My oudste is glad nie ‘n vrugte (of groente) liefhebber nie. Maar as ‘n mamma probeer ons maar altyd ‘n manier vind om ‘n vrug of groentetjie iewers in te werk.

My man pak elke aand die seuns se kosblikke (it’s a blessing…i know). So is ek verlede Woensdag aand besig met vinnige-aandete (aka ham-en-kaas rolletjies) en besluit toe om sommer my oudste se kosblik te pak. Ek sien toe dit as ‘n goue geleentheid om sommer ‘n appel in te werk. Omdat ek weet hoe vol nonsens hy is, bestudeer ek daai appel van hoek tot kant vir enige vrot- of kneus plekkie. Daai appel is so mooi en blink soos die appel in Sneeuwitjie.

Die aand by die huis sit ek op die toilet (probeer 5 minute van stilte beleef), toe ek hoor daar is drama in die kombuis. Pappa vra vir Jordan of hy sy appel geëet het. Ek hoor die commotion en hoe Pappa sê : “Gaan na jou Ma toe!” Ek val amper in die toilet van skok. Regtig?! Kan ek nie eers in vrede probeer (let wel…probeer) badkamer besoek nie? Nou staan die hele huishouding voor my terwyl ek (broek op die enkels) op die toilet sit. Almal babbel tegelyk en so deur die geraas besef ek dat die manne nou aan my probeer verduidelik wat eintlik by die skool gebeur het. “Het jy jou appel geëet?” vra ek. “Ja, Mamma” kom die antwoord terug. “Jy ken my reëls…praat die waarheid dan kry jy min moeilikheid. Jok vir my…dan kry jy baie moeilikheid. So ek vra vir die laaste keer…het jy jou appel geëet?” Diè ou se gesigs uitdrukking sê alles…”Nee, Mamma” Hy probeer nog verduidelik dat die appel vrot was en daarom het hy dit in die drom gegooi. Ek weet nie hoe om te reageer nie. Ek stuur hom kamer toe en sê hy moet gaan dink hoe hy gestraf moet word. So gee dit vir my kans om te dink, want ek weet self nie hoe ek die saak gaan benader nie. Nou gee ek maar oor – ek sal nou maar moet opstaan van die toilet af. In die kamer sê-bid ek hardop…”Here, lei my. Help my om my kind reg groot te maak. Help dat ek hom ‘n les sal leer, sonder om hom skade aan te doen. Ek weet nie hoe om hom te straf nie, Here”

Oppad kamer toe weet ek steeds nie hoe om hom te straf nie. Hy staan in die kamer en huil. Ek vra hom wat hy dink ‘n ‘goeie straf’ sal wees. Al wat uitkom in ‘n sagte fluister stemmetjie is: “Ek weet nie Mamma” terwyl die trane oor sy wange rol. My hart is seer vir my kind, maar ek weet dat ek vir hom ‘n les móét leer.

“Okay…ek gaan jou twee keer straf. Nr 1…omdat jy vir my gejok het. Daarvoor kry jy chilli sous in jou mond. Want as ek nou vir jou ‘n pakslae gaan gee, gaan dit baie makliker wees om volgende keer vir my te jok. Die pakslae gaan jy vergeet, maar die brand op jou tong sal jy onthou. Nr 2…omdat jy jou appel in die drom gegooi het terwyl daar mense is wat doodgaan van die honger. Daarvoor moet jy R20 uit jou spaarbussie haal en ‘n sak appels gaan koop. Dit sal jy uitdeel aan die mense langs die pad wat nie kos het nie.”
Hy is eers nie gelukkig oor die feit dat hy R20 van sy eie geld moet vat nie. Hy spaar dan nou so lank om vir homself Lego te koop. Maar sy houding verander gou toe ek aan hom noem dat hy baie bly kan wees dat ek nie gesê het hy moet al die geld in sy spaarbussie gebruik om appels te gaan koop nie.

Na ek die chilli sous (nie eers die grootte van ‘n ertjie-korrel) op sy tong gesit het, gaan hy huil-huil terug kamer toe. Ek los hom vir so 5 minute en gaan toe in. Ek verduidelik mooi hoekom ek gedoen het wat ek gedoen het. Ek kniel ook langs hom en begin bid…vir wysheid…en dat my kinders altyd sal weet hoe lief ek hulle het…selfs al sit ek chilli sous in hulle mond.

Ons Sondag-mission was dat hy die appels moes gaan uitdeel het. Ek glo dat hy ‘n dure les geleer het. En hy sal twee keer dink voordat hy weer sy appel in die drom gooi…of voordat hy weer vir my jok.

Ek besef dat daar geen boek is wat ons ooit sal kan help om ons kinders reg groot te maak nie. En dis okay om nie altyd te weet hoe om op te tree in sekere situasies wat ons kinders aanbetref nie. Ons het nie altyd die antwoorde op ons kinders se vrae nie…en dis okay.

My gebed is dat God elke mamma sal seën met wysheid.

#VROUWEES

Groete
~M~