Hoe kry ’n mens ’n man wat nie vir jou wil geld gee nie sover om dit te doen? Ek is ’n huisvrou en hy koop die kos en betaal die huur, maar verder gee hy my niks nie. Ek kry ’n geldjie by my ma (nie baie nie), maar steeds soek hy van daardie geld. As ek iewers heen wil gaan, moet ek my treingeld betaal. Hoe gemaak?

Gustav en Elna Muller, huweliksberaders, antwoord:

Die gesonde manier om ’n huishoudelike begroting te hanteer, is om dit in die begroting in te werk dat beide die man en vrou elke maand elkeen ’n geldjie vir hulself kry. Met hierdie geld, of dit nou R50 of R500 is wat elkeen kry, kan hulle dan elkeen iets persoonliks doen of koop.

As ’n huweliksmaat onwillig is om hierdie benadering te volg wat die huishoudelike begroting betref, is dit as gevolg van een of meer van die volgende drie redes: Die eerste moontlike rede is “beheer”. Die man het weens die een of ander rede ’n behoefte om sy maat te beheer en een van die maniere hoe hy dit doen, is deur finansies van haar te weerhou. Die tweede rede is dat hy nie daarvan bewus is dat dit ’n gesonde manier is om die huishoudelike begroting te hanteer nie. Hy het dalk nie in ’n huis grootgeword waar dit só gedoen is nie. Die derde rede is dat daar net eenvoudig nie geld is sodat beide die man en vrou geld kan kry vir persoonlike behoeftes nie.

Die oplossing lê daarin dat jy die huishoudelike begroting met jou man bespreek en dit saam met hom opstel. As julle by hierdie punt kom, is dit belangrik om saam te besluit watter een van die redes hom keer om hierdie begrotingsbenadering toe te pas. Werk deur die redes agter sy optrede en dan sal dit makliker wees om die probleem op te los.