Die kerk moedig huwelike aan, die kerk bevestig huwelike. Huweliksvoorbereiding word hier aangebied en jy kan met jou leraar gaan gesels as jy huweliksprobleme ervaar. Die kerk praat teen egskeiding, maar swyg oor een van die grootste oorsake van egskeiding.

“Ons het twee jaar voor ons huwelik saam gebly,” vertel Jenny. “Omdat ek en Wouter albei in konserwatiewe huise grootgeword het, was dit nogal ’n issue vir almal na aan ons en die dominee het reguit vir my gesê dat ons nie binne die wil van God optree nie. Ons het besluit om tóg maar te trou om almal tevrede te stel – ons het geweet ons is lief vir mekaar.”

Ses maande die huwelik in, het die moeilikheid begin. Dit was egter ’n sensitiewe saak wat hulle nie met enigeen wou bespreek nie. Jenny se libido was laag en hul intieme lewe het skipbreuk gelei. “Ek het begin wonder of ons gestraf word oor die saamblyery. Ek het soos ’n slegte vrou vir my man gevoel en ons het al hoe verder uitmekaar gedryf, tot ons eendag niks vir mekaar te sê gehad het nie.”

Jenny en Wouter het met ’n berader by hul kerk gaan gesels. “Hy het egter rondom die wortel van ons probleem getrippel en vir ons geen reguit raad gegee nie. Ja, ons kon seker na ’n seksuoloog toe gaan, maar ek wou hoor wat God vir my hieroor sê, omdat ek met skuldgevoelens en issues uit die verlede geworstel het. Niemand kon ons help nie en binne maande het ons soos vreemdelinge vir mekaar geword.”

’n Jaar later is die paartjie geskei.

Faal die kerk ons in dié opsig?

Seks is ’n geskenk van God wat spesiaal vir getroude paartjies gereserveer is. Kerke skram egter weg van dié baie belangrike onderwerp en voorsien gemeentelede nie van broodnodige (en gesonde) inligting hieroor nie. Die realiteit is ongelukkig dat seks, oftewel die misbruik en misverstaan daarvan, ’n groot rede vir egskeidings is.

Kinders word grootgemaak met die idee dat seks vuil en sondig is en godsdiens word dikwels gebruik om die idee daarvan te versterk. Tog wil God hê dat ’n getroude paartjie intiem moet verkeer. Hy het ons nie net gemaak met werkende geslagsdele nie, maar Hy sê in Genesis 2:24 dat ’n man sy vader en moeder sal verlaat en een vlees sal word met sy vrou. (Een vlees beteken: Seks beoefen.)

Spreuke 5:15-19 spoor paartjies aan om seksuele plesier saam binne hul huwelik te geniet. Paulus het ook in Korintiërs 7:3-5 genoem dat mans en vrouens seksuele liefde aan mekaar moet bewys en dit net opsy moet skuif wanneer hulle bid en vas. Salomo se Hooglied is ’n goeie voorbeeld van ’n ongekunstelde seksuele verhouding tussen man en vrou, maar tog word die boek skaars bestudeer en selde daaruit gepreek.

Stilbly is nie ’n antwoord nie . . .

Ons verstaan en praat nie oor seksualiteit as iets betekenisvol, heilig en openbarend nie. Wanneer ouers, predikante en ander leiers te skaam is om te praat oor seksualiteit, of meer fokus daarop om slegte seksuele gedrag uit te wys, word die negatiewe beeld van seks (soos die wêreld dit gemaak het en nie soos God bedoel het dit moet wees nie) versterk.

Ons lewe tans in ’n era waar ons konstant blootgestel word aan seks. Nie net tieners nie, maar selfs volwassenes word onder geweldige druk geplaas om deel te word van die seksuele sirkus wat in die media uitgebeeld word. Die kerk bied min en meestal net veroordelende inligting rondom dit aan, in plaas daarvan om ’n Christelike visie vir seksualiteit in die geheel te deel.

Dit maak ook nie sin om te hush talk oor seks in godsdiensverband en dan te verwag dat mense emosioneel toegerus moet wees om te gaan van ’n lewe van “geen seks voor die huwelik” na ’n aktiewe, gesonde sekslewe tydens die huwelik nie.

Dit alles laat individue met skuldgevoelens oor en vrese vir hulle eie seksualiteit. Ons verstaan nie ons eie liggame se behoeftes nie en is doodbang dat die bevrediging daarvan teen God se wil is. Christene word gedwing om antwoorde te soek oor hulle seksualiteit buite godsdiensverband, wat gewoonlik hierdie negatiewe gevoelens net laat verdiep.

Wil gemeentelede dit hoor?
• “Ek is baie openlik oor baie dinge in die lewe, maar ek dink egter nie dat ek tydens ’n gewone erediens seksadvies vanaf die kansel wil hoor nie,” verduidelik Annari Combrink. Sy sou wel op huwelikskampe, by Bybelstudiegroepe of by spesiale aanddienste wou hoor dat huweliksmaats aangemoedig moet word om te bid vir hul sekslewe en vir God se seën daarop.
• “Ek sou wou hoor van gewone ouens wat eerder met ons gesels oor wat hulle ervaar, wat vir hulle werk en nie werk nie. Sodoende hoef ons nie nét staat te maak op raad van die kansel af nie, maar kan ons ook insette kry van die mense wat langs ons in die kerkbanke sit. Ek sou wel my ore spits as die dominee se boodskap is dat ons meer seks moet hê en dit meer moet geniet,” skerts Johan de Jager.
Anika de Jager sê dat hul gemeente se dominees nogal openlik oor seks is. “Veral op die huwelikskamp word dit nogal in detail bespreek. Die dominees kan dalk vir mans die boodskap bring dat indien hul meer sal kommunikeer, sal vroue meer gewillig in die bed wees.”
• “Ek wens my kerk wil minder praat oor die ideale geestelike verhouding en begin fokus op praktiese dinge wat gaan maak dat die egskeidingsyfer daal. As daar meer heel gesinne in ons samelewing is, sal baie van die wêreld se ‘groter” probleme ook kleiner word,” sê Andra Nel.
• “ʼn Blad of blog is dalk net die regte medium waar mense anoniem (indien hulle dit verkies) kan raad vra by die dominees,” is Annelize Swart se mening.
• “Ek dink die kerk het ’n tonnelvisie-benadering tot seks en die huwelik. Dalk begin die kerk meer openlik raak in sekere gebiede of tipes kerke, maar net tot ’n mate. Ek sou graag wou hoor dat seks daar is om te geniet. Dit verbind jou en jou man,” verduidelik Chantel le Roux.
Lara Human: “Ek sou wou hoor dat seks iets spesiaal is tussen twéé huweliksmaats. Nie drie nie, nie vier nie en ook nie enige ander getal mense nie. Die media maak seks dikwels goedkoop en ons kry heeltemal ’n verkeerde prentjie van iets wat bitter kosbaar en mooi is.”
• “Ek sou wou hoor dat maats mekaar deur God vind en dat seks ’n spesiale verbintenis tussen man en vrou is om die huwelik te versterk,” is Chris du Toit se mening.
• “Ek sou beslis meer wou gehoor het of voorbereid gewees het op seks in die huwelik, veral vir paartjies wat wag tot hulle trou. Geen boek of tydskrif kan ’n mens enigsins voorberei vir die werklikheid in terme van die emosionele aspek en uitwerking daarvan op albei partye nie. Die een ding wat ’n mens nié voor die troue kan toets nie, is hoe compatible julle as paartjie ten opsigte van seks is. Dit moet jy eers ná die tyd uitvind! Dit plaas enorme druk op ’n mens, veral as dinge nie verloop soos wat jy gedroom het nie,” sê Nadia Strauss.
• “Ek dink die dominees kan meer oor die huwelik praat, ten opsigte van verhoudings, konflikhantering, idees om mekaar spesiaal te laat voel en hoe om God in jul huwelik in te pas, en ook hoe jul huwelik geraak word deur kinders en hoe ’n mens dit hanteer,” is Lizanne Prins se mening.

Hoort sekspraatjies in die kerk?

Volgens outeur Timothy Kieswetter: “Seks is een van die groot redes waarom paartjies skei, en baie paartjies vasgevang is in ongelukkige huwelike. In ’n ongelukkige en seksueel frustrerende huwelik is die versoekings net al hoe groter.”

Dit is ongelukkig waar dat die gemiddelde gelowige paartjie in ons land in ’n situasie verkeer waar hulle nie genoeg seksopvoeding kry nie, meen Timothy. “Voorhuwelikse berading, huwelikskampe en preke oor die belangrikheid van seks in die huwelik skiet dikwels ver tekort wat detail betref. Dit forseer paartjies om seks-idees vanaf onveilige bronne soos pornografie-webtuistes te soek.”

Volgens Timothy het 41% van deelnemers wat aan ’n meningspeiling op sy webwerf deelgeneem het, aangedui hulle voel die kerk moet méér doen om lidmate oor seks in te lig. Altesaam 25% het gesê hulle voel nie dis die kerk se plek om met lidmate oor seks te praat nie. Volgens 21% van die respondente laat dít wat die kerk wel oor seks te sê het, hulle skuldig voel. En 13% is tevrede met die status quo.

“Daar is ’n groot en duidelike behoefte onder lidmate dat die kerk met hulle oor seks moet praat,” sê Timothy. “Die probleem is dat leraars – predikante en pastore – gewoonlik nie behoorlik opgelei is vir dié taak nie. Ek sal graag wil sien dat seksuologie as vak deel word van voornemende leraars se opleiding.”

“Vrees en wanbegrippe maak dit nodig”

Ross van Niekerk, pastoor van die Shofar Christen-gemeente in Tygerberg, sê seks is in baie gevalle steeds ’n taboe in die Suid-Afrikaanse kultuur. “Omdat gesinne nie openlik in hulle huise oor intimiteit praat nie, is daar ’n stigma aan seksgesprekke verbonde. In ons kerkkultuur is seks gewoonlik gelyk aan sonde, want Christene hoor tradisioneel in die kerk jy ‘moenie’ en ‘God gaan jou straf’. Dis glad nie die volle leer van die Bybel nie.”

In sý gemeente word daar oor seks gepraat, omdat God dit gemaak het – ook om lekker te wees! “Ons is gemaak met seksuele begeertes en die kerk moet die gemeente leer om die geskenk van seksualiteit binne God se wil te geniet. Voor ek getroud is, het soveel mense – binne en buite die kerk – my bang gepraat oor wat alles verkeerd kan gaan en dat jy nie te veel moet verwag nie.”

“Daar is so baie vrees en wanbegrippe oor seks. As pastoor het ek oor die afgelope tien jaar al talle getroude paartjies bedien wat stukkend is as gevolg van probleme in hulle sekslewe. Of omdat hulle weens seksuele wanpraktyke seergekry het. Daarom moet daar beide opvoeding wees oor seks en intimiteit vanaf die preekstoel, in voorhuwelikse kursusse, asook persoonlik. Berading en genesing moet ook gebied word vir dié wat seergekry het.”

Hoekom swyg kerke hieroor?

Professor Hennie Stander, outeur en Bybelkenner sê dit is waar dat kerke in die algemeen daarvan wegskram om in eredienste oor seks te praat, maar daar is goeie redes voor. “In ’n erediens het ’n mens met ’n gemengde gehoor te doen, van bejaardes tot baie jong kinders. Dis maar dieselfde beginsel as wanneer radio- of televisiestasies programskedules saamstel: Jy kan nie ’n program wat nie regtig geskik is vir kinders in ’n ‘algemene’ tydgleuf uitsaai nie. Net so kan ’n dominee nie tydens ’n oggenddiens sommer oor byvoorbeeld orgasmes praat nie.”

Hennie sê verder daar móét met kinders oor seks gepraat word, maar nie op dieselfde vlak en oor dieselfde temas as met grootmense nie.

“Baie Christene se geloof is amper eksklusief op die geestelike gerig, ten koste van die vleeslike. Vanaf die tweede en derde eeu is daar openlik en baie prontuit in die vroeë kerk oor seks gepraat. Daar is ook in die Bybel baie dele wat seksueel baie eksplisiet is as mens die Bybel in Grieks en Hebreeus lees. Die meeste moderne vertalings van die Bybel het hierdie dele baie ‘versag’ en lesers sal dikwels verbaas wees as hulle regtig weet wat in die oorspronklike teks staan.”

Hennie sê ook verder ’n mens moet in gedagte hou dat wanneer daar wel oor seks gepraat word, ’n mens met twee verskillende gehore te doen het, naamlik verpligte en vrywillige gehore. Vrywillige gehore verwys byvoorbeeld na wanneer daar met ’n paartjie ’n gesprek gevoer word ter voorbereiding van hul huweliksbevestiging. ’n Verpligte gehoor is wanneer daar byvoorbeeld tydens kategese oor seks gepraat word: Dis die ideale geleentheid om ’n spesifieke ouderdomsgroep van voorligting te bedien, maar almal – veral die ouers – gaan nie noodwendig daarvan hou nie en dit mag onaangename gevolge hê.

“Ek kan wel sê dat kerke én lidmate deesdae baie openlik is oor seks – veel meer as 30 of 40 jaar gelede.”

Nie alle kerke swyg nie . . .

Seksuoloog Elmari Craig stem glad nie saam met die stelling dat kerke nie oor seks wil praat nie. Sy tree gereeld in kerke op. “Van Bredasdorp tot by Brakpan. Baie kerke is baie oop daarvoor en die NG Kerk het spesifieke komitees wat oor byvoorbeeld voorhuwelikse seks, saambly en homoseksualiteit praat, en oor hoe om mense in die kerk by te staan.” Elmari voeg by dat dit wel waar is dat sekere kerke dalk minder geneë is om daaroor te praat as ander, maar sy dink dit het meer te doen met die spesifieke bestuur van daardie gemeente. “Sommige mense het hul eie probleme of voel self ongemaklik oor die onderwerp en praat dan nie daaroor nie. Vroeër jare het kerke wel ’n negatiewe boodskap oor seks uitgestuur en nie so vrylik daaroor gepraat soos nou nie.”

Elmari voel ook dat die kerk se stilswye nie noodwendig vandag meer so ’n groot impak op die samelewing het nie, omdat mense meer geredelik na professionele seksuoloë en huweliksberaders gaan as hulle probleme ervaar. “Inligting oor seksualiteit en seksuele probleme binne die raamwerk is ook baie algemeen beskikbaar.”

Soek ons nie net wegkomkans nie?

Het die feit dat die kerk swyg oor seks enige invloed op ’n paartjie se sekslewe of gebruik Christene die kerk net as ’n scapegoat om seksuele probleme te regverdig?

In haar boek Daring greatly: How the courage to be vulnerable transforms the way we live, love, parent and Lead, lig professor Brené Brown die uitwerking van skaamheid op ons daaglikse verhoudings uit. Brené het gevind dat beide mans en vrouens voel dat om seks met hulle maat te inisieer, hulle kwesbaar en skaam laat. Die skaamheid word aangeleer van kleins af, wanneer vernedering en skaamheid (wetend of onwetend) gebruik word om die gewenste gedrag by ons te kweek.

“Skaamheid is ’n instrument vir sosiale beheer en word gebruik in klaskamers, sinagoges, kerke en moskees,” sê Brené. Skaamheid het drie dinge nodig om te groei: geheimhouding, stilte en veroordeling. Die kerk se stilswye oor die onderwerp van seks bied ’n slow cooker waar ons skaamheid en vrese oor seks kan prut en ons met ’n wrang smaak in die mond laat.

Oor die algemeen is mense se reaksie op hierdie skaamheid soos volg: Mans is geneig tot woede en disengagement – hulle praat nie met hul maats daaroor nie en soek maniere om uiting te gee aan dié emosies. Die maniere is gewoonlik nie positief nie en kan enigiets behels van verslawing tot geweld. Vrouens draai weer teen hulself en raak betrokke in vernietigende self-weersin en selfhaat.

Volgens Brené is die beste manier om die bande van skaamheid te breek: Name your shame. “Sodra jy oor die oorsaak van jou skaamte begin praat, kan jy dit verdryf, want skande werk net wanneer dit jou vashou in die valse geloof dat jy alleen in die situasie is.”

Hoekom moet kerke begin praat?

Ross reken jongmense hoor baie van seks in skole, deur middel van die media en by hul vriende. Daarom is dit belangrik dat die kerk God se oorspronklike plan ten opsigte van intimiteit deel.

“Laat ons as die kerk eerder leer oor wat veilig en moreel en goed is. Probleme met seks is een van die top drie redes waarom huwelike in die skeihof eindig. Daarom is dit so belangrik om dit aan te spreek. Die Evangelie moet tog ’n mens se hele lewe aanraak. Seks en seksualiteit is deel daarvan.”

Sy gemeente het al by tye gedurende kursusse en preke gegiggel en gebloos, maar dit het tot baie goeie gesprekke en bediening in kleiner groepe gelei. “Egpare wat regtig gesukkel het, kon hoor dat hulle nie alleen is nie en die gemeente kon help met bediening. Die terugvoer was baie goed en ons het besef dat ons te min hieroor gesels.” Oor die algemeen is hul gemeente positief en dankbaar oor gesprekke rakende seks.

“Dis baie belangrik dat daar ’n forum vir gesprek moet wees. Ek dink daar moet ’n plek wees vir eerlike en openlike gesprekke oor enigiets rondom seks. ’n Mens kan nie oor alles van die kansel af op ’n Sondag praat nie. Ander platforms kan wel die geleentheid skep. ’n Positiewe benadering tot seks moet oorgedra word, ’n verstaan van God se ontwerp daarvan as iets heiligs en mooi. En dan moet daar geleentheid geskep word vir mense om genesing van die wonde in hierdie area te ontvang.”

Elmarie van Wyk, Imago-verhoudingsterapeut, sê die feit dat die kerk die onderwerp stilhou, asof hulle bang is om op mense se tone te trap, kan verkeerdelik geïnterpreteer word dat afwykings van God se voorskrifte vir seksuele verhoudings maar reg is.

“Die kerk kan sekerlik meer moeite doen om ruimtes te skep waar gemeentelede met vrymoedigheid oor seks kan gesels. Dit is tyd dat die kerk baie duidelik moet wees oor wat die Bybel oor seks te sê het, byvoorbeeld dat dit iets baie mooi en kosbaar is wat slegs binne die huwelik en slegs tussen twee eggenote hoort. En dan ook God se genade preek vir mense wat nie by hierdie voorskrifte hou nie en hulle dan help om daarna terug te keer.”

Is dit die kerk se verantwoordelikheid?

Ons moet ook in gedagte hou dat seks in die huwelik primêr die egpaar se verantwoordelikheid bly, en indien hulle probleme hiermee ervaar, daar baie bronne is waar hulle hulp kan bekom – soos verhoudingsterapeute en werkswinkels. Dit is nie ’n onderwerp wat noodwendig van die kansel af bespreek kan word nie, maar kerke kan hiermee help deur ruimte te skep vir oop gesprekke oor seks in die huwelik, asook huweliksverrykingsgeleenthede om gemeentelede te help groei.

Daar is egter ’n ander kant van die munt wat ook aangeraak moet word. Naamlik, is die gemeentelede self reg vir ’n “seksuele revolusie” in die kerk?

“Ons moet nie kieskeurig wees en net sekere aspekte oor seksualiteit wil hoor nie. Daar is verskeie gemeentes wat graag en met ywer bogenoemde geleenthede skep, of wil skep, en dan is gemeentelede baie traag om dit by te woon,” sê Elmarie. “Dan kan ons nie omdraai en sê dit is die kerk se skuld dat mense seksuele probleme in die huwelik ervaar nie.”

As jóú kerk steeds swyg . . .

Miskien is jy nié ’n lidmaat van ’n kerk wat openlik oor seks gesels nie en voel julle as Christen-paartjie dat jul huwelik ’n goeie bron van inligting nodig het om julle deur moeilike tye te help. Hier is ’n paar bronne wat julle kan bystaan daarin:

Boeke:
• Die A tot Z van seks – Elmari Craig en Hennie Stander
• Ontbyt in die bed en seks in die kombuis – Timothy Kieswetter
• Die AA tot OE van seks – Riette Rust
• Seisoene van seks – Leandie Buys
• Die taal van seks – Ted Cunningham en Gary Smalley
• Die huweliksdaad – Tim en Beverly LaHaye
• Wat elke vrou/man in ’n man/vrou wil hê – John en Diana Hagee
• 21 maniere om jou huwelik te verwoes – Ewald en Beatrix van Rensburg
• Love, sex and lasting relationships – Chip Ingram
• Sheet music – Kevin Leman
• 12 dinge wat jy moet weet voor jy trou – Gary Chapman
• Die huwelik wat jy nog altyd wou hê – Gary Chapman
• ’n Reddingsboei vir jou huwelik – Henry Cloud en John Townsend
• Liefde en respek – Emerson Eggerichs
• Die beste van INTIEM – Uitgegee deur INTIEM-tydskrif
• God makes sex great – Dr Renier Holtzhausen en prof Hennie Stander
• Romancing your Wife – Debra White Smith en Daniel W Smith
• Seks: Nou wat is die eintlike storie? – Dr Nicki Spies
• Sex begins in the Kitchen – Dr Kevvin Leman
• Real Sex – Lauren F Winner
• Liefde met Oorgawe – Floris Knouwds
• The Excellent Wife – Martha Peace
• The Four Seasons of Marriage – Gary Chapman
• Elke man se stryd – Stephen Arterburn, Fred Stoeker en Mike Yorkey

DVD’s:
• Love, sex and lasting relationships – Chip Ingram
Webtuistes:
• www.gesondeseks.com
• www.elmaricraig.co.za
• www.keys4marriage.com

Addisionele bronne: ucg.org, sites.silaspartners.com, spiritualityhealth.com

***
Wil jy seker maak dat jou huwelik hou?

Is jy gereed om in jou huwelik te belê?

Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

Maak 2019 JOU jaar! ‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!