Deur die jare het ons by INTIEM baie geëksperimenteer. En nee, ek praat nie uit die slaapkamer uit nie – die eksperimente waarna ek verwys, is dié met artikeltemas, foto’s en die struktuur van INTIEM (ons het selfs in ’n stadium met illustrasies geëksperimenteer!).

En deur die jare het ons gevind dat daar soveel waarheid is agter die gesegde “A picture paints a thousand words”. Dis altyd ’n naarstiglike soektog na die “perfekte foto” om ’n artikel te vergesel, want die woorde bly soms net woorde – tot daardie regte foto ’n spesifieke atmosfeer aan ’n artikel of ’n voorblad verleen.

Só onthou ek ’n stadium waar Liezel gepraat het van die “M.I.L.K-foto’s” en dat ons daarna moet streef om meer hiervan te plaas. Jy het dit seker al op kaartjies in skryfbehoeftewinkels gesien?

“M.I.L.K” staan vir “Moments of Intimacy, Laughter and Kinship”, en van die mooiste oomblikke word op hierdie kaartjies vasgevang. Op die een staan ’n bejaarde paartjie kaalbas op die strand (die foto is van agter af geneem) en die teks sê: “A person on their own is nothing, two people who belong together make a world (Hans Margolius).”

Op nog ’n kaartjie sit ’n oupa en ouma op die stoep en koerant lees. Daar staan: “Love does not consist in gazing at each other, but in looking outward together, in the same direction (Antoine de Saint Exupéry).”

Daar is natuurlik verskillende temas, maar dít waarna ons op soek was, was daardie intieme “oomblik”. Soos wanneer twee bejaardes se koppe teen mekaar rus. Rimpelende plooie van voorkop tot nek, hande vol ouderdomsvlekke ineengestrengel en die onuitgesproke woorde wat daarmee saamgaan: “Ek en jy verstaan mekaar.” (Terloops, dis ook die woorde uit my gunsteling Steve Hofmeyr-liedjie van alle tye.)

Hoekom roer ’n “M.I.L.K-foto” ’n mens só? Want dit is eerlik. Dit is “real life”. Dit getuig van deurwinterde liefde. Liefde met genoeg kredietwaardigheid om ’n impak te maak op die nageslag.

In ons voorbladartikel (in die Aug/Sep 2016 uitgawe van INTIEM) praat Izak en Mericke Davel ook hieroor en in ons ware verhaal vertel tannie Mats Papendorf oor haar oorlede man: “Oom Eddie het geglo dat ’n mens nie net eet en werk en slaap nie, want daar is ’n groter doel met die mensdom. Hy was baie bedag op stiltetyd en dit was ’n goeie basis vir ons verhouding en huwelik.”

Besef jy dat jy en jou maat met jul huwelik ’n nalatenskap vir jul kinders (en selfs jul kleinkinders) los? ’n Legacy? Dat hulle na júlle kyk en besluit hoe ’n huwelik moet lyk? Dat hulle idees rakende konflikoplossing, kommunikasie en wedersydse respek gevorm word deur dít wat hulle in jul huwelik waarneem – wanneer julle bewus is daarvan en ook wanneer julle salig onbewus jul verskille uitstryk?

Soms leer jy om dit wat jy in jou ouers se huwelik sien, nié in jou eie huwelik toe te pas nie, maar wil jy nie hê jou kinders moet meer goed as sleg in jou huwelik as voorbeeld kan uitsonder nie?

Sommige mense se tyd saam is net té kort. Soos dié van Cobus Erasmus, wat gesukkel het om vrede te maak met sy vrou, Lenie, se kankerdood en dit uiteindelik gekry het in ’n teken op die strand in Mosambiek. Sodat hy kon aanbeweeg. Hier volg die ware verhaal van Cobus en Lenie: ‘n Groet-pansy vir Lenie

As jy nie in jou huwelik genoeg “Moments of Intimacy, Laughter and Kinship” het nie, maak werk daarvan.

Want elke huwelik is geregtig op ’n “M.I.L.K-foto”.

Tot volgende keer