Jy hoor dit oral – preke, motiveringspraatjies, artikels en televisieprogramme wat verklaar dat jy jouself en jou lyf (ja, jou héle lyf!) moet liefhê. Dat jy eintlik veronderstel is om kaalbas onder die maanlig te dans en voor manlief moet paradeer in jou Evasgewaad … maar jy kán nou maar eenmaal nie ’n glasie klink op jou deegmagie nie.

In 2012 het die Daily Mail-joernalis Samantha Brick groot opslae verwek toe sy ’n artikel geskryf het onder die opskrif: “There are downsides to looking this pretty: Why women hate me for being beautiful”. Sy het geskryf hoe mans haar hele lewe lank al in restaurante vir haar bottels wyn na haar tafel toe stuur, hoe mans al vir haar treinkaartjies en taxigeld betaal het en hoe vreemde Adams al op straat vir haar bosse blomme gegee het. “Selfs kroegmanne shoo my kredietkaart weg wanneer ek probeer om die rekening te betaal,” skryf sy.

Sy het genoem dat hoewel sy geen Elle Macpherson is nie, sy lank, maer, blond en aantreklik is. “Maar daar is nadele daaraan om só mooi te wees – die hoofsaaklike een is dat ander vroue my haat vir geen ander rede nie as vir my mooi voorkoms.” Ná die publikasie van die berig het ’n herrie losgebreek! Mense het gereageer oor hierdie vrou se uitlatings en super-gesonde selfbeeld en baie het haar voorkoms gekritiseer en gesê sy is nie in die posisie om so goed oor haarself te voel nie. En ja, hoewel haar opmerkings waarskynlik aan arrogansie grens en sy die hele Evasgeslag daarmee gekritiseer het, het sy tog maar eintlik gedoen wat almal ons al vir soveel jare aanraai om te doen … sy het haarself embrace.

Kom ons gee die vrou krediet! Dit is nie maklik om verby al jou figuurfoute en die skaal se uitspraak te kyk en die mooie jy tussen jou plooie, selluliet en ekstra kilo’s te vind nie.

Ons almal ken die scenario. Jy beplan ’n romantiese ete vir manlief, waarna jy hom wil verlei met allerhande sensuele bewegings in jou supersexy onderkleertjies. Tot daardie stuk filet swaar in jou krop lê en jy sien hoe die drie-kinders-later magie oor jou kleinbroekie se rek tuimel. Wat dink jy op daardie oomblik? “Nee wat, hierdie lyf is nie welkom in die wêreld van sensuele onbetaamlikheid nie!”

Riëtte Rust het’n boek geskryf getiteld Lang bene & Lipstiek – Gebruik jou seksualiteit en behaal sukses (Naledi, 2011). Hierin omskryf sy die nuwe gonswoord en sê wat dit vir ’n mens kan beteken om erotiese kapitaal te kry. In haar boek is dit ook duidelik dat erotiese kapitaal nie veel met klere-grootte of voorkoms te doen het nie. Wat ís erotiese kapitaal?

Riëtte vertel: “Dis die nuwe gonswoord vir daardie X-faktor wat tot dusver onbeskryf is. En méér. Dis seksualiteit ineengevleg met selfvertoue, sprankel en lewenslus. Erotiese kapitaal (EK) is ’n natuurlike aantrekkingskrag wat jou onweerstaanbaar maak. Die term is deur dr Catherine Hakim, ’n sosioloog aan die London School of Economics, geskep. Erotiese kapitaal is dié belangrikste professionele eienskap wat nodig is vir sukses in die komende dekade, sê sy. Om EK te kan hê, moet jy ses eienskappe aanleer. Ek brei daarop uit in my boek.”

Riëtte sê: “Sedert ek die boek geskryf het, het ek ons menslike ysbeer, Lewis Pugh, ontmoet. Hy swem in water wat benede vriespunt is. Lewis is nie net aantreklik nie, maar nederig, sprankelend, waagmoedig, intelligent en hy laat ’n vrou kosbaar voel. Hy is die verpersoonliking van EK. Ander wat dit het, sluit in Jeanie D, Michael Mol, Tammy-Anne Fortuin (wat so lekker lag), Chris Chameleon (oor hy so pragtig Afrikaans praat, sulke goeie maniere het en misterieus is), die Britse sjef Nigella Lawson, Prinses Diana (oor haar sosiale intelligensie) en Steve Hofmeyr. Ek was nie ’n bewonderaar van Hofmeyr nie, todat ek hom ontmoet en ook in ’n Speedo gesien het! Almal van hulle sprankel en het ’n passie vir wat hulle doen. In my boek is ’n hele lys bekendes wat ek reken EK het.”

Riëtte meen jy kán erotiese kapitaal aanleer. So, basta met jou skinny jeans. Dis nie daardie paar jeans wat bepaal hoe sexy jy is nie. INTIEM se seksuoloë vertel ons nou al hóé lank dat die grootste seksorgaan jou brein is. Jy ís so sexy soos jy voel en erotiese kapitaal het niks met wortels en seldery te doen nie. As jy aanhou vaskyk in jou heupe in plaas van fokus op hoe jy kan heupswaai, gaan jy nooit sexy voel nie (te wyte aan die lyflike standaarde wat die media daar buite en gevolglik jy aan jouself stel). Dit laat die meeste van ons met twee scenario’s …

SCENARIO nommer 1: Maak vrede met jou lyf (bunions, love handles, ingroeihaartjies en al!). En vier jou vrouwees deur ’n glasie op Botticelli te klink! Word ’n eienaar van erotiese kapitaal.

Of

SCENARIO nommer 2: Dóén iets aan die lyf waarmee jy ontevrede is. En nou praat ons nie van kitsdiëte, eetlusdempers en ultramarathons nie … word ’n gutsy girl.

Besluit sommer nou in watter kategorie jy val en volg ons wenke. En hier is die heel beste nuus van alles – dit maak nie saak in watter kategorie jy jouself sien nie, jy kan voordeel trek uit beide se wenke!

As jy ’n Botticelli-muse wil wees …

Dan is jy waarskynlik moeg vir die druk van buite af om die perfekte figuur te hê en het jy besluit om jou lyf onvoorwaardelik te aanvaar (mits die ekstra kilo’s natuurlik nie vir jou ’n gesondheidsgevaar inhou nie). Jy het besluit om minder tyd te spandeer aan die mantra: “Eendag, as ek maer is … ” en te lewe vir die híér en nou.

  • “Jy hoef nie besonder slim, maer of ryk te wees nie, maar jy moet trots wees op jou vroulikheid,” vertel Riëtte. “Erotiese kapitaal kom van binne, dis daardie tuiswees in jou eie vel – selfs al het jy nie die lyf van ’n Barbie nie. Die volronde sangeres Sarah Theron sê byvoorbeeld sy dink sy is ’n nommer 32. Daarom sien ander haar ook as sexy.”
  • Riëtte beveel ook aan dat jy trots word op jou heupe, bene, borste en alles wat jou ’n vrou maak. “Jy sal dan onbewustelik erotiese kapitaal projekteer.”
  • Leef deur jou sintuie. Moenie deur die lewe jaag nie. Proe, voel, hoor, sien, ruik en raak aan die wêreld. “Moet byvoorbeeld nie ’n lemoen so vinnig as moontlik voor die TV eet nie, maar proe en beleef elke vesel,” reken sy.
  • Het jy geweet dat een van ’n goeie bellydancer se bates ’n lekker magie is? So, span joune in en skryf in vir bellydancing-klasse. Dit sal jou in voeling bring met jou eie lyf en jou leer hoe om jou kurwes sensueel te beweeg vir manlief se kykgenot!
  • As jy honger voel, smul aan ’n heerlike bord pasta, salm, groot, ryp vrugte – goeie, heilsame kossoorte – en een of twee glase wyn. Geniet dié kos in oorvloed! Maar vermy kitskos, wegneemetes, gaskoeldrank en goedkoop kilojoules. Daar is ’n reuse verskil tussen ’n gesonde oorgewig vrou en ’n ongesonde oorgewig vrou. En wie wil nou soos ’n quarter pounder voel?
  • Eksperimenteer met kossoorte. Jy het jouself die lisensie gegee om te kan speel met kleure, reuke en smake, so wees waaghalsig. Die feit dat jy kos kan geníét, is een van jou aantrekkingskragte. Span dit in!
  • Jou veloppervlak is dalk groter as die meeste vroue s’n. Sorg dat jy hierdie vel van jou oppas en bederf. Nie net gaan jy gloeiend en gesond lyk met ’n bevogtigde vel nie, daar is min dinge so sensueel soos om jouself met room te smeer. Só kom jy in voeling met jou eie lyf en die sensasies van jou vingers op jou vel.
  • Smeer jou lippe bloedrooi, kleur jou hare pikswart of dra die bontste lappe wat jy in die hande kan kry om jou lyf! Jy wil nie verdwyn in die bondel nie, jy wil opgemerk word – jy ís immers ’n volbloed-Eva. Sorg dat mense jou raaksien.

As jy ’n gutsy girl wil wees …

… En jy is nog nie waar jy wil wees wat jou lyf en gewig betref nie, moet jy iets aan die saak doen. Dit strek nie tot jou voordeel om onnodige gewig met jou saam te dra nie en as jou figuur jou pla, gaan oor tot aksie, want dit is nie die moeite werd om ongelukkig te wees en toe te laat dat jou lyf jou en jou sekslewe inhibeer nie.

  • Hou op om jouself te ontneem! Ons praat nie van kos nie. Daardie mooi nommer 34-nagrokkie in die winkelvenster waarmee jy jouself straf – gaan vra die winkel-assistent of sy dit in jou nommer het en trek dit vanaand aan. Hou ook onmiddellik op met die gedagte: “Ek sal weer sexy aantrek wanneer ek tien kilo’s verloor het.”
  • Magda Maas, stigter van die maatskappy Gutsy Girls Lifestyle, meen dit neem guts om leefstylveranderinge te maak en dat almal oorweldig voel deur al die diëte, pilletjies, poeiertjies en inligting wat jou sensoriese brein oorweldig. Die Gutsy Girls motiveer vroue wat vet en vervelig voel om die regte keuses te maak en daarby te hou. “My benadering tot gesondheidsdoelwitte is om jou te help om jou selfvertroue terug te kry op ’n prettige, eenvoudige manier. Om die regte keuses te maak. Vir my gaan dit oor mission nutrition op ’n sellulêre vlak, sonder die verskonings,” sê Magda.
  • “Besef die volgende: Almal weet dat vet wees ’n vrou in haar dop kan laat kruip en haar selfvertroue kan steel, maar min mense besef hoe dit jou siel en liggaam uitput,” vertel Magda. “Vergeet die dokters en die pille, want al wat hierdeur behandel word is jou simptome. Net jy kan die besluit neem om iets aan jou ‘siekte’ te doen.”
  • Weg met die verskonings. Magda vertel: “’n E-pos veldtog wat ons gedoen het, het getoon dat vroue hulself heeltyd ‘verskoon’ deur te sê dat hul mans en kinders al hul krag en energie vat en dat dít hul plig en eerste prioriteit is. Ek sê: ‘Basta hiermee!’. Dit is nie jou roeping om ’n slaaf te wees nie, dit is jou roeping om die verskonings te laat staan en iets aan daardie vet en moegheid te doen. Gutsy Girls leer jou graag twee dinge wat anders is as ander geheime tot gewigsverlies: Jy moet jouself in jou eie lyf vind en jou eie ritme ontdek. Met ander woorde: Kyk binnetoe as jy buitetoe wil beweeg.”
  • En intussen: Hê seks met die ligte aan. Glo ons wanneer ons sê dat jou man nie kyk na die drie kilo’s wat jy die afgelope vakansie aangesit het nie omdat hy maar te dankbaar is vir elke kaal sentimeter van die lyf wat hy onder al daardie lae klere so begeer.