Wat is die antwoord as jou maat wil skei, maar jy wil nie? Hoe gemaak as jy sóveel hase uit die hoed trek om jou maat geïnteresseerd te hou, sonder sukses? Wat as jou huwelik voor jou oë vou . . . terwyl jy by ’n huwelikstydskrif werk wat fokus op die voordele en genot van ’n huwelik? ’n Redaksielid by INTIEM vertel haar aangrypende storie.

Deur Anja van den Berg

Roelien* (35) en Reinhardt* (35) het tydens ’n blind date ontmoet en is vyf jaar later getroud. Ná ’n huwelik van vyf jaar het die verhouding begin wankel en krake in kommunikasie het ’n wig tussen hulle in gedryf. Roelien wou die verhouding red, maar Reinhardt het nie haar entoesiasme gedeel nie. Die skrif was reeds teen die muur en hulle is kort daarna uitmekaar.

“My plan was net om dinge ’n bietjie op te spice . . .”

Kort ná hulle vyfjarige huweliksherdenking het Roelien terloops vir Reinhardt genoem dat sy voel alles is nie pluis nie . . . asof daar iets tussen hulle skort. Haar bedoeling was om die verhouding te verbeter en meer opwinding in te nooi.

Maar, vertel Roelien, haar kommentaar het presies die teenoorgestelde uitwerking gehad. “Reinhardt het toegeslaan en geweier om oor die probleem te gesels. Tree vir tree het ons huwelik verder verbrokkel. Reinhardt het eers verkies om die onderwerp net te ignoreer, later gevra vir ’n bietjie spasie en nóg later voorgestel dat ons ’n amptelike breuk vat.”

Roelien het swaar gesluk aan die gevoel van verwerping. “As vrou het ek die intimiteit, liefde, fisiese aanraking en gehaltetyd só nodig gehad, maar niks daarvan gekry nie.” Sy het soos ’n vreemdeling in haar eie huis gevoel en later selfs in die spaarkamer ingetrek.

“Ek het gedink as ek my behoeftes oop en eerlik met hom bespreek, hy saam met my sal besef dat daar werk nodig is, en dan kon ons saam die bootjie deur die stormwaters stuur.” Ongelukkig was haar pogings om die liefdesverhouding lewend te hou nie wederkerig nie.

“Ek het nog nooit só leeg gevoel nie”

Dié ongesonde patroon het vir ongeveer vyf maande voortgeduur voordat Roelien besluit het om vir Reinhardt voor ’n keuse te stel. “Op ’n dag het ek net gevoel ons kom nêrens nie en vir hom gesê as hy nie bereid is om aan die huwelik te werk nie, dit beter is dat hy uittrek.” Al haar pogings tot in daardie stadium om te probeer gesels of om enigiets romanties te beproef, is geïgnoreer en dit was vir haar net té moeilik om só aan te gaan.

Hy het ’n week daarna sy goed gevat en geloop. “Ek het eers agterna uitgevind dat hy my omtrent twee maande vóór hy uit die huis uitgetrek het, reeds gedagvaar het vir ’n egskeiding.”

Reinhardt het laat weet sy prokureur werk aan die egskeidingsdokumente. “Hy het gesê hy voel ons is beter af as vriende, ons werk net nie meer nie . . . ons gel net nie meer nie,” vertel Roelien.

Sy is steeds nie seker hoekom Reinhardt belangstelling in hul huwelik verloor het nie. “Ek het in die geheim gewens ek kon uitvind daar is ’n ander vrou of dat hy besluit het mans is meer sy koppie tee, of dat ek vet geword het, of dat hy nie hou van die reuk van my parfuum nie, of dat my kos sleg is . . . enige rede wat dinge net sou laat sin maak! Ongelukkig het dit nie gebeur nie en sit ek steeds met ’n string onbeantwoorde vrae.”

Uiteindelik, vertel Roelien, was sy antwoord aan haar dat hy nie dink die huwelik moet soveel werk wees nie. “Ek kan maar net aanneem hy het maanskyn en rose verwag, en dit is ongelukkig nie die realiteit van ’n verhouding nie.”

’n Week nadat Reinhardt uitgetrek het, was dit Roelien se verjaardag – die moeilikste dag van haar lewe. Boonop was haar familie en vriende nie bewus van die hangende egskeiding nie, en het hulle geesdriftig uitgevra oor die paartjie se planne vir haar verjaardag. Om die situasie nog verder te bemoeilik, het Roelien vir ’n huwelikstydskrif gewerk . . .

Van kruis op haar hart na meulsteen om haar nek

Waar haar werk by INTIEM eers vir haar ’n plesier was, het sy die voortdurende fokus op huwelike al hoe moeiliker begin vind. Dit was vir haar moeilik om in ’n omgewing te werk waar sy deel is van ’n span wat lesers aanmoedig en motiveer in hulle huwelike.

Haar kollegas ook was nie bewus van haar hartseer verhaal nie, want sy het net haar twee direkte bestuurders ingelig. “Ek het gewerk by ’n publikasie wat die huwelik ophemel terwyl ek soveel seer ervaar het as gevolg daarvan.” Die werk wat sy eens so geniet het, het ’n meulsteen om haar nek geword.

“Dit was erg om voor ’n potensiële adverteerder te sit en vir hulle te vertel hoe belangrik gelukkige huwelike en die rol daarvan in die samelewing is . . . en dít terwyl ek gevoel het asof ek kwaad is vir elke gelukkig getroude paartjie. Ek het in daardie stadium sommer costume jewelry aan my ringvinger gedra – dit was makliker as om te probeer verduidelik hoekom ek ‘huwelike verkoop’ en nie ’n ring dra nie.”

Om alles te kroon, was sy ook intens betrokke by SA Huweliksweek, ’n projek wat in 2013 deur INTIEM van stapel gestuur is. “My eksman het uit die huis getrek kort voor die eerste SA Huweliksweek begin het. As een van die rolspelers van die projek was dit vir my amper onuithoudbaar. Almal het gesels oor hartjies en strikkies en alles wat mooi is, en ek het gevoel asof ek in ’n hoekie wil gaan sit tot die week verby is . . .”

Dit was veral ’n uitdaging om te sien hoe egpare hul troubeloftes hernu tydens ’n INTIEM bootreis-geleentheid. Sy was as spanlid ook betrokke by die INTIEM couples-dag, ’n ervaring wat haar erg ontstel het. “Die hele INTIEM-span het voor die tyd bo teen ’n berg, by pragtige kruise, gaan sit om te bid vir elke paartjie wat die dag bygewoon het. Ek het omgedraai en teruggeloop na my kamer toe – dit het gevoel asof my hart uit my bors wil klim van die pyn.”

Uit die aard van haar werk het sy gereeld met lesers se kommentare en terugvoer te doen gekry. Tydens ’n spanvergadering het ’n kollega, onbewus van Roelien se realiteit, genoem dat mense te maklik skei en die huwelik nie ernstig opneem nie. Hierdie stelling het Roelien só ontstel dat sy die vertrek verlaat het. “Ek het sommer baie vinnig omgekrap geraak oor die negatiewe menings oor geskeides. Ek wéét ek het ALLES gedoen wat ek kon. Vandag weet ek ook dat my kollega se opmerking waar is: Die persentasie mense wat wel kan sê ‘Ek het ALLES gedoen’, is min. Mense skei te maklik sonder om werklik te probeer. Maar wanneer jy alles probeer het, is daar later aanvaarding sonder selfverwyt.”

“Ek het een van twee keuses”

Vroeër vanjaar, ná ’n gesprek met ’n kollega, het Roelien besef sy het een van twee keuses: “Sit op ’n hopie en kry myself jammer, of neem beheer en maak die beste van alles wat ek aanpak!”

Sy het besluit om nie langer die rol van die slagoffer te speel nie. En, sê sy, dis elke dag ’n wilsbesluit wat sy neem. “Solank jy oortuig is jy het álles binne jou vermoë gedoen om jou huwelik te probeer red, kan jy uitloop met jou skouers regop en jou kop omhoog, en oortuig wees dat die Here groot planne met jou lewe het.”

Sy het ook nodig gehad om haarself en haar eksman vry te spreek voordat die proses van genesing kon begin. “Ek moes my eksman vergewe omdat hy nie bereid was om vir die huwelik te baklei nie, en ook myself vergewe omdat, ten spyte van alles wat ek probeer het, die huwelik steeds nie gewerk het nie.”

Glo sy weer in die huwelik en in liefde? Sal sy dit oorweeg om weer te trou? Beslis! “Ek bid baie hard dat die Here vir my die régte man op die régte tyd sal stuur. Ek weet nou ook presies wat vir my belangrik is en waaroor ek nie weer sal compromise nie. Dit was ’n lang en seer leerproses, maar ek voel ek stap sterker aan die ander kant uit.”

“Ek put nuutgevonde bevrediging uit my werk en uit die lewe”

Sy is werklik nou op ’n goeie plek, vertel Roelien. “Ek het alles gedoen wat nodig was om met die egskeiding te deal.” Sy het berading ontvang, sy maak tyd saam met die Here ’n prioriteit en sy besef die waarde van ondersteunende vriendskappe. “Ek het fantastiese vriende en vriendinne gemaak en my lewe weer begin geniet!”

Roelien reken dat as haar seer net een huwelik kan help red, haar egskeiding uiteindelik nie tevergeefs was nie. “Ek is nou op ’n punt waar ek met mense se pyn en hartseer kan assosieer.”

Sy het empatie vir mense wat die pad van egskeiding loop, maar dit beteken nie dat sy dié roete vir enigeen sal aanbeveel nie. Dit is swaar, seer . . . en sy glo dat enigiemand eers uit ’n huwelik behoort te stap ná die partye alles in hul vermoë gedoen het om die situasie te red en hul pogings nie geslaag het nie.

Sy put ook ’n nuutgevonde bevrediging uit haar werk by ’n huwelikstydskrif en voel asof sy waardevolle ondervinding na die redaksiespan bring, juis omdat sy ervaring het van wanneer die huwelik nié so perfek is nie.

Sy is opgewonde oor die energie en samehorigheid wat tussen die spanlede heers. “Ek sien die verskil wat INTIEM in mense se lewens maak, selfs in die lewens van my eie vriende en vriendinne. Ek dink dis amazing om saam met só ’n span dinamiese vrouens te werk . . . kom spandeer net een dag saam met hulle op kantoor en jy sal self sien hoe ’n mens nie anders kan as om opgewonde te raak oor die werk wat hulle doen nie!”

En, voeg Roelien by, sodra sy weer haarself verbind tot ’n ernstige verhouding, sal haar eerste geskenk aan die nuwe man in haar lewe ’n INTIEM-subskripsie wees.

Uit die Feb Maart 2016 Uitgawe van INTIEM Tydskrif, digitaal beskikbaar by http://tiny.cc/INTIEM_Feb_Maart_2016