man kla oor die seksuele droogte in sy huwelik. “My vrou wil net praat en praat en ek weet nie wat sy wil hoor nie. Sy wil hande vashou en in my ore koer, maar kom ons by die slaapkamer, gebeur daar niks!”

Daarteenoor sê die vrou dikwels: “Al wat my man wil hê, is seks. Hy wil nie met my praat oor wat in sy hart aangaan nie en daar is geen emosionele intimiteit nie, maar as die ligte afgaan, wil hy hê ek moet perform!”

Sien jy die ironie in hierdie situasie raak? As die een persoon ophou fokus op sy/haar eie behoefte, gaan sy/ haar eie behoeftes vanself vervul word. Leandie beskryf ’n vervullende, volwasse verhouding as volg: “Dit is ’n verhouding waarin beide mense gelyke regte, gelyke geleenthede en gelyke verantwoordelikhede het. ’n Goeie verhouding word basies daarop gebaseer dat elke persoon die ander een respekteer en dit duidelik kommunikeer. Onthou, mense het verskillende definisies van wat ’n vervullende, intieme verhouding vir hulle beteken.”

Só geur jy jou verhouding:

Volgens Leandie sluit van die eienskappe wat ons dikwels van ons maats verwag, die volgende sout en peper vir jou verhouding in:

  1. Ware liefde. Om waarlik lief te hê, beteken dat jy die intimiteit, passie en verbintenis tot die verhouding voeg, om dit deur goeie én slegte tye te onderhou.
  2. Intimiteit en seksuele onderdrukking. Verkeer sensueel met mekaar. Ons vergeet so dikwels om meer te konsentreer op sensualiteit eerder as seksualiteit. Wanneer laas het jy sy rug masseer of sy arm gestreel en werklik bewus geraak van jou eie sensus?
  3. Maak tyd om wanneer hy by die huis kom minstens tien minute saam te bestee en te gesels oor die dag se gebeure. Onthou om altyd ’ek-taal’ te gebruik wanneer julle van opinie verskil. Vertel hom wat gebeur het en hoe dit jou affekteer.
  4. Vir ’n verhouding om suksesvol te wees, moet beide individue die wil hê om die verhouding te laat werk. Onthou, goeie verhoudings gebeur nie net nie – hulle word geskep deur albei maats wat bereid is om daaraan te werk.
  5. Gelykheid en respek. Ja, hoewel die Here vir Adam voor Eva geskape het, is albei maats in die oë van die Here gelyk. Onthou, jou respek word verdien deur daad en optrede.
  6. Dit is belangrik dat beide van julle compatible moet wees. Ja, dit verg dat julle mense moet wees wat bymekaar moet aanpas, maar ook dat julle maats moet wees wat bymekaar kán aanpas. Die liefde is vol opofferings.
  7. In Engels word dit companionship genoem. Jy moet weet dat jy jou maat se kameraad behoort te wees. En hy moet weet dat jy altyd langs hom staan, dit maak nie saak wat gebeur nie. Hy moet geborge voel in jou teenwoordigheid.
  8. Emosionele ondersteuning. Dit geld vir daardie dae wanneer hy sy werk verloor (en teleurstelling ervaar), ’n verhoging gekry het (en bly is daaroor) of sy beste vriend hom in die steek gelaat het (wat waarskynlik woede teweeg bring). Dit is al daardie hoogtepunte en laagtepunte wat jou lewe nie noodwendig direk affekteer nie, maar ’n impak het op sy gemoedstoestand. Hy moet weet jy is daar vir hom en gaan hom nie verwyt of afjak nie.

Wanneer hierdie elemente teenwoordig is, is liefde uiteraard daar. Wanneer jy en jou maat ’n hegte band deel wat vervulling op elke gebied bring, sal die vonke noodwendig in die slaapkamer spat (mits daar nie ’n ander onderliggende probleem is nie). En wanneer daar vuurwerke tussen julle lywe is binne die raamwerk hiervan, sal julle uiteraard vervulling gee aan mekaar se behoeftes wat eindelik ’n dieper, sterker liefdesband tot gevolg sal hê. So, wie kan hiermee stry? Liefde en seks is die kernelemente wat jou ’n geurige huwelik gee waarvan jy nie genoeg kan kry nie!

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!