My verloofde is ’n paar maande gelede met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer. Ek het nog nooit daarmee te doen gehad nie – hoe kan ek dit verstaan en dinge vir haar makliker maak?

My tweede vraag: Ja, ek is die skuldige een . . . ek het net gesels en daar was geen seks-chat by betrokke nie, maar my verloofde het dit uitgevind en dit het in ’n groot gemors ontaard. Die vrou met wie ek gepraat het, bly my verloofde lastig val op enige moontlike manier, en kry selfs mense om haar te bel en boodskappe te stuur. Ek het my verloofde nou nog liewer as ooit – hoe bewys ek dit aan haar?

Kobus en Linda Pauw , verhoudingsafrigters en sprekers, antwoord:

In die eerste plek wil ons jou net eer vir die manier waarop jy by jou verloofde staan en wil staan.
MS is ’n siekte wat baie verskillende gevolge kan hê en om dit alles hier te bespreek, is volgens ons ongelukkig nie die forum nie. Ons sou voorstel dat jy saam met jou verloofde ’n dokter gaan sien en ook hoor waar daar dalk ’n ondersteuningsgroep is vir persone wat met MS gediagnoseer is.

Jy kan gerus ook die Internet raadpleeg om te sien wat persone kan doen wie se maat, verloofde of eggenoot hierdie siekte het. Die raad en die inligting is baie prakties en die voordeel is ook dat jy vrae kan vra op van die webtuistes, wat dan direk aan julle antwoorde sal kan verskaf wat spesifiek op julle behoeftes van toepassing is. Die webtuiste wat ons in Suid-Afrika aanbeveel, is www.multiplesclerosis.co.za. Daar is egter wêreldwyd organisasies wat mense en families in hierdie uitdaging ondersteun.

Ons dink dat ’n vertrouensbreuk ontstaan het by jou verloofde met die gesprekke wat daar op Facebook kon wees. Wees bewus daarvan dat hierdie gesprekke nie noodwendig altyd na die seksuele moet verwys nie – dit kan net emosionele gesprekke wees en veral met die situasie waarin jou verloofde haar tans bevind rakende haar gesondheid, kan enige emosionele uitreik na iemand anders vir haar ’n bedreiging wees. Sy kan voel dat sy nie goed genoeg is nie en dat sy ook nie goed genoeg vir jou sal wees nie.

Sy het nodig dat aan haar bewys word dat jy by haar sal staan. ’n Makliker manier is om eenvoudig jou Facebook-rekening en -bladsy toe te maak. Dan kan niemand jou op hierdie manier opspoor nie. Maak ook alle ander tegnologie, soos eposse, SMS’e en WhatsApp’s van jou kant af oop vir haar om enige tyd na te kyk. Dit behoort haar vertroue terug te bring. Ons weet dit is nie altyd lekker om só onder ’n vergrootglas te leef nie, maar soos wat die vertroue terugkom, sal haar behoefte om na jou boodskappe te kyk ook vervaag en dan later verdwyn.

’n Ander keuse wat jy kan maak, is om te kies om met niemand anders jou emosionele behoefte te bespreek behalwe jou verloofde nie. Laat haar gekies voel in alle omstandighede. Sy het hierdie versekering nou meer nodig as ooit. Vind verder uit wat haar veilig sal laat voel in julle verhouding en vra haar om baie prakties te wees in haar antwoorde. Begin dan om dit spesifiek te doen.

Vra dan ook gereeld (verkieslik maandeliks) of sy nog gekies en veilig by jou voel. Vra haar ook wat die rede vir haar antwoord is. As sy aandui dat sy wel gekies en veilig voel, hou aan om te doen waarmee jy dan besig is – dit werk. As sy egter sê dat sy nie só voel nie, vind uit wat jy gedoen het om haar só te laat voel en besluit om met hierdie aksies te stop en die teenoorgestelde te begin doen.

Indien julle sukkel om dit op julle eie reg te kry, sou ons aanbeveel dat julle professionele hulp kry om julle oor hierdie hekkies te help. Baie sterkte met julle pad vorentoe.