Visie is ’n belangrike sintuig wat jou lewe verryk deur detail te verskaf, kosbaarheid te beklemtoon en uniekheid aan elke ervaring te bring. Dink aan dít wat jy van jou troudag onthou – die blomme, jou maat se gesig voor die kansel, die detail op jou rok . . . Tog sien ’n mens soms iets wat jou laat twyfel en wonder, is dit regtig daar of speel jou verbeelding met jou?

Ouderdomsverwante makulêre degenerasie
As jy en jou maat dalk sukkel om te lees en die middel van jul televisieskerm uit fokus bly, ongeag hoe jy dit verstel, ervaar jy moontlik die simptome van makulêre degenerasie. Reguit lyne, soos deurkosyne en strepe op die pad, vertoon dalk skeef of kronkelend.

Makulêre degenerasie veroorsaak skade aan die makula-area van die oog (die deel verantwoordelik vir sentrale sig). In meer gevorderde makulêre degenerasie kan jy selfs ’n donker kol in die middel van jou visie sien. Die simptome word egter gewoonlik raakgesien deur een oog op ’n slag te toets.

Daar is twee tipes makulêre degenerasie, naamlik “droë” makulêre degenerasie en “nat” makulêre degenerasie. Altesaam 85 tot 90% van gevalle is die droë variasie (verkalking), waar die visie geleidelik afneem. Dié vorm van degenerasie kan met jare lei tot geografiese atrofie (’n area waar die retina se selletjies nie meer leef nie), waar ’n sentrale dowwe kol in die visie opgemerk word.

’n Skielike agteruitgang van die sentrale visie dui gewoonlik op die nat vorm, waar ’n lekkasie van vog en bloed in die makula-area swelling veroorsaak. Medisyne is beskikbaar vir die behandeling van die nat vorm van makulêre degenerasie. Dit sluit in middels wat onder verdowing binne-in die oogbal gespuit word.

Die doel van hierdie behandeling is om die swelling te laat afneem deur die ontwikkeling van nuwe bloedvate, asook om die deurlaatbaarheid van bestaande bloedvate te laat afneem. As die retinale fotoreseptore nie beskadig is nie, lei die behandeling gewoonlik tot ’n verbetering in sig.

Jou kanse vir degenerasie verhoog met ouderdom (ouer as 50 jaar), as jy rook, ’n familiegeskiedenis van die siekte het en aan sistemiese kondisies soos diabetes lei. Ouderdom kan nie teruggedraai word nie, maar anti-oksidante kan moontlik die proses vertraag. Sorg dat daar genoeg omega 3 en groen groentes in jou dieet is. Hou jou bloeddruk en cholesterol in toom, en gaan stap so drie keer per week om die blok.

Gloukoom
Jy skrik jou boeglam omdat jy nie die kat op die bank langs jou gesien het tot hy ’n geluid gemaak het nie. En daardie motor het vanoggend sommer van nêrens verskyn! Tonnelvisie is ’n gevaarlike toestand wat ernstige gevolge kan hê en selfs jou lewe in gevaar kan stel. ’n Bekende oorsaak van tonnelvisie is gloukoom.

Gloukoom ontstaan as gevolg van skade aan die optiese senuwees. Die optiese senuwees is ’n belangrike baan wat die inligting van jou oog na jou brein vervoer. Skade aan hierdie baan maak dat al die nodige inligting nie by jou brein uitkom nie, afhangend van die tipe skade en die deel wat beïnvloed word.

Risikofaktore vir die ontwikkeling van gloukoom sluit in verhoogde intra-okulêre druk, ’n familiegeskiedenis van die siekte en sistemiese hipertensie. Intra-okulêre druk word by ’n oogkundige getoets met ’n apparaat wat liggies op die oog blaas. By die oftalmoloog word dit gemeet deur die oog met oogdruppels te verdoof en dan aan die oog te raak met ’n spesiale drukmeting-apparaat, wat ’n Goldmann-tonometer genoem word.

’n Gesigsveld-toets, wat die funksies van jou optiese senuwees toets deur middel van liggies wat op verskillende areas in jou visuele veld flikker, word ook gedoen as deel van ’n volledige gloukoomtoets, voor finaal op behandeling besluit word.

Gloukoom-behandeling is gefokus daarop om die intra-okulêre druk te verlaag. As hierdie druk minder is, word die beskadiging van die optiese senuwees vertraag. Die meeste gevalle van gloukoom word behandel deur die chroniese gebruik van oogdruppels om die intra-okulêre druk te verlaag.

Daar is ook chirurgiese metodes om hierdie druk te verlaag, byvoorbeeld deur ’n stent in die kanaaltjie van die oog te sit (die donker rand tussen die gekleurde en die wit deel van die oog) sodat meer vloeistof kan dreineer en die intra-okulêre druk só kan verlaag. Hierdie stents is die kleinste geregistreerde mediese apparate ter wêreld en is 0,3mm groot.

Gloukoom is egter ’n asimptomatiese siekte en tekens van agteruitgang van die visuele veld, soos tonnelvisie, word eers in die gevorderde stadium van die siekte ervaar. Daarom is dit baie belangrik om gereeld jou oë te laat ondersoek en seker te maak dat jou intra-okulêre druk nie te hoog is nie.

Posterior Vitreus Loslating (PVD)
Daardie muggie wat om jou kop sirkel is só irriterend – veral wanneer jy hom nie gevang kry nie. Boonop lyk dit asof jou maat hom nie eens raaksien nie! Klein swart figuurtjies wat nou en dan in jou visie verskyn is algemeen, veral as jy bo 50 is en baie bysiende is.

Posterior vitreus loslating (PVD) is ’n verouderingsproses wat met almal gebeur in een of ander stadium van hulle lewens. Die vitreus is ’n deurskynende “jellie” in jou oogbal wat vanaf jou geboorte daar is en deel was van die vorming van jou oog. Soos wat die jare aanstap, verander hierdie “jellie” in ’n meer vloeibare vorm en trek dit los van die agterkant van jou oog, genoem die retina.

Wanneer hierdie proses gebeur, kan jy verwag om ’n donker kol in jou visie te sien soos wat die vitreus lostrek. Helder flitse in omstandighede waar lae lig is, is ook normaal. Jy sien nie regtig flitse nie, maar jy ondervind hierdie verskynsel omdat die vitreus aan die retina, wat eintlik ’n senuweelaag is, vassit en trek.

As jy egter aanhoudende flitse sien – selfs gedurende die dag – of ’n skielike toename in ’n klomp swart kolletjies ervaar, moet jy dadelik by ’n oftalmoloog uitkom. Wanneer die vitreus lostrek, is daar ’n kans dat die retina kan skeur. ’n Skeur in die retina moet dadelik behandel word, andersins kan dit daartoe lei dat die retina loskom.

Die loskom van die retina is ’n gevaarlike toestand wat kan lei tot blindheid in die geaffekteerde oog. As jy dus enige van bogenoemde simptome ervaar, is dit belangrik om gereeld jou oë afsonderlik te monitor. Maak een oog toe en maak seker dat jy oral kan sien met die ander oog, in al die kwadrante van jou visie.

As jy opmerk dat daar ’n swart gordyn in jou visuele veld is of jy kan nie oral sien nie, moet jy dadelik by ’n oftalmoloog uitkom. Soos die tyd aanstap, verhoog jou kanse vir permanente visuele skade en hierdie toestand word dus dikwels as ’n noodgeval hanteer.

Katarakte
Almal het al daarvan gehoor, maar wat is ’n katarak werklik? ’n Katarak veroorsaak geleidelike verlies van visie, verlies van kontras en ook verlies van kleure. Alhoewel die oorsaak meestal ouderdom is, kan ’n katarak ook ontstaan as gevolg van ’n besering aan die oog of die chroniese gebruik van kortisone.

Wanneer jy jonk is, is die lens in jou oog glashelder en buigbaar. Hierdie lens hou aan groei deur jou hele lewe. Omdat die lens dikker word, verloor jy eers jou vermoë om die lens te buig en naby te fokus. Dit is wanner die leesbril nader getrek word. Soos die lens verder groei, word dit ook dof en dan word dit ’n katarak genoem. ’n Katarak is dus die verdowwing van die natuurlike lens in jou oog.

Katarakte word chirurgies verwyder deur ’n oftalmoloog. ’n Nuwe lens word dan in die plek van jou eie dowwe lens geplaas. Katarak-chirurgie is meestal ’n pynlose operasie met ’n uitstekende visuele prognose. Danksy tegnologie kan die nuwe lens in jou oog perfek bereken word. Die fokus kan naby of ver gemaak word, en ’n bril word dan na die tyd gebruik. As jy eerder sonder ’n bril wil klaarkom, kan selfs ’n trifokale lens gebruik word.

Indien jy enige verandering in jou visie agterkom, is dit belangrik om te reageer. Moenie simptome ignoreer nie, want tyd genees nie altyd alles nie. Maak vandag nog ’n afspraak by jou oogkundige of oftalmoloog as jy nie binne die afgelope twee jaar ’n volledige oogondersoek gehad het nie.

Oogchirurgie wat by ’n daghospitaal gedoen kan word:
• Anterior-operasies soos katarak-chirurgie: Dit is die algemeenste oogoperasie wat by ’n daghospitaal gedoen word en duur slegs 20 minute.
• Posterior-operasies soos retina-chirurgie: Dit is chirurgie wat die agterkant van die oog, die retina, betrek. Dit sluit retina-loslatings in. Dié tipe chirurgie duur enigiets van 60 minute tot drie ure, afhangend van die kompleksiteit daarvan.
• ’n Ondersoek onder narkose: Kinders tussen die ouderdomme van twee tot vyf jaar word onder algemene narkose behandel sodat ’n volledige oogondersoek gedoen kan word. Só ’n ondersoek sluit ’n refraksie (toets vir brilfoute) in, sowel as ’n volledige ondersoek van die oog se gesondheid, insluitend die retina.
• Ander: Die meerderheid oogoperasies word in ’n daghospitaal gedoen. Die enigste pasiënte wat in ’n hospitaal oornag, is diegene wat ander siektes ook het, byvoorbeeld ernstige virusinfeksies of bedreigende trauma, wat ook sistemies behandel word.

Oogoperasies word selde onder algemene narkose gedoen. Die meeste oogoperasies word onder plaaslike verdowing gedoen – ’n verdowingsdruppel word gebruik sodat die pasiënt niks voel nie – of dit word met ’n “blok” gedoen, waar ’n inspuiting gegee word om die hele oog te verlam en te verdoof.

• Dr Riël de la Bat is ’n oftalmoloog en Cara Biddulph is ’n oogkundige.

Artikel deur DR RIëL DE LA BAT EN CARA BIDDULPH

Vir meer inligting oor Systane besoek gerus hul Facebook blad  – www.facebook.com/systaneeyedropssa of skakel die Novartis Customer Care by 0861 929 929.