Jy en jou lewensmaat wil die beste vir jul gesin hê, maar jy hoor soveel rillerverhale van tegnologiese vooruitgang en die uitwerking daarvan op die samelewing. Is biotegnologie veilig?

Biotegnologie of geneties gemanipuleerde organismes (GMO’s) is vir baie mense ’n vreemde en selfs skrikwekkende konsep, maar dit is ongetwyfeld deel van die moderne samelewing.

Dit is daar om baie mense se lewensgehalte te verbeter – hetsy in dieregesondheid, op mediese terrein, in die landbousektor, in mynwese of ander omgewingswetenskappe. Dit is ’n wetenskap wat nie geïgnoreer kan word nie.

Mense is geneig om – net soos met die eerste entstof of hartoorplanting – op hul hoede te wees vir nuwe tegnologie. Met biotegnologie word biologiese stelsels of lewende organismes aangewend om produkte of prosesse vir spesifieke gebruik deur die samelewing aan te pas.

Dié tegnologie word wyd aangewend – in die mediese, farmaseutiese, veeartsenykundige, mynbou-, landbou- en omgewingsbewaringsektore. Dit is die sleutel tot volhoubare ontwikkeling op heelwat terreine en dus kan ’n mens die voordele hiervan nie ignoreer nie!

Met plantbiotegnologie word selektiewe eienskappe by bestaande plante gevoeg om nuwe plantvariëteite te ontwikkel! Waar met tradisionele plantteling die kruising van honderde gene ter sprake is, word in plantbiotegnologie slegs op ’n enkele, wenslike geen gefokus.

Dis ’n meer noukeurige wetenskap wat planttelers daartoe in staat stel om gewasse te ontwikkel wat spesifieke, voordelige eienskappe besit – die tegnologie beteken selfs dat ongewenste eienskappe uitgeskakel kan word!

Biotegnologiese gewasse en die voedsel- en veselprodukte wat daaruit ontwikkel word, word op ’n groot skaal getoets, getipeer en beheer. Die GMO-bedryf word baie streng deur wetgewing, regulasies, proewe en toetsing beheer. Alle biotegnologiese gewasse wat tans wêreldwyd vir kommersiële gebruik goedgekeur is, is deeglik beoordeel volgens internasionale riglyne en beginsels.

In Suid-Afrika het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye saam met ander regeringsdepartemente gespan om ’n beheerstelsel te implementeer wat die potensiële uitwerking van GM-tegnologie beoordeel en monitor. Alle aansoeke word geëvalueer ingevolge die Wet op GMO’s, 1997 (Wet 15 van 1997).

Dit bepaal dat alle geneties-gemodifiseerde (GM)-gewasplante wat as voedsel of as voedselprodukte gebruik gaan word (volgens die Suid-Afrikaanse GMO-wetgewing) verplig word om ’n deeglike en streng voedsel- en voeding-veiligheidsbeoordeling te ondergaan. Dit moet plaasvind vóór die plante en produkte vir kommersiële vrystelling goedgekeur kan word.

Omvattende bewyse staaf nie net produkveiligheid nie – dit wys ook die voordele vir die omgewing uit!

In Desember 2010 het die Europese Kommissie ’n samevatting gepubliseer, wat die resultate bevat van 50 navorsingsprojekte wat die veiligheid van GMO’s in die omgewing en vir die gesondheid van mens en dier bespreek.

Ons word voor talle hedendaagse uitdagings gestel en die gebruik van moderne tegnologie kan ’n groot rol speel as dit kom by dié uitdagings en risiko’s.

“Ons soek na ’n wye reeks geïntegreerde oplossings om produsente te ondersteun en daarom fokus ons navorsing op die verbetering van boere se produktiwiteit, ongeag die grootte van hulle ondernemings en die manier waarop hulle verkies om te produseer,” sê Magda du Toit, bestuurder van korporatiewe skakeling en kommunikasie by Monsanto Suid-Afrika.

Die Internasionale Diens vir die Verkryging van Landboubiotek-toepassings (ISAAA) het pas hulle nuutste verslag vrygestel waarin hulle aandui dat die aanvaardingspersentasie van biotegnologie ongeveer 110% oor die afgelope 21 jaar was. Vanaf 1996 tot 2016 het die hektare wat met dié gewasse geplant is, wêreldwyd gegroei vanaf 1,7 miljoen hektaar tot 185,1 miljoen hektaar.

Die ISAAA-verslag demonstreer ook die betekenisvolle voordele van GM-gewasse vir boere in ontwikkelende en geïndustrialiseerde lande, asook die voordele vir die man op straat. Volgens Brookes & Barfoot (2017) speel biotegnologie-gewasse ’n groot rol in voedselsekerheid, volhoubare produksie en om ’n beter omgewing daar te stel omdat dit die gebruik van insek- en onkruiddoders verminder.

In hul onlangse verslag rapporteer die ISAAA dat die aanvaarding van die tegnologie CO₂-vrylatings in so ’n mate verminder het dat ’n mens dit kan vergelyk met die verwydering van ongeveer 12 miljoen karre vanaf die paaie!

Die ISAAA sê voorts dat biodiversiteit bewaar word omdat sowat 19,4 miljoen hektaar minder landbougrond gebruik word danksy opbrengsverhogings weens biotegnologie. Daar was ook ’n 19% vermindering in die gebruik van onkruid- en insekdoders, wat die impak van landbou op die omgewing geweldig verminder.

Boonop het die plant van GMO-gewasse die voedselkwessie in ontwikkelende lande aangespreek omdat hoër opbrengste en die produsering van beter gehalte graan voedselsekuriteit verhoog het.

Volgens die nuutste Brookes & Barfoot-verslag van 2017, het die plant van GMO-gewasse nie net die vraag na voedsel aangespreek nie, maar ook die inkomste van 18 miljoen kleinskaalse boere verbeter. Dit beteken beter finansiële stabiliteit vir meer as 65 miljoen mense.

“Oor die afgelope 20 jaar het boere, waar hulle die keuse gegee is om die tegnologie te gebruik, dit toenemend aangewend en so bygedra tot volhoubare voedselproduksie en omgewingsbewaring,” sê Graham Brookes, direkteur van PG Economics en mede-outeur van die verslag.

Gaan lees meer oor die toepassing van biotegnologie by http://www.isaaa.org, www.pgeconomics.co.uk of www.monsanto.com. (Lees meer by http://ec.europa.eu/research/biosociety/pdf/a_decade_of_eu-funded_gmo_research.pdf. Of by http://www.sho.int/foodsafety/publications/biotech/20questions/en/.)

Bronne: Julian Raymond Park, Ian McFarlane, Richard Hartley Phipps en Graziano Ceddia; Fakulteit van Landbou, Beleid en Ontwikkeling, Reading Universiteit, Reading, RG6 6AR, Brittanje; Plant Biotechnology Journal (2011) 9, pp. 2–21, 10.1111/j.1467-7652.2010.00565).