Daar is tradisionele huwelik en egskeidings . . . en dan is daar onkonvensionele situasies waarin paartjies en ekse hulself bevind. Sommige paartjies ontdek dat die ongewone vir húlle werk.

Deur Annelize Steyn

Terwyl Dalene besig is om ’n hoendergereg in die kombuis voor te berei, sit Johan in sy studeerkamer, besig om die nuutste Tweede Wêreldoorlog-modelletjie te bou. Klein Rieghard (7) kyk televisie en Johanné (17) is besig met huiswerk. Op die oog af lyk die Genisse soos ’n doodnormale gesin. Maar wat ander bewoners straat-af dalk nie weet nie, is dat Dalene en Johan al meer as drie jaar lank geskei is.

Die probleme het in 2005 begin. Teen die einde van 2007 het Dalene vir Johan gesê sy dink dis beter as hulle skei. Hulle het alles in hul vermoë probeer om die huwelik te red en hierdie worstelende stryd het hulle nader aan God gebring, vertel Dalene. Maar hul probleme, onder meer die verlies aan intimiteit tussen hulle, het ’n seer wond geword wat hulle bloot nie meer kon verwerk nie. In ’n laaste reddingspoging is klein Rieghard onbepland op ’n huwelikskamp verwek. Die stresvolle swangerskap en daaropvolgende geboorte het verdere stremming op hul huwelik geplaas en hulle is in 2010 van bed en tafel geskei. “Dit het ons ’n tyd geneem om te besluit hoe ons dinge gaan doen van daar af. Ons het baie trane gehuil, baie gebid – en in 2012 is ons finaal geskei,” vertel Dalene.

Toe hulle na sake soos finansies en leefomstandighede rondom ’n egskeiding kyk, het baie vrae ontstaan. Hoe sou twee afsonderlike huishoudings werk? Sy was ’n sielkundige wat op daardie stadium weer oor naweke die verhoog wou betree as ’n country-sangeres en hy was ’n mynkaptein wat soms skofte moes werk. Nadat hulle die situasie van alle kante af bekyk het, het hulle uiteindelik die omstrede besluit geneem om saam onder een dak te bly woon.

“Ons wou in die belang van die kinders optree deur nie in twee huise in te trek nie, want dit sou hulle finansieel benadeel,” vertel sy. Hulle het besluit om in die twee teenoorgestelde pole van die huis in te trek en ’n paar streng reëls neer te lê. “Ons het besef dat ons ons wrokke en argumente opsy sal moet skuif ter wille van die kinders, maar dit was net moontlik omdat ons albei hoë emosionele intelligensievlakke het en dit daartoe bydra dat ons dinge kon uitpraat en moeilike situasies kon hanteer.”

Op ’n praktiese vlak moes hulle besluit hoe dinge sou werk: Elkeen genereer sy/haar eie inkomste en betaal vir die helfte van alles. Elkeen het sy/haar eie slaapkamer, studeerkamer en ingang, maar hulle deel ’n woonarea en ’n kombuis. Dalene hanteer die kosmakery, was en stryk (ook Johan se klere) en is verantwoordelik vir onderhoud in en om die huis. Kommunikasie is beperk tot administratiewe reëlings, maar hulle eet saam as gesin en speel selfs op Sondae bordspeletjies. Dalene het primêre toesig en beheer oor die kinders, maar wanneer sy oor naweke vir haar sang toer, versorg Johan hulle. Daar is vanuit die staanspoor besluit dat hulle mekaar geensins sou slegmaak by die kinders nie en as ’n span sou saamstaan wat die dissiplinering van die kinders betref. Hul boedel en testament is nie verander nie, omdat die kinders uiteindelik voordeel daaruit gaan trek. Daar is ook nie besluit op ’n spesifieke tydsduur nie en hulle vat dit dag vir dag, vertel Dalene.

Hoewel dit ’n seer egskeiding was, het Johan se betrokkenheid by die kinders dramaties verbeter en Dalene beskryf hom as ’n “fantastiese pa en ’n wonderlike mens”. Sy kyk soms na hom en wonder waarom hulle juis hierdie pad moes stap. Hy is goed vir hul kinders (ook haar twee dogters uit ’n vorige huwelik wat hy soos sy eie grootgemaak het) en doen sy deel. Daar was net té veel verskille en komplekse probleme om die huwelik te laat werk, meen sy. “As mense skei, is daar baie woede en wrokke. Maar ek kan myself nie in ’n situasie indink waar ek hom en die kinders sal straf deur hulle van hom te weerhou omdat ek vir hom kwaad is nie,” vertel sy. Dis amper vier jaar later en hul saambly-situasie geld steeds . . .

Hoe laat jy ’n vredevolle egskeiding vir jóú werk?

Uit ’n professionele oogpunt, vertel Dalene, sou sy nie hierdie situasie vir enige geskeide paartjie aanbeveel nie. “In die geval van emosionele, verbale of fisieke mishandeling kan só ’n situasie byvoorbeeld glad nie werk nie, want die slagoffers moet uit die situasie verwyder word.” Elke paartjie wat dit oorweeg om hierdie roete te stap, moet hul unieke situasie evalueer en besluit of die kinders vir hulle belangrik genoeg is om die opofferings te maak wat hiermee gepaard gaan, beveel sy aan. “Vir só iets om te werk, moet ’n paartjie se kommunikasie en konflikhantering ook goed wees.” Wat gebeur as een party iemand anders ontmoet? In die Genisse se situasie het dit nog nie gebeur nie, maar indien daar wel iemand tot een van hul lewens toetree, is die reël dat daardie maat nie huis toe gebring mag word nie.

Is dit gesond of gevaarlik?

Elke huwelik is uniek. Só ook elke egskeiding. Al meer mense besef dat ’n egskeiding nie noodwendig konfronterend hoef te wees nie en kenners meen dat meer paartjies dit moet oorweeg om so “vriendelik” as moontlik te skei omdat onstuimige egskeidings – én huwelike – kinders nadelig beïnvloed. Hoe meer konflik daar tussen ouers is (hetsy getroud of geskei), hoe moeiliker sal dit wees vir kinders uit daardie huwelik om later in hul lewens intieme verhoudings te ontwikkel. Deesdae besef mense dit en werk selfs harder aan hul egskeidings as aan hul huwelike . . .

Saambly-egskeidings, wat ook nesting genoem word, is aan die toeneem – veral onder paartjies wat tydelik hiermee eksperimenteer tydens die oorgangsproses. Eerstens is dit goedkoper. Tweedens is dit vir albei makliker om na die kinders om te sien en betrokke te wees in hul lewens. As daar verskille is betreffende die egskeiding, gee hierdie saambly-situasie vir ’n paartjie meer tyd om tot ’n vergelyk te kom. En as daar ’n huis is wat verkoop moet word, kan albei steeds finansieel bydra tot dit gebeur. Boonop laat dit die kinders toe om so min as moontlik ontwrig te word deur elke paar dae heen en weer te trek.

Maar is daar werklik minder konflik? Daar is tog wel in sekere situasies, soos hulle s’n, minder konflik omdat daar nie meer sekere verwagtinge is nie en dit konflik in sommige situasies kan verminder.

Die situasie klink dalk ideaal, maar daar is wel slaggate, meen kenners. Dalene erken ook dat dit soms baie moeilik is. Eerstens moet gekyk word na die rede vir die egskeiding. Gaan daardie probleem opgelos word sodra hulle op papier geskei is, maar steeds saam woon? Tweedens kan ’n paartjie wat hierdie roete stap baie kritiek en ’n tekort aan ondersteuning beleef omdat mense nie hierdie onkonvensionele keuse van hulle verstaan nie. En derdens kan dit verwarring by die kinders veroorsaak, want hulle hoor dat hul ouers skei, maar sien dit nie in praktyk nie – só kan ontkenning intree of hulle kan die rouproses bloot uitstel. En die vierde gevaar is dat een party kan aanhou hoop die situasie gaan verander, terwyl die ander party nie dieselfde voel nie.

Hoe laat jy dit werk?

  • Vra mekaar of een van die partye dit doen om die huwelik te red. In daardie geval is berading of terapie ’n gesonder en veiliger opsie.
  • Oorweeg jul kinders in die proses. Gaan dit op die lange duur vir hulle voordelig wees of die rouproses net uitstel? Wil julle dit juis uitstel tot hulle dit beter kan verstaan?
  • Doen julle dit onbepaald of is daar ’n spesifieke datum waarop die ooreenkoms gaan eindig?
  • Besluit hoe dit gaan werk as een van die partye verlief raak en besluit om voortydig uit te trek.
  • Besluit hoe die finansies en verantwoordelikhede tussen die onderskeie partye verdeel gaan word.
  • Bepaal hoeveel van julle “reëls” gaan in ’n kontrak vasgemaak word en hoeveel sal gevolg word op grond van vertroue.
  • Besluit of daar sekere areas in die huis is wat eksklusief vir een party bedoel is en waar die ander party nie mag beweeg nie.
  • Besluit wat is die reëls rakende dating.
  • Besluit hoe gaan julle dit met familie en vriende bespreek.

Die teenoorgestelde situasie

Net soos sommige geskeide pare nie apart wil woon nie, is daar ook sekere getroude pare wat nie saam wil woon nie – hoewel hulle steeds lief is vir mekaar. ’n Lewensafrigter vertel op die Internet hoe sy verskeie variasies van “huwelike” gesien het. In ontwikkelende, arm lande werk die tradisionele huwelik oor die algemeen, want ’n paartjie word gebind deur oorlewing (en soms is liefde nie eers ter sprake nie). In ontwikkelde lande met geriewe, familie, vriende en verskeie belangstellings lyk die situasie anders, en die uitdagings ontstaan wanneer twee uiteenlopende individue saam aan ’n lewe wil bou.

Paartjies word vinnig verveeld en het meer nodig om die vonk aan die brand te hou. Hulle wil intellektueel, emosioneel en seksueel bevredig word. Dit is dan wanneer paartjies na onkonvensionele huwelike begin kyk, soos om uitmekaar te woon.

Soos ’n man en vrou wat weg van mekaar af woon vanweë verskillende leefstyl-voorkeure – sy is super-netjies en hy is ’n versamelaar wat hou van clutter. Of die paartjie wat op ’n sosiale vlak só verskil dat sy dit nie kan verdra om op ’n gereelde basis vriende oor te nooi nie, terwyl hy nie sonder daardie sosiale interaksie kan klaarkom nie. Hy rook, sy kan rook nie verdra nie. Sy is lief vir katte, hy kan nie sonder sy honde klaarkom nie . . .

Dan is daar dié huwelike waar paartjies wel saambly, maar van afsonderlike slaapkamers en badkamers gebruik maak omdat hulle daardie persoonlike ruimte verkies. Op dié manier word klein konfliksituasies vermy en die huwelik word op die lange duur bevoordeel, meen die voorstanders hiervan.

Maar wat het van ’n middeweg geword?

Dit is die vraag wat baie mense sal vra by die aanhoor van bogenoemde situasie. Is paartjies nie meer bereid om mekaar iewers in die middel te ontmoet nie? Om te compromise, is noodsaaklik vir ’n langtermyn verhouding. Julle kan dalk een probleem oplos deur in verskillende huise in te trek, maar dit is nie waar die tegemoetkoming gaan eindig nie en hoe gouer ’n paartjie aan die diep kant ingegooi word, hoe beter.

Dít is hoe jy compromise, meen die webtuiste www.newlyweds.about.com:

  1. Kommunikeer jou behoeftes en begeertes. Jy sê byvoorbeeld: “Ek wil in Pretoria woon, dit is nader aan my werk en dit bied geleenthede vir ons kinders.”
  2. Luister na jou maat. Nadat jy jouself uitgedruk het, moet jou maat kans kry om te reageer. As hy klaar sý mening gelug het, herhaal dit om seker te maak jy verstaan hom reg. “Hoor ek reg as ek sê jy dink die lewe nader aan jou ouers se wildsplaas gaan ons kinders meer oor die lewe leer?” Vermy sarkasme, dis ’n bespreking.
  3. Oorweeg al jul opsies. Julle kan in Pretoria woon, op die wildsplaas woon of iewers tussenin waar julle albei maklik by beide bestemmings kan uitkom. Kyk na die praktiese voordele en nadele en dink as ’n span, en nie as ’n enkellopende persoon nie.
  4. Plaas jouself in jou maat se skoene. Dis moeilik as jy graag jou eie behoeftes en begeertes eerste wil stel. Watter opofferings sal jou maat moet maak as julle na jou kant van die saak luister?
  5. Wees regverdig. Is jy die een wat altyd jou sin kry? Voel jy ingedoen omdat jou maat altyd die besluite neem? Jy is dalk nader aan Pretoria, maar gaan dit jou maat se kilometers verdubbel as julle hier bly?
  6. Neem ’n besluit en hou daarby. As julle al die stappe noukeurig deurgewerk het, behoort julle op ’n middeweg te kan besluit waarmee albei van julle tevrede is.
  7. Maak seker die een wat die meeste van ’n opoffering moes maak, verwyt nie die ander party nie. Julle moet gereeld met mekaar gesels om seker te maak albei is nog gelukkig met die stand van sake.

Addisionele bronne: liereimagined.aarp.org, redbookmag.com, huffintonpost.com, dailymail.co.uk, kidsstay.org.

Lees nog inspirerende artikels in die Feb Maart 2016 Uitgawe van INTIEM Tydskrif, digitaal beskikbaar by http://tiny.cc/INTIEM_Feb_Maart_2016