Sonder waarskuwing het ’n motor teen ’n hoë spoed van agter af in hulle motor vasgery. Geskok, maar meestal ongeskonde, het haar verloofde en die twee ander insittendes uitgeklim en tot verhaal gekom . . .

Trudie (toe 25) was nie so gelukkig nie. Sy het traumatiese nek- en rugbeserings opgedoen. “Ek het dadelik geweet my nek is gebreek en ek is verlam.” Vyf maande voor hul troudag het Trudie (32) en Neels (32) Visser se verhouding onherroeplik verander. Die paartjie het vir ’n naweek weggebreek om by vriende te gaan kuier en almal was saam in die kar op pad na hul vriende se huis.

“Ek het op die oomblik van die impak van agter af vorentoe geleun om met Neels, wat bestuur het, te praat. Só het my skouers tussen die twee voorste sitplekke vasgesit en ek het whiplash op my nek gekry, wat die nek-breek en spinale besering veroorsaak het.”

Trudie was vir 17 dae in die hoësorgeenheid by Unitas Hospitaal in Pretoria. Sy was totaal verlam van haar skouers af ondertoe, maar het uiteindelik ná maande se rehabilitasie geleidelik die gebruik van haar linkerkant herwin. Sy is steeds in ’n rolstoel en is ten volle verlam aan haar regterkant.

Die paartjie het aanvanklik deur gemeenskaplike vriende ontmoet in die Desembervakansie van hulle matriekjaar. Neels was in Bloemfontein op skool en Trudie was ’n leerder in Newcastle. Om verder te studeer, was egter vir beide van hulle belangrik. Neels het by die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf vir ’n B.Com-graad in rekeningkunde en finansiële bestuur. Trudie het onderwys by die Noordwes Universiteit (destyds Potchefstroomse Universiteit) studeer. Hulle het weer begin uitgaan toe beide 22 was.

Sy en Neels is twee jaar na die ongeluk wel getroud. En, vertel Trudie met oorgawe, “my man is ’n engel van God af”.

“Neels het nooit my hand gelos nie”

Sy het reeds voor die ongeluk geweet sy het ’n baie spesiale man gevang, skerts Trudie. Maar ná die tragedie het Neels veral bewys dat hy sy sout werd is. “Hy het elke oomblik wat hy kon, langs my bed spandeer,” onthou Trudie. “Hy het my voete en bene gestrek sodat my spiere nie verkort nie, my met room gesmeer waar ek seer gehad het en my gedraai sodat ek nie bedsere kry nie. Hy het my moed ingepraat, vir my Bybel gelees en vir my gebid.”

In haar proses van herstel het Neels dit selfs reggekry om die romanse lewend te hou! “Hy het vir my parfuum gekoop en elke dag daarvan vir my aangespuit sodat ek aan hom kon dink terwyl hy by die werk was. Hy het ook vir my ’n Springboktrui gekoop en saam met my in die hospitaalbed gelê en rugby kyk.”

“Deur God het ons die onstuimigheid oorleef”

“Ek was aan die begin in ontkenning,” erken Trudie. “Ek het gedink dit gaan nou ’n rowwe paar maande wees, maar dan gaan alles regkom en terugkeer na normaal. Die realiteit het my eers behoorlik getref toe ek uit die rehab uit huis toe is.”

Neels onthou ook hoe hulpeloos hy gevoel het die eerste ruk na die ongeluk. “Geen woorde kan die gevoel beskryf nie, dit voel asof jou hele lewe inmekaarval! Die vrou wat jy liefhet, lê op haar rug en die dokters is nie hoopvol dat sy enigsins gaan verbeter nie.”

Trudie voel dat God hulle deur hierdie moeilike tyd gedra het – en stééds elke dag dra. “Godsdiens speel ’n astronomiese rol in ons lewens. Ten tye van die ongeluk het ons meer as ooit op God gesteun. Ons het persoonlik nog nooit so na aan God gevoel soos direk na die ongeluk nie.”

Ten spyte van die paartjie se toewyding aan mekaar het Trudie tog gemengde gevoelens beleef. “Ek het vir Neels gesê hy moet my eerder los en vir hom ’n heel vroutjie gaan kry.” Dis vandag steeds een van haar grootste uitdagings: Sy voel nie soos ’n heel vrou vir haar man nie. Neels het egter aan haar sy gebly omdat hy graag wóú. “Hy het gesê hy is lief vir my en liefde is nie ’n knoppie wat ’n mens kan afskakel nie.”

’n Herdefinisie van die sprokie

Vandag is Neels en Trudie al vyf jaar getroud en ook twee gesonde seuntjies ryker. Hulle het hul tuiste in Sasolburg gemaak en Neels beklee die posisie van forensiese rekenmeester by Sasol. CJ sal in Maart vier wees en Muller is nou sewe maande oud. Ouerskap is een van hulle grootste uitdagings, meen Trudie, maar met die ondersteuning van helpers kom hulle die mas dubbel en dwars op. Neels het ook reeds voor die troue hulle huis laat aanpas om sover moontlik onafhanklikheid vir Trudie te verseker.

“Ons het van die begin af besluit dat Neels nie my hoofversorger gaan wees nie, maar eerste my man, en daarom het ek van die begin af inslaap-hulp gehad.” Met die geboorte van hul tweede seuntjie het hulle besluit om ’n dag- en naghelper te kry, sodat daar altyd iemand is wat kan hand bysit, anders werk Neels hom flou, sê Trudie.

Maar op ’n meer ernstige noot: Neels het wel vir ’n tyd die versorging van hul eersteling alleen hanteer terwyl hy ook voltyds die broodwinner was. “Dit het baie druk om hom en op ons verhouding geplaas.”

Hulle doen moeite om, ten spyte van die hindernisse, steeds die hartstogvure aan die brand te hou. Hulle gaan gereeld saam uit vir ete en probeer om minstens een keer per jaar alleen weg te gaan. “Ons hou ook daarvan om saam kos te maak, ure lank te braai oor die naweek en ’n lekker glasie wyn te geniet terwyl ons rustig gesels,” vertel Neels. En, sê Trudie met ’n skelm glimlag, hulle geniet ’n goeie en gesonde intieme lewe. Hulle het immers natuurlik swanger geraak met beide babas.

Uitdagings is deel van elke dag

Te verstane, staar hulle ook gereeld uitdagings in die gesig. Hulle kan glad nie weggaan op vakansie sonder hulp nie en moet ten alle tye Trudie se grense in ag neem. Haar fisiese beperkings het tog die dinamika van hulle verhouding verander. “Die grootste aspek wat vir my uitstaan, is die spontaneïteit van ons verhouding,” sê Trudie. “Ons kan nie net vinnig iets doen of selfs sommer net laf wees nie, want alles moet rondom my roetine beplan word.” ’n Mens se privaatheid is ook nie meer soos dit was nie, voeg sy by.

“Ja, daar is beslis uitdagings,” sê Neels, “maar Trudie is ’n ongelooflike mens en die beste vrou wat ek my kan indink! Ten spyte van alles kla sy nooit nie en is sy ontsettend sterk. Sy is ook die beste mamma in die wêreld vir ons twee seuntjies! Saam met haar sien ek kans vir enige uitdagings, maak nie saak wat dit is nie. Sy is definitief my beter – en beste – helfte.”

’n Sielkundige se raad

Carien du Toit, ’n voorligtingsielkunde en verhoudingsterapeut in ’n private praktyk, sê Trudie en Neels se benadering tot hulle huwelik is in die kol.

Sy beveel aan dat paartjies wat hulle in ’n soortgelyke posisie bevind, nie die belangrike rol van onafhanklikheid onderskat nie. “Rig die huis prakties in sodat die maat wat rolstoelgebonde is hom- of haarself sover as moontlik kan help met daaglikse take soos stort, aantrek en eet.”

Probeer ook om ’n helper in diens te neem, sê Carien, selfs al laat die begroting dit net vir ’n paar dae per week toe. As jy wel jou maat help met praktiese take, soos om die badkamer te gebruik, sien jouself as ’n verlenging van jou maat se vermoëns – en nie as ’n “helper” nie. “Besin mooi oor hoe jy jou maat definieer. Hy of sy is nie jou pasiënt nie. Gee jou maat die versekering dat jy nie bly uit pligsbesef, skuldgevoelens of jammerte nie.”

Wanneer ’n besering ’n mens se liggaamlike vermoëns permanent aantas, beïnvloed dit nie net daardie mens se lewe nie, maar ook die dinamika van ’n huwelik. “Selfs al is beide maats totaal toegewy aan mekaar, is dit onrealisties om te verwag dat die verhouding bloot sal aangaan waar dit opgehou het,” meen Carien. “Op ’n manier is dit ’n heel nuwe verhouding wat ook herdefinieer moet word.”

Gemengde emosies is ook te verwagte, en albei huweliksmaats kan gevoelens van depressie en verlies ervaar. “Beide persone kan deur ’n rouproses gaan en dis glad nie ongewoon vir die beseerde maat om dinge te sê soos ‘Jy sal beter af wees sonder my’ of ‘Vind eerder vir jou ’n maat sonder gebreke’ nie.

“Dit is egter baie belangrik dat die maat wat able-bodied is deurgaans die ander maat verseker van sy of haar liefde en aangetrokkenheid.”

Carien beveel ook aan dat beide maats, gesamentlik en afsonderlik, aanklop vir terapiesessies by ’n berader of ’n sielkundige. Veral die maat wat in die ondersteuningsrol is, gaan sterk ondersteuningstrukture nodig hê, sê Carien.

“Indien julle sukkel om jul seksuele verhouding op dreef te kry, moenie bang wees om ’n seksuoloog te raadpleeg nie. As paartjie kan julle steeds seksualiteit geniet binne julle unieke konteks.”

Artikel deur ANJA VAN DEN BERG