Ons Evasgeslag het ons eie unieke gesondheidsprobleme, veral in terme van ons voortplanting stelsel. En moet ook nie vergeet van jou orgaan wat so tjoklits vir manlief klop nie. Waarvan moet jy bewus wees om jouself gesond te hou?

Noem dit die “rooi gety” of die “tannie met die rooi rokkie” – ons almal kry dit en ons hou niks daarvan nie. Jou maandstonde is egter jou liggaam se manier om vir jou te vertel dat jou reproduksiestelsel behoorlik werk.

Menstruasie is eintlik ’n ingewikkelde ding, want niemand s’n werk presies dieselfde nie. Soms duur dit lank, soms is dit vinnig. Soms bloei jy baie, soms bloei jy min. Daarom is daar nie ’n algemene standaard van wat “normaal” is nie, maar eerder wat normaal is vir jou as individu. Dus, moenie jou maandstonde vergelyk met jou vriendin s’n nie, maar let eerder op na noemenswaardige veranderinge in jou eie siklus.

Wat beteken dit as my menstruasie:

Wegbly of stop: Dit kan gebeur wanneer jy swanger is, oormatige oefening doen, jou tyd vir menopouse nader, jy baie gewig optel of verloor, jy hormonale wanbalanse ondervind of aan polisistiese ovarium-sindroom (PCOS) ly.

Meer vloei as gewoonlik: Die meeste vrouens verloor tot drie eetlepels bloed ’n maand. Moontlike oorsake van ’n toename in bloedvloei kan wissel van niks ernstigs (die gebruik van sekere medikasie, verandering van geboortebeheerpille) tot gevaarlik (baarmoederkanker).

Klonte bevat of kleur verander: Albei is gewoonlik ’n natuurlike verskynsel. Bloedklonte kom dikwels voor tydens jou hoë-vloei dae en bloed raak donkerder van kleur soos wat dit “ouer” word.

Wanneer moet ek liefs ’n dokter gaan sien?
• Jy bloei vir meer as sewe dae aanmekaar.
• Jy vervang jou doekies/tampons elke uur of twee.
• Jy bloei tussen jou sikliese menstruasie.
• Jy bloei ná seks.
• Jy het steeds bloeding na menopouse.
• Jou periodes was nog altyd gereeld en skielik is dit nie meer nie.
• Jy ondervind baie pyn.

Bogenoemde kan moontlike simptome van abnormale baarmoederbloeding wees.

Voor jy jou doodskrik, onthou altyd dat die oorsake daarvan wissel. Soms is daar ’n baie eenvoudige verklaring vir jou ondervinding. Byvoorbeeld: Jou vaginale wande verdun met ouderdom en kan daartoe lei dat jy bloeding ervaar tydens of ná seks. Bloeding tussen sikliese menstruasie (spotting) kan weer veroorsaak word deur die geboortebeheerpille wat jy gebruik.

Dit is egter nodig om vir ’n ondersoek te gaan, want in die worst case scenario kan hierdie simptome ’n aanduiding wees van toestande soos:
• Nie-kwaadaardige-gewasse.
• Servikale of endometriale poliepe.
• ’n Sistemiese outo-immuun siekte (in jou hele liggaam)
• Pelviese inflammatoriese siekte (PID).
• Servikale kanker.
• Endometriale kanker.
• Von Willebrand se siekte (aangebore neiging om te bloei).
• ’n Miskraam.

’n Pelviese ondersoek is gewoonlik die eerste stap om uit te vind wat jou abnormale bloeding veroorsaak. Dit kan enige van die volgende metodes behels: ’n Papsmeer, fisiese ondersoek, ultraklank-skandering, endometriale biopsie of histeroskopie.

Jou behandeling gaan afhang van jou toestand en kan wissel van mondelinge voorbehoedmiddels tot nie-kortisoon anti inflammatoriese medikasie.

Belangrik: Kry ’n gereelde ginekologiese ondersoek. Jou dokter sal die grootte en vorm van jou baarmoeder en eierstokke dophou en jou help om voortydig servikale kanker op te spoor.

Ander bekende versteurings van die reproduksiestelsel

Endometriose: ’n Pynlike toestand waar die weefsel van die baarmoedervoering buite die baarmoeder groei.

Baarmoeder-fibrose: Abnormale, nie-kankeragtige gewasse wat binne die spierselle van die baarmoeder groei.

Voortydige ovariale mislukking: As jou eierstokke ophou om eiers te produseer voordat jy 40 jaar oud is.

Polisistiese ovarium-sindroom: Die vorming van vloeistof-gevulde siste op die eierstokke, wat vrugbaarheidsprobleme kan veroorsaak.

Vulvovaginitis: Die ontwikkeling van ’n infeksie of oormatige inflammasie van die vagina of vulvaweefsel.

Pelviese inflammatoriese siekte: Dit kan ’n infeksie van enige van die vroulike geslagsorgane, insluitende die baarmoeder en eierstokke, behels.

Jy en jou hart

Hartprobleme of -siektes kan enige tyd ’n onwelkome opwagting in jou lewe maak. As jy ’n lang en gelukkige lewe saam met manlief wil deurbring, is dit nodig dat jy nou al na jou hart kyk.

Loop ek die risiko vir hartsiektes?

Verskeie faktore kan jou risiko vir hartsiektes verhoog – veral as daar ’n geskiedenis van hartprobleme in jou familie is. Drie van hierdie faktore (bloeddruk, cholesterol en diabetes) kan jou hart en bloedvate beskadig, maar jy kan iets daaromtrent doen. Moenie wonder of jy dalk reeds aan een van hierdie toestande ly nie. Tree proaktief op en laat toets jouself gereeld hiervoor.

Bloeddruk: Volwassenes behoort hulle bloeddruk ten minste twee keer per jaar te laat toets. Die optimale bloeddruk is minder as 120/80mm Hg.

Cholesterol: Indien jy ’n familiegeskiedenis het van hartsiektes, is dit ’n goeie idee om al van jongs af jou cholesterol te laat toets. Jou totale cholesterol bestaan uit LDL (slegte cholesterol), HDL (goeie cholesterol) en trigliseried. Die ideale uitslag wat jy wil hê, is ’n totaal van onder 5mmol/L.

Diabetes: Jy het ’n groter kans om Tipe 2 diabetes te ontwikkel indien die volgende op jou van toepassing is: ’n Familiegeskiedenis van diabetes, hoë bloeddruk- en cholesterolvlakke, polisistiese ovarium-sindroom, oorgewig en onaktiwiteit. Raadpleeg jou dokter oor hoe jy gereeld jy vir ’n vastende bloedsuikertoets moet gaan.

Jou gewig: Jy kan self ’n ogie hou oor jou gewig. Indien jy onseker is of jy oor- of ondergewig is, werk jou BMI (body mass index) uit – dit vergelyk jou gewig met betrekking tot jou lengte. Maar moenie dit as jou enigste maatstaf gebruik nie, want spiere weeg swaarder as vet en kan ’n onakkurate resultaat oplewer. Om ’n beter idee van jou gewigstoestand te kry, meet die omtrek van jou middel. Indien jou middel groter is as 84 cm, is dit tyd om ’n paar rolletjies af te skud.

Hou jou hart en voortpantingstelsel gesond

Glo dit of nie, maar baie van die metodes wat jy kan gebruik om jou hart warm te laat klop, hou ook jou voortplantingstelsel gesond. Só kan jy die beste van albei wêrelde kry.

Hou op rook

Rook is een van die grootste risikofaktore vir die ontwikkeling van hartsiektes. Boonop is dit niks lekker vir jou nie-rokende man om jou te soen as jy soos rook proe of ruik nie.

Vrouens wat rook én geboortebeheerpille neem, verhoog hulle kanse op ’n hartaanval en beroerte omdat beide bloedklonte kan veroorsaak. Rook beskadig jou eierstokke, meng in met die produksie van estrogeen en kan aanleiding gee tot die produksie van eierselle met genetiese abnormaliteite.

Om op te hou rook, is nie maklik nie, maar ná vyf rookvrye jare kan jou risiko tot hartsiektes verlaag tot op dieselfde vlak as dié van ’n nie-roker.

Kry genoeg oefening

Fisiese aktiwiteit help jou om jou gewig te beheer en kan jou kanse verminder om ander siektes te ontwikkel wat stremming op jou hart kan plaas, soos byvoorbeeld hoë bloeddruk, cholesterol en diabetes.

Oefening help jou ook om ’n gesonde gewig te handhaaf, wat net so belangrik is vir jou voortplantingstelsel. As jy te min weeg, sal jy nie genoeg estrogeen produseer nie en die werking van jou voortplantingstelsel belemmer. As jy te veel weeg, kan jy te veel estrogeen in jou stelsel hê, wat later jare jou risiko tot kanker verhoog.

As jy te besig is om tyd af te staan aan die gym, probeer ten minste om daagliks die volgende te doen:
• Gebruik eerder die trappe as die hysbak.
• Elke keer wanneer jy die badkamer besoek, draf of spring rond vir een minuut langs die toilet.
• Rek seks langer uit. Sexercise is goeie oefening, so probeer om die sessie vir tien minute plus te laat duur.
• Gaan stap so veel as moontlik

Let op na jou dieet

Jou top hart- en reproduksiestelsel-kosse

Jy kan nooit verkeerd gaan met vars vrugte en groente en produkte wat ryk is aan gesonde olies en vette nie. Die volgende kossoorte is egter meer noemenswaardig wanneer dit by jou hart en reproduksiestelsel kom.

Vis: Vars salm, tuna en sardiens is propvol Omega-3 vette. Hierdie vette help om die bloedvloei na jou voortplantingsorgane te vermeerder en reguleer jou hormone. Dit help om jou risiko tot hartsiektes te verminder deur die opbou van plaak in die are te beveg en bevorder jou hartritme. As jy nie lief is vir vis nie, kan jy jou Omega-3 kwota uit neute, avokadopeer en sade ook kry.

Vesel: Swart- of witbone, bruinrys, semels en die meeste sade bevat onder andere vesel en sink wat jou vol energie laat voel.

Groente: Tamaties, rooi soetrissies, patats, broccoli, spinasie en wortels. Groentes, veral spinasie, is die natuur se superkosse. Dit bevat alles wat die liggaam benodig om jou organe rond en gesond te hou.

Vrugte: Spanspek, bloubessies, aarbeie, papaja en lemoene. Hierdie vrugte is propvol vitamiene, anti-oksidante en ander belangrike voedingstowwe wat verantwoordelik is vir gesonde selle en kan help om jou cholesterol te verlaag.

Aphrodisiacs: Siende dat hierdie outjies nie net goed is vir jou hart nie, maar ook jou sekslus aanwakker, gee ons hulle sommer hulle eie kategorie. Dit sluit in: Aspersies, donker sjokolade (70% kakao en hoër, rooiwyn (een glasie per dag) en oesters.

Wat moet ek vermy?

Die een kossoort wat jy ten alle koste moet vermy, is verfynde vervynde koolhidrate en suikers. Dit mors met jou gewig, hormoonvlakke en menstruele siklus.

Wat van aanvullings?

Daar is verskeie aanvullings wat jy kan neem om jou hart gesond te hou. Onthou egter om altyd eers jou dokter te raadpleeg voor jy dit gebruik. Kyk gerus na visolie, lecithin, koënsiem Q10, likopeen, knoffel, niasien, L-Carnitine, Hawthorn-ekstrak en arginien.

Indien jy sukkel met hoë bloedvloei tydens jou menstruasie, sorg dat jy genoeg yster inneem om op te maak vir dit wat jy verloor.

Addisionele bronne: webmd.com, mayoclinic.org, nutritionexpress.com, livestrong.com.

Artikel deur Thalia Brüssow