Jy het die perfekte lewensmaat gekry, maar julle is só . . . ánders. Hy hou van die Discovery-kanaal en kan tamaties nie verdra nie. Hy dink dat daar lewe op ander planete is en is ’n ewige optimis. Jy is aan die ánder kant van die skaal en kan nie help om te wonder nie – gaan julle verskille nog die ondergang van jul huwelik beteken?

Vir elke paartjie wat trots verklaar: “Ons is só dieselfde!” is daar nog ’n paartjie wat meen: “Ons verskil soos dag en nag.” En glo dit of nie – onder al eersgenoemde paartjies is daar huwelike wat werk én misluk. Só ook onder die ander groep. Die vrae hieroor is legio. Is dit gesond om hééltemal ooreen te kom, ten opsigte van belangstellings, waardes en persoonlikheid? En indien nie, hoeveel kan ’n mens verskil voor dit tot dramatiese botsings lei?

Wat verbeter ons kanse op sukses?

Die webtuiste personalitypage.com meen dat mense gewoonlik aangetrokke voel tot hul teenoorgestelde persoonlikheid omdat dit opwinding bring en ook vanweë die mens se natuurlike strewe na “voltooiing”. Ons word natuurlik aangetrek tot mense wat sterk eienskappe het waar ons kortkom, en ons onderbewussyn forseer ons om die swakker dele van ons aard en die konflik wat botsende persoonlikhede teweegbring, te konfronteer. As ’n paartjie wat die teenoorgestelde van mekaar is egter sou trou, is die kanse op spanning vanweë daardie verskille nogal goed, meen kenners.

Tóg, hoewel ons wel aangetrek word deur ons teenoorgesteldes, is ons meer aangetrokke tot mense wat ons fokus in die lewe deel. “Paartjies wat dieselfde dominante funksie in hul persoonlikhede het, blyk die langste en gelukkigste verhoudings te hê,” bepaal dié webtuiste. Hoe meer eenders julle is, hoe makliker is dit in ’n huwelik omdat een nie soveel moet opoffer nie, aangesien julle reeds ooreenstem, sê dr Gail Salz, ’n sielkundige van New York City en medewerker vir Today.

’n Studie in die joernaal Proceedings of the National Academy of Sciences het weer gevind dat daar onder jong getroude pare sterk ooreenkomste was wat houdings en waardes betref, en ’n kleiner voorkoms van ooreenkomste wat elemente van persoonlikheid betref. Dit het weereens bewys dat mense lewensmaats kies wat baie dieselfde as hulle is. Toe die navorsers die vlakke van huweliksgeluk en tevredenheid getoets het, was dit die paartjies met eenderse persoonlikhede (maar nie noodwendig eenderse houdings/uitgangspunte nie) wat die gelukkigste was.
’n Studie deur Columbia Universiteit het egter bewys dat huwelike waarin paartjies oor álles ooreenstem, minder geneig is om te hou. Dit wil voorkom asof sielkundiges meer ten gunste is van die opposites attract scenario. Die universiteit se openbare gesondheidsorg-departement het bevind die paartjies met die sterkste verhoudings is dié wat nié te veel ooreenstem nie en nié te veel verskil nie, maar hulself iewers tussenin bevind.

Hoekom lyk ons na mekaar?

Al ooit na ’n ou getroude paartjie gekyk en gedink: “Hulle lyk nes boetie en sussie!” Dit is omdat navorsing bevind het dat paartjies mettertyd al meer na mekaar begin lyk en dat dit grotendeels met karaktertrekke en persoonlikheid te doen het. Robert Zajonc, ’n sielkundige aan die Universiteit van Michigan, het foto’s ondersoek van paartjies toe hulle getroud is en foto’s van dieselfde paartjies 25 jaar later. Die paartjies het al meer na mekaar begin lyk. En hoe gelukkiger die paartjies gesê het hulle is, hoe meer het hulle na mekaar gelyk!
Hy het genoem dat ouer paartjies al meer na mekaar begin lyk omdat mense wat na aan mekaar is, mekaar se gesigsuitdrukkings namaak. As jou maat dus ’n goeie sin vir humor het en baie lag, sal hy/sy lagplooie om die mond ontwikkel, nes jy.

In 2006 het wetenskaplikes aan die Universiteit van Liverpool deelnemers gevra om na individuele foto’s van mans en vroue te kyk en hul persoonlikhede te beoordeel. Die deelnemers het nie geweet wie in die foto’s getroud is met wie nie, maar die paartjies wat die langste by mekaar was se persoonlikhede het, volgens die beoordeling, meer ooreengestem. Die gevolgtrekking was dat paartjies meer na mekaar begin lyk omdat hulle in sekere opsigte reeds baie soos mekaar is.

Wat van waardes?

Op foryourmarriage.org skryf die huweliksberader Susan Vogt dat paartjies doeltreffende kommunikasie perfek onder die knie kan hê, maar steeds ernstige huweliksprobleme kan ervaar omdat hulle persoonlikhede of waardes dramaties verskil. “Persoonlikhede kan nie maklik verander word nie, so dit is ’n rooi vlag wanneer paartjies wat uitgaan baie verskillende persoonlikhede het.” Sy noem egter dat komplimenterende persoonlikhede tot ’n huwelik se voordeel kan strek, byvoorbeeld wanneer hy ’n prater en jy ’n luisteraar is. Of wanneer hy hou van detail en jy die groter prentjie sien. “Dikwels kan mense met verskillende persoonlikhede middeweë uitwerk, solank die verskille nie té erg of op té veel vlakke is nie.”

Hoewel persoonlikheidsverskille oorkom kan word, kan verskille rakende algemene waardes fataal wees, meen Susan. As jou maat droom van ’n gypsy-bestaan in ’n eenvoudige tent iewers in Afrika en jy droom van ’n paleis in Sandton, kan dit moeilikheid beteken. As jou geloof vir jou belangrik is en jou maat spot met jou “naïwiteit” in sy oë, kan dit baie spanning veroorsaak. Hoe gemaak as jy ’n string kinders begeer wat Kersfees onder jou ouers se Kersboom geskenke oopmaak, en jou maat voel kinders is ’n stremming op jul vrye leefstyl en drome om te reis?
Morele waardes is diepgewortel: As jy respek vir enige vorm van lewe openbaar en jou man tree wreed teenoor diere op, is dit ’n ernstige rede tot kommer. Jy kan nie jou waardes verander sonder om jou integriteit en gewete te beskadig nie.

Maar ons is reeds getroud!

Dis só belangrik dat ’n paartjie mekaar goed genoeg ken voor hulle trou sodat hierdie verrassings uitgeskakel kan word, maar wat as julle reeds getroud is en jy nou ontdek het julle waardes of persoonlikhede veroorsaak konflik? Die vraag of jul huwelik kan werk, hang af van die erns van julle verskille en of julle mekaar iewers in die middel kan ontmoet of mekaar se oortuigings kan verdra. Hoe aanpasbaar is jy? Dis belangrik vir enige paartjie om te leer dat alles nie swart en wit is nie, en om sensitiwiteit teenoor jou maat te ontwikkel. Soms kan paartjies ooreenkom om te verskil ten opsigte van sekere waardes en daardie waardes afsonderlik uitleef.

Maar die meeste ernstige verskille in waardes vereis terapie. Bespreek met jou maat hoe belangrik die volgende vir jou is: Eerlikheid, getrouheid, lojaliteit, vrygewigheid, vredemaak, toewyding teenoor ouerpare, leefstyl, goedhartigheid, selfbeheersing, opvoeding, opoffering, vriendskap en kinders. Gesprekke oor hierdie temas sal julle help om te bepaal hoeveel julle ooreenstem en waar julle huwelik ernstige hulp nodig het.

Waarmee kan ons wegkom?

Daar is kenners wat meen dat ’n paartjie nie dieselfde hoef te wees nie, maar wel verenigbaar. Jy beweeg in ’n gevaarsone wanneer jy van die ander persoon verwag om jou “heel te maak”. Hier is waar julle moet ooreenkom of minstens ’n middeweg moet vind:

1. Hoe geïntegreerd julle jul lewens wil hê. Sommige paartjies doen alles saam en ander het afsonderlike belangstellings, stokperdjies en bankrekenings. Daar is selfs getroude paartjies wat verkies om nie voltyds ’n huis te deel nie! Sommige paartjies deel selfs wagwoorde en Facebook-name, maar ander hou van ’n mate van privaatheid. Solank julle ooreenstem hieroor.
2. Hoe julle familiestruktuur moet lyk. Dít is ’n kwessie wat ’n paartjie beslis voor die huwelik moet deurtrap. Wil julle kinders hê? Hoeveel wil julle hê? Is vrugbaarheidsbehandeling, surrogaatskap en/of aanneming op die tafel? Hoe voel julle oor familiebyeenkomste?
3. Seks – hoeveel, wat en waar? Hoe voel julle oor seks? Is dit ’n noodsaaklike element van jul verhouding of is dit ’n bonus wanneer dit wel gebeur? Hoe voel julle oor ontrouheid? Deur hierdie vrae te beantwoord en openlik oor seks te gesels, sal julle gou agterkom of julle versoenbaar is in dié departement.
4. Geld. Dis ook ’n belangrike onderwerp om vóór die huwelik reeds oor te gesels. Wat is jul houdings jeens geld? Hoeveel voel julle is regverdig om te bestee en te spaar? Is julle bestedingstyle dieselfde? Indien nie, kan julle ’n kompromie tref?
5. Konflik-oplossing. Dit is ’n baie belangrike punt wat bespreek moet word omdat dit deursyfer na al die ander onderwerpe en omdat swak konflikhantering die einde van jul huwelik kan beteken. Kan julle praat oor onderwerpe sonder om mekaar te beledig of lelik te raak? Gebruik julle beledigings, dreigemente en vermydingstaktieke? Hoe gaan julle jul konflikhantering-styl aanpas om mekaar tegemoet te kom?

Hieroor hoef julle nie noodwendig saam te stem nie . . .

• Smaak. Jip, dit gaan moeilik wees vir jou om sy Crocs op ’n daaglikse basis te verdra, maar hy kan weer nie verstaan hoe jy bonkige juwele bo fyn silwer verkies nie.
• Geselligheid of mate van sosialisering. Ja, jy kan ’n introvert wees en hy ’n totale ekstrovert, solank dit nie jul huwelik bedreig nie.
• Stokperdjies. Hy is lief vir skubaduik en jy is te bang om jou kleintoontjie in die water te steek. Ondersteun hom – jy kan op die strand lê en bak terwyl hy die diepsee aandurf, en beide van julle kan dolgelukkig wees.

Addisionele bronne: www.quora.com, www.livescience.com, www.personalitypage.com, www.today.com, www.dailymail.com, www.foryourmarriage.org.

Artikel deur Annelize Steyn