Vir ’n vrou wat dit nooit vermoed het nie, kan die ontdekking ’n verskriklike skok wees. Tog is daar talle vroue wat ná ’n jarelange huwelik waar daar ook kinders is, agterkom dat hul mans homoseksueel is. Watter effek het dié ontdekking op ’n vrou se selfbeeld en hoe oorkom sy só ’n teleurstelling?

Wanneer ’n man getroud is, neem mense vanselfsprekend aan dat hy ’n gelukkige, normale huwelik met sy vrou het, skryf Crystal Ray in die artikel, Is Your Husband Secretly Gay or Bisexual? Soms is dit egter die front wat ’n homoseksuele of biseksuele man voorhou om sy alternatiewe identiteit agter weg te steek.

Daar is mans wat nie die konflikterende emosies in hulle verstaan nie en ten alle koste die waarheid probeer ontken. In die boek, Daar’s ’n Gay Pastoor in my Kop, skryf Philip Liebenberg van sy stryd met homoseksualiteit, hoe hy getroud is en lank daarna nog worstelinge gehad het om hierdie ’gedagtes’ uit sy kop te kry. “My ware seksuele oriëntasie het verbete gestoei om my van homself te oortuig, maar ek was te verlief op heteroseksualiteit, die kerk en ‘normaliteit’ om te besef wat besig is om te gebeur,” skryf hy.

Dan is daar homoseksuele mans wat verhoudings met vroue aanknoop, omdat hulle die lewenstyl van ’n heteroseksuele man wil leef, met kinders, en al die voordele wat ’n huwelik bied. Dan is daar diegene wat hoop dat ’n heteroseksuele huwelik hul seksuele voorkeur sal verander …

Wat sê die statistiek?
Homoseksuele gevoelens of gevoelens van aantrekking tot dieselfde geslag word deur 6 persent mans en 4 persent vroue in die VSA gerapporteer. Slegs 2 persent mans en 1 persent vroue identifiseer hulself as homoseksueel. “So, hoewel ervaringe van aantrekking tot dieselfde geslag nie ’n algemene ervaring is nie, worstel sommige paartjies in hul huwelike, omdat een maat met homoseksuele gevoelens meeding,” skryf Mark A. Yarhouse in samewerking met Dr Douglas E. Rosenau in die boek, A Celebration of Sex.

Die Centers for Disease Control (and Prevention), die CDC, skat dat minstens 4 000 000 vroue al by mans betrokke was wat seks met ander mans gehad het. Nog ’n skokstatistiek (volgens die Family Pride Coalition) bepaal dat 20 persent van alle homoseksuele mans in Amerika in heteroseksuele huwelike staan! (http://www.ismyspousegay.com)

Dit het met my gebeur…
*Tina Christenson, ’n 33-jarige vrou van Johannesburg, vertel hoe sy die waarheid oor haar man waarmee sy nege jaar getroud was, se seksuele oriëntasie ontdek het.

“My eks-man het ’n redelik ernstige rugoperasie gehad en was afgeboek van die werk, toe ek een dag gedurende my etensuur by die huis kom en ontdek dat hy gehuil het. Hy het my vertel dat hy ’n vriend verloor het. Ek het hom gevra waarom, en hy het geantwoord dat elke keer as hy ’n manlike vriend het, wil hulle meer as vriendskap van hom hê,” vertel sy.

Sy was bekommerd en het hom uitgevra. “Ek het gevra of hy gevoelens vir hierdie mans het en daarop reageer het. Hy het my keer op keer daarvan verseker dat dit net vriendskappe is.” Tina was bewus van die feit dat Gary as kind misbruik is, en hulle het saam vir berading gegaan. Hier het hy geopenbaar dat hy wel ’n buite-egtelike verhouding met een van hierdie ‘vriende’ gehad het…

Die aanvanklike vrae
Vir Tina was die openbaring ’n uiters groot skok. “Ons was pastore by die kerk wat ons bygewoon het, en ek het, wat jy sou noem, die ‘ideale man’. Ons verhouding het reeds nege jaar geduur en ek was altyd seker dat dit vir ewig sou hou. Onmiddellik was ek oorweldig deur vrees en het myself gevra: Wat gaan nou gebeur? Hoe gaan my kinders dit hanteer? Ek het my hele wêreld rondom hierdie man gebou en die teleurstelling was bykans te veel om te dra.”

Tina het haarself bly afvra of daar iets is wat sy kon doen om dit te laat werk. Kon sy harder probeer het? “Ek het gevoel of die lewe wat ek geleef het, ’n leuen was. Hy het gereeld vir my geskenke gebring en ek het begin besef dat dit nie was omdat hy omgegee het nie, maar eerder dinge wat die skuldgevoelens wat hy in hom gehad het, moes help stilmaak. Sy liefde was nie eg nie, en my oë het begin oopgaan vir die feit dat sy opflikkerings van liefdesbetuiging blote kompensasie vir die dubbele lewe was wat hy gelei het…”

Daar was geen tekens wat haar kon voorberei nie. “Terugskouend het ek sy tekort aan seksuele begeerte aan sy operasie gewyt en ek het nie twee keer gewonder oor die feit dat hy vir weke sonder seks kon klaarkom nie.”

Kennis is mag.
Dit is belangrik dat ’n vrou wat vermoed dat haar man gay is, die waarheid moet weet om haarself sodoende teen seksueel oordraagbare siektes en moontlik lewensbedreigende siektes te beskerm, en om ’n besluit oor die toekoms van die huwelik te kan neem, skryf Crystal.

Tina vertel dat toe haar man sy homoseksuele neigings jare gelede aan ’n vriend bekend gemaak het, hy dit steeds kon beheer beheer, maar soos hy keer op keer geswig het, het sy vermoë om dit te weerstaan, swakker geword. “Ek glo dat homoseksualiteit ’n groter versoeking vir sekere individue is – maar dit verg dieselfde keuse wat ons almal moet maak as ons versoekings trotseer: om nee te sê!”

Daar is nie maklike antwoorde nie en geen manier om te verstaan wat so iemand deurmaak nie. Persone in Tina se situasie rapporteer aanvanklik skok, woede en rou en daarna ’n traumatiese deurwerk van begrip en aanvaarding oor die teenwoordigheid van homoseksualiteit. “’n Maat is nie homofobies met irrasionele vrees van en afkeer aan die homoseksuele persoon nie. Hy of sy wens net daar was ’n manier om die nodige veranderinge aan te bring en die huwelik vry van hierdie saboteur te maak,” skryf Douglas en Mark. “Die maat wil vertroue herstel en na beter intimiteit en vervulling werk.”

Daar is egter ander huweliksmaats wat ’n egskeiding ernstig sal oorweeg. Tina het, en sy het dit ook deurgevoer.

’n Besluit oor die toekoms
“Aanvanklik wou ek dinge uitwerk,” vertel Tina. “Ek was platgeslaan, aangesien ons uit die staanspoor nie ’n wankelrige huwelik gehad het nie. Dit was ’n gesonde huwelik en ek wou dit herwin. Nadat ek hom verskeie kanse gegee het, moes ek besef dat ek besig was om die stryd om ons huwelik te red, te verloor. Ek kon nie alleen baklei om ons verhouding op my eie te red nie en hy wou die beste van albei wêrelde hê. Na nege jaar van alles gee om dinge te laat werk, het ek weggestap.”

Die skrywers van A Celebration of Sex skryf dat die besluit om uit die huwelik te stap, verstaanbaar is, omdat die Bybelse verwysing na ontrouheid hier geld. “In ons ervaring is ’n huweliksmaat se besluit om te skei, nie ’n refleksie op sy of haar liefde vir die maat, of ’n tekort aan waagmoed nie; dit is dikwels ’n refleksie van die gevoel dat iets diep gebreek is … en dat dit te moeilik is om intimiteit, seks en genot binne die huwelik te herstel.”

’n Gekrenkte selfbeeld
Boonop is die persoon wat verraai is, se selfbeeld dikwels só geskend dat dit moeilik is om helder te dink. Tina erken dat haar eie selfbeeld vernietig is. “Toe ek aanvanklik die waarheid ontdek het, wou ek nie bad, opstaan of grimering dra nie – ek het geen begeerte gehad om te lewe nie – dit was verskriklik! Ek het my alles gegee en dit was steeds nie goed genoeg vir hom nie. Ek het waardeloos gevoel…”

Baie vroue sê dat hulle nog met ’n ander vrou kan kompeteer, maar om met ’n ander man mee te ding, is ’n verlore saak. Het sy so gevoel? “Definitief. Dit was altyd vertroostend dat hy nooit gekyk het nie, nooit gestaar het as ek in ’n kamer met ander vroue was nie, en dat ek nooit pornografie in die huis gekry het nie. Maar dit was vals sekuriteit. Ek het aangeneem dat ek ’n gelukkige huwelik het, omdat ek hom nooit na ander vroue sien kyk het nie. Om te ontdek dat hy aangetrokke tot ander mans voel, het my geheel en al hulpeloos laat voel – daar was niks wat ek kon doen om te verbeter of myself vir hom mooi te maak nie…”

Tina was stukkend toe sy besluit het om na haar suster-hulle toe te trek. ”Ek het in ’n diep depressie verval en soms vir drie dae lank dieselfde klere gedra. Ek het nie my hare gewas nie en huilend rondgeloop tot ek nie meer trane gehad het nie. Ek het gebid en God gevra om my huis toe te neem. Al wat ek in daardie stadium wou hê, was om dood te gaan.”

’n Wil om te oorleef
Sy het egter ’n punt bereik waar sy besef het dat haar kinders sonder ma agtergelaat sou wees as sy moes sterf, en sy het besluit om te bly lewe – om hul onthalwe. Vandag glo sy vas dat dit dié wete en die groep mense om haar was wat haar deurgetrek het. Haar hartseer het in ’n desperaatheid ontwikkel om haar lewe terug te wen.

Vir drie weke lank het Tina net vrugte en groente geëet en God gevra om haar heel te maak. Sy wou nie vir ewig met ’n gebroke hart leef nie. Die dag van haar egskeiding, het sy ’n gevoel van verligting ervaar en selfs vir haar sussie gesê sy is gereed om haar nuwe man te ontmoet. “Ek het geleer dat hoop nooit verlore is nie en dat geloof dít is wat jou tot by die punt bring waar jy ’n wonderwerk beleef. Die dag na my egskeiding, het ek my nuwe man ontmoet en ons is nou gelukkig getroud en ’n nuwe baba is op pad!”

Die pad na herstel was lank en aanvanklik wou sy nie aan enige man raak nie. “Toe ek egter my huidige man ontmoet (hy was 27 jaar oud en steeds ’n maagd), het dit my laat besef dat hy ook aan my getrou sal wees as hy so lank aan God getrou kon wees. Die Here het geweet dat ek hernude vertroue nodig het, en die feit dat Kevin vir 27 jaar vir my gewag het, het my hom laat vertrou.

Ek het die sprokiestroue gehad wat ek nog altyd wou hê, en in elke opsig voel ek dat dit wat verlore was, weer herstel is. Die reis was nie ’n maklike een nie, maar om in hoop te glo, het my gewys wat deursettingsvermoë kan doen.”

Dit is onregverdig om iemand te mislei en hulle van die algehele toewyding en liefde wat enigeen in ’n huwelik verdien, te ontneem, skryf Crystal. “Dit is onregverdig om jare van iemand weg te neem wat geglo het dat hulle met die liefde van hul lewe trou, as hulle in werklikheid met ’n vreemdeling getroud is.” Om die waarheid te aanvaar, is pynlik en kan bykans met die pyn vergelyk word wat jy voel as iemand na aan jou oorlede is.

“Onthou dat dit op die lange duur ’n gevoel van vryheid en verligting sal bring, hoewel dit pynlik sal wees om jou gay of biseksuele man te konfronteer. Dit is bevrydend om eindelik die laaste stuk in die legkaart te pas wat die tekort aan liefdesbetuiging en die ondeurgrondelikheid wat met ’n huwelik van misleiding gepaard gaan, te verduidelik.” (www.associatedcontent.com)

As jy vermoed dat jou man in die geheim ’n homoseksuele of biseksuele lewe lei, verdien jy antwoorde. Die feit dat jy oor sy seksuele oriëntasie wonder, en as jou instink vir jou vertel dat daar so ’n moontlikheid is, moet jy dalk ondersoek instel…
• Kyk na sy aanlynaktiwiteite. As hy baie geheimsinnig is, het hy waarskynlik iets om weg te steek.
• As jou man misterieuse telefoonoproepe van mans wat nog nooit vantevore genoem is nie, ontvang, is hulle dalk meer as vriende.
• As julle minder as tien keer per jaar seks het, word die huwelik as ’seksloos’ geklassifiseer. As jou man, wat andersins gesond voorkom, ’n tekort aan seksuele begeerte openbaar en fisiek en emosioneel onbelangstellend is, stel hy waarskynlik in die teenoorgestelde geslag belang.
• Kyk na sy liggaamstaal. As jy vermoed dat jou man gay of biseksueel is, kyk na hoe hy in die openbaar reageer. Watter mense trek sy aandag? Probeer hy oogkontak met ander mans maak?
• Dink jou man jy is ’n nimfomaan of ‘aggressief’ omdat jy twee keer per week seks wil hê? Het jul seksuele aktiwiteite binne die eerste paar jaar van jul huwelik ernstig afgeneem? Sit die gedagte hom af dat hy aan jou vaginale area moet raak of orale seks op jou moet uitoefen?
• Is sy beste vriend gay en kuier hy in gay kroeë? Of is die teenoorgestelde waar: is hy juis uitermatig homofobies, en terg of na-aap hy ander gay mans? Dit kan ’n aanduiding wees dat hy sy homoseksualiteit probeer wegsteek.