Só sing ek en my kroos “Ek’s ’n dapper muis” in die kar tot daar níks is waarvoor ek skrik nie, behalwe vir, wel, die eerste klanke van “Ek’s ’n dapper muis”.

Die afgelope vakansie het ek baie dapper muise gesien. Van dié wat tot diep anderkant die Tuinroete se onstuimige bloublasie- en seestroom-branders met lilo’s gaan swem het tot dié wat (dapper of dom, ek is nie seker nie) die middel-van-die-dag son herhaaldelik trotseer – en tweede gekom het.

Elkeen van ons streef na ’n mate van dapperheid en dit is deels te wyte aan konsepte van braafheid wat, veral op televisie en in flieks, aan ons verkoop word. Een van my gunsteling animasieflieks is Brave, die storie van prinses Merida wat rebelleer teen ’n gebruik in haar koninkryk (dié rebellie veroorsaak chaos in die koninkryk), maar prinses Merida moet staatmaak op haar dapperheid en haar pyl en boog om die balans te herstel – haar wilde, rooi krulle maak haar boonop onweerstaanbaar as ’n onwaarskynlike heldin!

Ons wil ons kinders graag dapper grootmaak. Dapper, maar nie dom nie. (Dink nou spesifiek aan die flieks waarin die karakter iets in die kombuis hoor en by die trappe afsluip – terwyl jy deur jou vingers loer en skreeu: “Moenie!”) Daar is ’n fyn lyn.

Is dit dapper of dom om deur te druk ten spyte van die verswelgende golwe wat om jou dreig? Is dit dapper of dom om uit die boot te spring terwyl jy nog kan, sonder om te weet watter skerptand-gediertes onder die oppervlak van die branders skuil?

In die Bybel is Dawid en Goliat se verhaal waarskynlik ons mooiste voorbeeld van manhaftigheid, dapperheid en waagmoed – en hoewel daar beslis omstanders was wat gedink het Dawid is arrogant, dom of bloot die kluts kwyt, het sy vertroue in God alle twyfel in hom oorskadu.

Terug vanaf ’n luilekker Desember-vakansie met té veel mooi weer om televisie te kyk, het ek my reekse by die huis ingehaal. En dieselfde boodskap in twee verskillende stories het my, soos Dawid se klippie, tussen die oë getref: “As jou huweliksmaat jou nie gelukkig maak nie, knoop ’n affair aan en los hom/haar. Dit is die waagmoedige ding om te doen om jou huwelik te verlaat as jy ongelukkig is, eerder as om vasgevang te bly in ’n ongelukkige situasie.”

Wat?! Hoe goedkoop en verkeerd is hierdie konsep wat so mildelik deur Hollywood aan ons verkoop word nie? Natuurlik is daar situasies (veral waar mishandeling of verslawing ter sprake is) wanneer die dapperheid beslis daarin lê om uit die situasie te ontsnap in ’n poging om jou menswees te red.

Maar om te loop net omdat jy voel dat jou maat jou nie meer gelukkig maak nie? Wie durf dit dapperheid noem?

Want wat is méér waagmoedig as om in ’n huwelik te bly waar jy nie hoop sien nie, maar glo in ’n ingryping en, soos Dawid, jou vertroue in God plaas – against all odds. Hollywood verkoop die idee dat waagmoed daarin lê om oorboord te spring sodra die water onstuimig word. Moenie daarvoor swig nie. Want INTIEM verkoop die waarheid – dat waagmoed daarin lê om aan boord te bly en te probeer doen wat jy kan om jou skip in die regte rigting te stuur. Dít is nie dom nie, dít is dapper.

Een van die mooi aanhalings wat waagmoed of dapperheid saamvat, is dié van Herb Brooks wat sê dit is ’n “indefinable quality that makes a man put out that extra something, when it seems there is nothing else to give. I dare you to be better than you are. I dare you to be a thoroughbred.”

Tot volgende keer.