Soveel huwelike misluk omdat mense in retrospek sê dat hulle bloot nie gereed was vir die commitment van ’n huwelik nie. Jy staan dalk op die vooraand van jou grootste besluit ooit – maar is jy reg hiervoor?

Droom jy oor lang koffiekuiers saam met manlief, passievolle deurnagte en aande wat julle op die bank gaan lê en gesels sonder om moeg te word en sonder dat die geselskap ooit sal opdroog? Dis wonderlik en dit is jou volste reg om hierdie verwagtinge van jou huwelik te hê! Weet egter ook dat daar taai tye gaan kom wanneer die koffiekuiers yl gesaai is, die passievolle nagte plek maak vir pajamadril en lang kuiers op die bank soms vervang gaan word deur dringende rekeninge wat uitgesorteer moet word. Wees seker waarvoor jy jou inlaat, want die huwelik sluit al daardie bitter én soet in.

Maak seker die redes waarom jy trou, is in die kol. Daar is baie redes waarom paartjies trou – hulle soek ’n maat, hulle wil ’n gesin hê of hulle voel “dit is die volgende stap”. Is dit genoeg rede? En is dit genoeg rede om met jou spesifieke maat te trou? Jy moet weet dat die liefde oor veel meer as geselskap gaan. Dit gaan oor kameraadskap – is hy die maat met wie jy jou hele lewe wil deel?

Dink aan wat jy kry en wat jy moet prysgee. Dit is miskien ’n goeie idee om ’n lysie te maak en die voor- en nadele van trou teenoor mekaar op te weeg. Sien jy kans om jou vryheid prys te gee? Ja, jy sal nie meer tot laataand kan uitgaan en flankeer nie. Maar die huwelik bring ’n nuwe soort vryheid wat enkellopend-wees nie kan bied nie – die vryheid wat jy ervaar binne die sekuriteit van iemand wat jou onvoorwaardelik liefhet. Die huwelik bring sekere perke en verantwoordelikhede. As jy egter gedwing word om vriendskappe te staak of kontak te verbreek met geliefdes en jy voel jy verloor werklik te veel deur te trou, dink weer.

Dink mooi oor jou prentjie van die huwelik. Mense se “prentjies” van die huwelik verskil en word hoofsaaklik ingekleur deur die prentjie van die huwelik wat jy die beste ken – jou ouers s’n. Kom jou en jou maat se prentjies ooreen? Indien nie, hoe gaan julle dit oorbrug? Sien jou maat jou as sy ball and chain? Is egskeiding vir jou ’n baie real opsie? Dink mooi . . . Jy moet weet wat jou maat se doelwitte in die huwelik is – en hy joune. Jy moet ook weet wat jou deal-breakers is en dit met jou maat bespreek, sodat julle nie ná die troue (onaangenaam) verras word nie.

Hoe visualiseer jy jou lewe oor 20 jaar van nou? Is die eerste gedagte wat by jou opkom, jy as ’n korporatiewe reus in ’n snyerspakkie en ’n magdom werknemers wat spring wanneer jy sê “spring”? Of sluit jou prentjie jou maat in? As jy nie nóú jou toekoms kan visualiseer met jou maat wat ’n baie pertinente rol daarin speel nie, moet jy beslis wag met die huwelik.

Dink lank en innig oor kinders en die gedagte van eksklusiwiteit. Dit is twee dinge wat jy ernstig in aanmerking moet neem. Alle vroue is nie uitgeknip vir ma-wees nie, maar as jy een van hulle is, hoe voel jou maat daaroor? Alle mense beweer ook hulle is nie uitgeknip vir eksklusiwiteit nie. Is jy bereid om net een persoon vir die res van jou lewe lief te hê en mee intiem te verkeer?

Maak vrede met die feit dat jy hom nie kan verander nie. Weet dat jy jou maat se foute nie gaan kan verander nie – gaan jy daarmee kan saamleef? En om nou die appelkar om te gooi – jy dink dalk jou maat is perfek en dit is goed en reg, maar onthou dat julle albei met die loop van jare gaan verander en dat julle elkeen ook sal moet aanpas om by mekaar se behoeftes aan te pas. Kortom – jou maat se sterk karakter gaan nie sommer verander nie, maar wees ook voorbereid vir die feit dat drome, ideale en idees mag verander . . . sien jy kans hiervoor?

Moet jy jouself enigsins probeer oorreed dat trou ’n goeie idee is? As jy hiermee worstel, weet dat jy beslis nie reg is om te trou nie. As jy jouself (of jou maat) moet ompraat om te trou, is julle reeds op die verkeerde pad. Moenie trou om van iets te ontsnap nie. As jy naar raak wanneer jy trourokke aanpas of benoud raak wanneer julle begin gesels oor die groot dag, luister na jou sesde sintuig en jou liggaam.

Maak seker julle sien die wêreld dieselfde, al is dit deur ander oë. Natuurlik moet ’n mens verskil – dit is gesond vir enige huwelik. Maar dink aan julle verskille en ooreenkomste? Maak hy rassistiese aanmerkings terwyl jy glo almal het ’n plek onder die son? Dit is ’n potensiële probleem. Ook as jy glo in die Hiernamaals en hy voel dit is alles net ’n “mooi storie”. Jul belangstellings en idees mag verskil, maar jul kernwaardes en norme moet ooreenstem.

Ondersoek jou maat se verlede en leer daaruit. Die beste voorspeller vir jou en jou maat se toekoms is jul verhoudings uit die verlede. Dit hoef nie net romantiese verhoudings te wees nie, maar kan ook interpersoonlike verhoudings met gesinslede wees. Hoe het jou maat in die verlede gereageer teenoor mense wat hy liefhet? Hoe tree hulle teenoor jou op? Glo hy daarin om ’n verhouding nietig te verklaar sodra die ander party van hom verskil? Dit kan oorspoel in jou huwelik. Maak seker julle ken mekaar deur en deur. Julle kan slegs op die toekoms fokus as julle ook aandag gee aan die verlede.

As jy dadelik die fight oor wie die laaste blokkie Bubbly geëet het, wil oplos . . . As jy daar en dan die begeerte het om onmiddellik jul ongemaklike rusie uit te sorteer, in plaas daarvan om in jou kar te spring en te ry of jouself in die badkamer te gaan toesluit, is jy waarskynlik meer gereed om te trou. As huweliksmaats moet ’n mens die nodige argumente van die onnodige kan skei en bereid wees om konflik op ’n volwasse manier op te los. Julle moet ook oor al die “ongemaklike” onderwerpe, soos geldbesteding, kan gesels.

Jy dink en droom oor dít wat na jul troudag gaan gebeur. As al jou fokus op jou droomdag val en jy jou nie veel bekommer oor wat daarná gaan gebeur nie, behoort jy alle reëlings onmiddellik te staak. Dink en gesels oor kinders grootmaak, dissipline, geld, loopbaan, geloof, skoonouers . . . as julle nie nou al – vroegtydig – hierdie dinge bespreek nie, gaan julle sukkel om dit in die hitte van die oomblik op te los. Jou troudag is slegs een dag, jou huwelik begin die dag daarná! Baie mense meen: As bruide soveel tyd en moeite aan hul huwelike wil bestee soos aan hul troudag, sal daar heelwat minder egskeidings wees! As jy egter reg is vir trou, is jy gereed vir die woord “ewigheid” en lyk skei skielik nie meer soos ’n opsie nie.

Maak dus seker dat jy as ’n individu gereed is vir die groot stap en maak dan seker dat jou maat die een is met wie jy die res van jou lewe wil deurbring – iemand wat die heel beste uit jou haal. Jip, dit is ’n groot besluit en ’n gewigtige een daarby. Maar soos die oumense inderdaad gesê het: Trou is nie perdekoop nie . . . Hulle het geweet waarvan hulle praat.

Addisionele bronne: www.bustle.com, www.drphil.com, womanshealthmag.com, yourtango.com.