Jy swaai waarskynlik nie meer jou nommer-32 heupies as jy by hom verbyloop en loer nie meer noodwendig elke keer in die spieël voor jy hom by die deur gaan groet nie. Maar miskien moet jy…

Kom ons praat reguit met mekaar. Ná 10 jaar se getroude lewe is die spark waarskynlik saam met die laaste gebreekte stofsuier by die huis uit. As jy moet onthou om toiletpapier en asbliksakke te koop, is rooi lipstiffie nie hoog op jou prioriteitslysie nie en jy bekommer jou nie meer regtig oor wat hy gaan dink van jou frizz nie (die reuk van soutklei en Purity in jou hare verbloem in elk geval dié van jou sjampoo).

Dink egter weer daaroor. Jy hou nie van sy dag-oud baard nie, dit frustreer jou as hy nie stort sodra hy van sy drafsessie afkom nie… maar het jy regtig die reg om so te voel as jy die heel Saterdag met jou voete in pantoffels rondloop, met jou beenhare sentimeters lank en ‘n frons wat enige Botox-toediener bang maak?

INTIEM weet beslis waardeur jy gaan. Altesaam 48 uur se take wat in minder as 24 uur uitgevoer moet word en ‘n klein peloton (jou man ingesluit) om voor te dink, doen en te herhaal, neem die wip effens uit jou eens sexy stappie, nie waar nie? Daar ís ‘n oplossing. Soms is dit net nodig om weer bewus te raak van hoe jy oornag ‘n vrou en ma geword het en waar jy die ‘girlfriend’ agtergelaat het. Dit was beslis nie voor die kansel nie. Want wanneer jy op jou wittebroodsfase is, kom jou super-girlfriend-vaardighede gewoonlik na vore, vóór die realiteite begin insink. Jy kan dit terugwen.

1) Wees natuurlik sensueel…

Onthou, ’n man is ’n visuele kreatuur. Jy kan waarskynlik op hom skree soos ’n viswyf, maar as jy dit doen terwyl jy ’n kousband, ragfyn sykouse en stilleto’s dra, gaan hy jou waarskynlik nie eers hoor nie… Jou man kyk rond. Of dit na ’n rugby game op televisie is, ’n splinternuwe kar wat verby snel… of ’n aantreklike rooikop wat verbystap.

Maak vrede daarmee – dit is hoe dié spesie geskape is. Maar onthou jy daardie dae toe manlief ’skelm’ vir jou geloer het terwyl jy aantrek? Wanneer jy na jou oumabroekie of daardie een wat belowe om jou ’n rokgrootte kleiner te laat lyk, kyk, dink jy waarskynlik dat die stryd verlore is. Onthou egter ook dat ’n vrou wat obsessief raak daarmee om altyd goed te lyk, mans ook afsit.

Hy hou van jou natuurlike kurwes en daar is min dinge wat so onaantreklik lyk soos iets wat vals of ongemaklik voorkom. So, ons verwag nie die onnatuurlike van jou nie. Die geheim is ’n gebalanseerde uitkyk. Elke vrou wat haar man se aandag wil behou, moet gesteld wees op haar voorkoms en dinge doen om haar goed te laat lyk, maar dit nie oordoen nie.

Wenk: Jou voorkoms is ’n weerspieëling van wat binne-in jou aangaan. ’n Kalmerende, daaglikse roetine soos 15 minute se joga of tai chi kan jou help om innerlik en uiterlik te straal. En weet: Altesaam 80 persent van mans hou van hul vroue met kurwes en slegs sewe persent verkies die Kate Moss-figure

2) Hou hande vas…

Dink aan dinge wat julle gedoen het in dié dae toe julle nog ’n jong paartjie met julle koppe in die wolke was. Dit is maklik om daardie dinge te vergeet, maar klein gebare, soos om hande vas te hou in die openbaar, kan maak dat jy stadigaan al hoe meer hiervan herroep. Miskien het julle gevry in die agterste ry van die flieks, of melkskommels gedeel. Jy sou miskien jou hand op syne sit terwyl julle uiteet, of die deurknoppie vir hom oopmaak net voor hy wil inklim. Doen dit steeds (dit wil sê as hy steeds die romanse lewendig hou deur die deur vir jou oop te maak, voor hy om die kar loop om self in te klim!).

Miskien het julle dikwels saam ’geswot’, iets wat gewoonlik tot allesbehalwe swottings gelei het – herleef daardie oomblikke deur ook by jou stoel en skootrekenaar te gaan sit wanneer hy volgende keer druk besig is in die studeerkamer. Terwyl jy kammakastig werk, kan jy onderling vir hom loer of voetjie-voetjie speel onder die studeerkamertafel!

Wenk: Onthou, hoe meer gereeld jy die dae herleef van toe julle uitgegaan het, hoe meer gaan jy daaraan dink. Gesels met mekaar oor hoekom julle verlief geraak het op mekaar en – as jy die sentimentele tipe is – gaan deur jou laai met julle eerste fliekkaartjie, die baadjie wat jy gedra het toe julle die eerste keer op ’n afspraak was en foto’s van julle vroeë dae. Jy moet doelbewus daaraan werk om daardie herinneringe te herroep.

3) Skryf vir hom ’n brief…

As jy lank genoeg getroud is om hierdie artikel te wil lees, het julle waarskynlik ge-date in die dae toe die tegnologie nog nie naastenby so gevorderd was soos nou nie. Skaars 20 jaar gelede het min mense toegang gehad tot e-pos en selfone. Jy moes hom waarskynlik bel vanaf jou universiteit se tiekieboks en het notas teen sy verweerde Volla se ruit gelos. Deesdae is dinge veel makliker, maar ongelukkig minder romanties.

Herroep julle jong romanse deur gereeld vir hom ’n lekker lang brief te skryf. Of jy nou ’n Bic-pen of ’n Parker gebruik, maak seker dit is op mooi papier en as jy wil, bespuit die brief met van jou gunsteling-parfuum, soos jy waarskynlik gedoen het toe jy ’n student, besete van die liefde, was. Beperk jou sms’e en e-posse tot ’n minimum en skryf eerder vir hom lang liefdesverklarings of ’n mooi kaartjie met ’n kort boodskap. Los notas onder sy kar se ruitveër of skryf op julle take-aways se weggooiservet hoe lief jy vir hom is.

Wenk: Nog ’n pen-en-papier-idee, is om ’n lysie van vier dinge wat jy van jou maat waardeer en respekteer op die inkopielysie teen die yskas te los (dié een gaan net werk as hy ’n millenniumman is wat soms loer na wat julle wel in die huis nodig het!) Dit is alles deel van flirt. Jy het voortdurend met jou man geflirt voor julle getroud is, so hoekom wil jy nou ophou?

4) Hou jou lyf ’n lus vir die oog

Baie mense glo dat om in ’n gelukkige verhouding te wees en in shape te bly, nie saamloop nie. Mans en vroue tel gewig op sodra hulle in ’n toegewyde verhouding staan en met vroue gebeur dit vinniger. Hulle sit meer gewig aan ná hul troues! Sommige mense beweer dat om emosioneel gemaklik te wees, jou daartoe lei om jou oor te gee aan comfort foods. Nog ’n rede is dat sommige vroue voel dat wanneer hulle reeds ’n man ’gevang’ het, hulle uit pure verligting kan begin ooreet. Daar is ander redes ook. Jy kook vir jou maat en as jy kinders het, is daar voortdurend lekkernye in die huis.

Navorsing toon dat vroue in vaste verhoudings meer gewig aansit, maar ook meer dieet as vroue buite verhoudings. Moenie oorskietkos eet terwyl jy opruim nie. Moenie kos in enige ander kamer as die kombuis hou nie. As jy koekies op die kombuisblad hou, moet dit nie in deurskynende houers bêre nie. Vermy wegneemetes en skep vir jouself in op ’n kleiner bord. Maar as jy regtig lus is vir iets, eet dit!

Wenk: Moenie in die lokval beland om presies soveel soos jou man te eet nie. Hy is waarskynlik groter as jy en dit is die beste om dinge so te hou! Skep jou porsies in om by jou lyf te pas. Voedingsosioloë beskryf ook paartjies as eet-eenhede. ’n Paartjie se kosvoorkeure en oefengewoontes beïnvloed mekaar wedersyds. ’n Paartjie wat mekaar ondersteun deur reg te eet en te oefen, dra op die lange duur by tot die gesondheid van hul verhouding.

5) Moet mekaar nie as vanselfsprekend aanvaar nie

Paartjies maak dikwels die fout om te glo die verhouding sal vir ewig duur. Nie dat dit werklik ’n fout is nie – die ideaal is om wél so te glo en nie die huwelik te betree met die idee dat daar ’n agterdeur is nie. Die probleem is egter dat mense in ’n gemaksone verval, met die idee dat hul maat vir altyd daar gaan wees. Vir sulke mense is daar altyd ’n ’môre’ om te sê ’Ek is lief vir jou’ en ’n ’volgende jaar’ om ’n romantiese reis te beplan.

Die probleem is dan ook dikwels dat sulke paartjies nie ’n verhouding beskou as iets waaraan gewerk moet word nie. Volgens Robert Billingham, ’n adjunkprofessor by Indiana University Bloomington se Departement van Toegepaste Gesondheid en Wetenskap, is mense nie gemaak vir langtermyn romanse nie. Biologies word die liggaamschemie wat ons harte laat fladder gedurende ’n nuwe verhouding, na ’n paar jaar vervang met liggaamschemie wat eerder gerat is vir toewyding. Daarom moet paartjies hard werk om die romanse lewendig te hou.

Wenk: Leef vir die hier en nou en maak spontaniteit deel van julle verhouding. Besluit op die ingewing van die oomblik om net daar, waar jou man voor die televisie sit, jou klere voor hom uit te trek vir ’n laataand vol passie. Staan op ’n Saterdagoggend vroeg op, klim in die kar en ry na ’n bed-en-ontbytplek op die platteland nie ver van julle huis af nie. Daar is niks soos ’n bietjie impulsiwiteit om ’n verhouding wat in roetine verval het, te laat herleef nie.

6) Versorg jouself en doen moeite

Net soveel soos ’n man ’n goeie lyf waardeer, hou mans daarvan om na ’n mooi vroulike gesig te kyk. Wat hulle graag daar wil sien, is ’n gesig wat straal. Jou gesig moet ’n spieëlbeeld wees van innerlike warmte en lewe. Dit hoef nie ’n foutlose kunswerk te wees nie en nie toegeplak te word met lae en lae grimering nie. Jy ken die reëls: Drink genoeg water, eet ’n gebalanseerde dieet, oefen sodat jou vel genoeg bloed en suurstof kry, gebruik sonskerm, moenie seep gebruik wat alkalies is nie (dit droog die gesig uit) en as jy ’n beperkte begroting vir velsorgmiddels het, bestee dit op ’n goeie reiniger, verfrisser en bevogtiger. Maak seker dat jy jou grimering voor slaaptyd afhaal.

Jou lippe is ook ’n belangrike gelaatstrek en mans assosieer jou lippe met wat dit alles kan doen! Daarom is lipstiffie ’n noodsaaklikheid in jou grimeertassie. Sorg dat jou lippe altyd goed lyk deur gereeld lipsalf aan te wend, ’n natuurlike skakering lipomlyner te gebruik met lipglans bo-oor en gereeld nuwe lipstiffie aan te wend. Wat oë aan betref – dit is mos die vensters van jou siel en moet daarom helder wees. Hou jou oë mooi deur genoeg te rus, alkoholgebruik te beperk, jou oë te verfris met komkommerskyfies en aartappelskywe en ooginfeksies te vermy deur jou ooggrimering voor slaaptyd te verwyder en ontslae te raak van grimering ouer as ses maande.

Wenk: Sommige vroue wend lipstiffie aan en sê dan vir hul mans: “Moet my nie soen nie!” Dit is verkeerd. Toe jy met hom uitgegaan het, het jy juis lipstiffie aangewend sodat hy jou moet soen! Skaf ’n lipglans aan met ’n lekker smaak, wat die lipstiffiesmaak effens verbloem en dit vir hom lekkerder gaan maak.

7) Wees onvoorspelbaar

Vir ’n paartjie met ’n besige leefstyl en kinders is dit uiters belangrik om afsprake te skeduleer. Seksuoloë en huweliksberaders beveel dikwels aan dat paartjies dag-en-datum afsprake in hul dagboeke aanteken en daarby hou, omdat dit waarskynlik die enigste manier sonder die kinders is, wat hulle kan bekostig. Paartjies weer, is dikwels baie huiwerig vir geskeduleerde seks omdat hulle voel dit ontneem hulle van spontane passie.

Die goeie nuus is egter dat die aand vir wanneer jy daardie afspraak beplan, geensins voorspelbaar hoef te wees nie. Besluit van meet af aan om alles so onvoorspelbaar moontlik te hou. Gaan koop vir jou nuwe onderklere en klere in ’n kleur wat jy nooit gewoonlik dra nie. Bespreek ’n ete by ’n restaurant waar julle nog nie voorheen was nie en bestel geregte wat julle nie gewoonlik eet nie. Maak seker dat jy van a tot z daardie dag alles doen op ’n manier wat jy dit nie gewoonlik doen nie. Raak aan hom op ’n ander manier as gewoonlik, praat oor ander onderwerpe en as julle later die aand by die huis kom, en jy nie gewoond is om voor hom uit te trek nie, doen dit. Doen dinge wat jy nie gewoonlik in die slaapkamer doen nie. Dit alles gaan maak dat dit vir hom voel asof hy jou dalk nié so goed ken soos hy gedink het nie en dit voeg ’n tikkie misterie by julle reeds gevestigde verhouding.

Wenk: Doen waarlik moeite wanneer julle ’n geskeduleerde afspraak het. Bestee tyd daaraan om die regte atmosfeer te skep, met kerse, aromaterapie-olies, musiek en ’n goeie smeermiddel.

8) Glad soos sy

’n Man hou daarvan om te vat. ’n Man het eenkeer gesê wanneer hy aan ’n vrou raak, voel dit asof hy warm sy aanraak. Om jou lyf sag te hou van kop tot tone, is ’n besliste turn-on vir manlief. Dit sluit alles in. Mans het al hoeveel keer getuig dat hulle graag hul vingers deur vroue se hare wil trek, sonder dat dit ’n ruk-ruk beweging tot gevolg het weens te veel haarsproei! Wees daarom seker dat jy die regte opknapper vir jou haartipe gebruik.

Daar is niks lekkerders as om teen jou man op te kruip onder die duvet nie. Verbeel jou jy vryf jou voete teen syne en sy eerste woord is: ’Ouch!’ Maak seker jou voete voel ook soos sy, eerder as skuurpapier. Omdat vroue dikwels hul voete onder toe skoene wegsteek in die wintermaande, vergeet ons maklik van dié stukkie anatomie en is dit een van jou eerste liggaamsdele wat dié tyd van die jaar weggesteek word. Baie mans beskou egter voete as ’n erotiese sone van jou lyf. Gebruik ’n puimsteen om jou voete glad te skuur, druk die velletjies terug, en wend genoeg room aan elke voet. As jy boonop vars naellak aanwend, gaan dit vir jou man wys dat jy aandag aan besonderhede gee.

Dan is daar natuurlik die beenhare. Toe julle pas uitgegaan het, sou hy jou nie dood met ongeskeerde bene vang nie – wie het gesê dinge moet nou verander? Dit is nie net jou bene nie, maar ook jou onderarms, bikinilyn en sekere areas op jou gesig. Vandag is vroue se opsies eindeloos – skeer, haarverwyderaars, laser, elektrolise, knyptangetjies en waks maak die lewe vir vandag se vrou soveel makliker (as jy ’n skreeuende vrou op ’n terapeut se bed met ’n waks-velletjie ’maklik’ kan noem).

Wenk: Meng een koppie suurlemoensap, kaneel, twee teelepels olyfolie, ’n kwart koppie melk en genoeg water om ’n wasbak te vul. Laat week jou voete vir minstens vyftien minute. Jou voete sal geurig, verfris en satynsag voel!

9) Wees speels verby…

Toe julle mekaar ontmoet het, was julle waarskynlik nog jonk en sorgvry. Die lewe was ’n lied en rekeninge, werkspanning en probleme soos menopause en premature ejakulasie was nie in julle verwysingsraamwerk nie. Julle het saam spookasem geëet, gaan dans tot die son opkom, by mekaar se koshuise in- en uitgeglip, en mekaar gekielie tot die trane geloop het. Jy dink deesdae dat daar nie meer tyd is vir laf wees nie. Julle is volwasse en die lewe is vol probleme. Dink egter terug aan hoe lekker daardie speelsheid in julle verhouding was en hoe dikwels so ’n histeriese lagsessie in ’n goeie soen ontaard het. Soms is ’n bietjie lafheid al wat nodig is om julle weer aan julle dae as jong verliefdes te laat terugdink en julle tydelik te laat ontsnap van die realiteite waarin julle nou leef.

Wenk: Wanneer julle op die bed lê, soen sy naeltjie en verf hom vol sjokoladeverf. Sit ’n lekker CD aan en begin voor hom dans… enigiets wat jou laf en ongeïnhibeerd laat voel – dit sal wondere vir julle sekslewe doen!

10) Dra jouself met trots

Jy mag jou dalk bekommer oor of jou swart top dieselfde swart as jou swart broek is, maar manlief het nie ’n saak hiermee nie. Die enigste keer wanneer hy hom bekommer oor jou klere, is waarskynlik wanneer kwantiteit ter sprake kom! Waarvan ons hier praat, is houding. As jy besluit het om jouself absoluut onweerstaanbaar te ’kweek’, is dit tyd dat jy onweerstaanbaar dink. Dit is natuurlik om tydskrifte deur te blaai, flieks te kyk en ineen te krimp omdat jy nie so lyk nie, en daarom is dit belangrik om te werk aan jou selfbeeld. Negatiewe energie beroof jou bloot van vitaliteit.

Wenk: Moet nooit oor jou voorkoms in die openbaar fuss nie. Om herhaaldelik ’n handspieëltjie uit jou handsak te haal om na jou hare te kyk, kommunikeer dat jy onseker is van jouself en dat jy high maintenance is. As die wind jou hare deurmekaar waai, geniet jou windverwaaide voorkoms eerder as om negatiewe aandag aan jouself te gee. As jy vir jou eie foute uitkyk, gaan ander ook.

Nog agt wenke . . . vir hoe om die passie weer te laat brand

  • Maak daarvan ’n ritueel om saam te gaan slaap. Lê in sy arms vir ’n paar minute voor julle soen en aan die slap raak. Bid saam of gesels oor die lekker dinge wat die dag gebeur het. Laat saam aan die slaap raak, gom word wat julle nader aan mekaar bring.
  • Vind uit wat jou maat se wildste fantasie is. Of dit is om in die vliegtuig se badkamer seks te hê of ’n hoë berg uit te klim. Selfs al is dit iets wat jy ongemaklik mee voel, doen dit. Toe julle uitgegaan het, het jy gemaak of jy sy liefde vir Tarantulas deel, onthou jy?
  • Wanneer julle ook al verveeld is, gaan lê plat op die woonkamervloer en begin stoei. Niks té rof nie, maar iets wat julle nader aan mekaar kan bring en – weereens – die speelsheid terug in jul verhouding bring.
  • Gaan neem saam ’n prettige foto in een van daardie fotohokkies in die winkelsentrums waar jy geld ingooi. Dit is prettig, jy kan laf wees en dit is ’n lekker ervaring. Jy kan boonop terugkyk na die foto en jare daarna nog onthou hoe lekker dit was om die foto’s te laat neem.
  • Voor jy soggens werk toe gaan, laat die badkamer en die badkamerspieël opstoom. Skryf dan ’Ek’s lief vir jou’ of enige ander boodskap. Selfs al verdwyn die stoom, sal die vertrek weer vol stoom word sodra hy stort en hy sal jou boodskap sien.
  • Maak ’n doelbewuste besluit om mekaar elke dag julle tyd te gee. Toe jy jonger was, het jy klasse gemis en uit jou pad gegaan om tyd vir hom te maak. Dit is wonderbaarlik wat dit vir jou verhouding kan beteken wanneer jy net vyf of ses keer per dag ’n paar minute tyd maak vir mekaar.
  • Skaf ’n watergeweertjie aan en vul dit met sjampanje! Dit kan soveel pret wees! Elke kind het een en hulle is skadeloos. Gee vir jou maat een, toegedraai in mooi papier. Wanneer hy syne oopmaak, val aan met jou eie een!
  • Die kuns van aanraking is genoeg om julle weer met mekaar te laat konnekteer. Gee hom ’n massering, laat hom bloot met sy kop in jou skoot lê en stoot jou vingers deur sy hare. Jou aanraking alleen kan veel meer sê as wat jy met woorde kan.