Bêre jy iewers in jou laai ’n brosjure oor ’n eilandvakansie op Santorini? Waar jy en Manlief lui in die son kan uitstrek en die gemaklike leefstyl van die Grieke kan beleef? Wel, hou jou lyf gereed. Vandeesmaand breek julle weg na Griekeland (sónder die jet lag!)

Griekeland gaan oor daardie luukse swem in die see, lang siëstas, vars seekosetes, drankies langs die see en daardie . . . ai . . . daardie Griekse mans! As jou eie man nie eers dertig jaar gelede soos ’n Griekse god gelyk het nie, sit jou speel-speel sonbril op en beskou hom daardeur. As hy die sjarme aandraai (soos Griekse mans geneig is om te doen) en jou soos die mooiste vrou in die hele wêreld laat voel, gaan hy tien teen een vir jou veel bruiner, leniger en gespierd lyk as wat hy regtig is. Kies ’n Saterdag, stuur die kinders na maats toe, trek ’n reisgids nader en span jul verbeelding in!

10:00 Die kleredrag in Mykanos is baie gemaklik, maar as jy tradisioneel wíl lyk, laat die eilande jou inspireer en trek jou koelste wit of blou rokkie aan! Begin die dag deur ’n ontbyt vir julle in te pak. As julle by die see bly – eerste prys! Gaan strand toe vir die oggend. As daar ’n rivier naby julle huis is, gaan soontoe, en as jy met die dorp se dam tevrede moet wees, so be it. Pak jou tweestuk, jou sonbrandolie, jou grootste sonhoed, sowel as ’n mandjie of knapsak met ’n tipiese Griekse ontbyt vir twee in. In Griekeland is ontbyt iets wat jou ’n boost vir die dag gee, maar min Grieke het soggens tyd vir aansitetes. Tipiese bestanddele vir ’n Griekse ontbyt is Griekse koffie, hardgekookte eiers, olywe en fetakaas – dikwels ook dik brood. En as jou tand ’n soete is, maak ’n draai by jou naaste bakkery vir ryk gebak soos baklava en pasteitjies met feta en spinasie.

11:00 Span jou sonsambreel in en soek ’n lekker skaduhoekie. Natuurlik het jou selfoon saamgekom en die fliektreffer ‘Mama Mia’ se klankbaan is op die speellys. Pluk ’n wit rokkie van ligte katoen oor jou kop (mits jy natuurlik jou baaikostuum onder aan het!) en vra Manlief om jou van kop tot tone met sonbrandolie in te smeer (wees verantwoordelik en dra ’n sonskerm met ’n 40+ faktor – jy sal steeds met ’n tan wegstap). Skakel die musiek aan en trek jou man nader. Natuurlik sal dit help as julle nie op Clifton se swemstrand lê nie, maar iewers op ’n ongerepte rivieroewer buite sig. Wanneer laas het jy en Manlief onbevange gedans? Abba se treffers roep tien teen een goeie herinneringe op.

12:00 Teen dié tyd is julle hopelik flou geboogie. Spring in die water en koel af. Hou mekaar vas. Daar is iets baie romanties daarin om ’n golf in mekaar se arms te trotseer, of met jou bene om Manlief se lyf onder ’n waterval te staan. Speel en vry dat die water spat! Klim nou uit, droog mekaar af en gaan bak weer warm in die son. Nou moet julle egter eers ’n glasie op die lewe klink! Daar is tientalle wingerde in Griekeland. Rooiwyn is gewilder as witwyn en plaaslike wyne is redelik goedkoop as julle dit in ’n taverne bestel. As rooiwyn egter nie jou ding is nie, sal Ouzo (’n anysgeurdrankie), Griekse koffie of vrugtesap (baie gewild in Griekeland) ook werk.

13:00 Tyd om huis toe te gaan, maar op pad terug, moet julle by ’n seekoswinkeltjie stop. Kry die lekkerste, varsste seekos wat jy kan bekostig. Sorg ook dat daar ’n variasie van lynvis, calamari en garnale is. Kry genoeg botter en suurlemoensap, sowel as speserye. Kyk ook sommer of julle by ’n pottebakkery kan stilhou waar jy twee rou keramiekborde teen ’n appel en ’n ei kan aanskaf. Julle gaan nou saam kosmaak. Een voorwaarde: geen resepteboek nie. Julle mag maar voortdurend proe en wysig. Julle kan mekaar met jul vingers voer en quickies op die tafel inwerk (verkieslik nie op die blad waar julle besig is om julle kos voor te berei nie!) Dit is spesiaal om saam skeppend te wees en vandag skep julle ’n vyfstergereg extraordinaire!

15:00 Plaas na ete weer musiek met ’n lekker ritme in die CD-speler en haal die keramiekborde uit. Skryf wat jy op die hart het op jou bord, en vra Manlief om dieselfde te doen. Skryf hoekom jy vir jou maat lief is en wat vandag vir jou beteken. Gebruik eenvoudige taal en nie te veel metafore nie. Anders is dit vir hom asof jy, wel . . . Grieks praat. Hou dit op die man af. Gee dit dan vir mekaar om te lees, sluit af met ’n sensuele soen, breek die borde en dans daarop!

16:00 Vind vooraf uit of daar donkieritte in die omgewing is. As julle naby ’n romantiese dorpie soos Clarens bly, gaan jy nie sukkel nie, ook nie as julle iewers in die Weskus woon nie. Miskien bly daar ’n boer naby wat julle ken. Reël vooraf met hom om twee donkies vir die middag te leen. Druk die grootste, rooiste blom wat jy kan kry in jou hare en ry op die donkies. Onthou, ’n donkierit gaan meer oor die reis as oor die bestemming – nes jul liefde vir mekaar. Dit is luilekkertyd wat julle langs mekaar kan deurbring en oor jul lewe saam kan gesels.

17:00 Daar is genoeg oorskietvis, so jy hoef jou nie oor kosmaak te bekommer nie (en as daar nie oorskietkos is nie, is julle waarskynlik nie honger nie!) Vanmiddag is storieleestyd. Neem ’n boek oor die Griekse mitologie by die biblioteek uit en lees vir Manlief jou gunsteling mite. Daar is heelwat mitologiese figure wat baie sensueel is. Gesels daaroor. Kies ’n figuur wat by Manlief pas en vertel hom hoe sexy hy vir jou is. Die meeste mans sal met die meeste mitologiese figure vergelyk wil word, al is dit net lyflik! Onthou ook dat die Grieke baie van gebare gebruik maak. Moenie huiwer om vir hom te wys presies hóé groot en hóé sterk hy vir jou is nie!

18:00 Hoop julle kan nog jul oë oophou, want vanaand is fliekaand. Daar is hope flieks wat deur Griekeland geïnspireer is (Dink aan My Big, Fat Greek Wedding, Zorba, Mama Mia en My Life in Ruins). Neem ’n video uit, gaan lê styf langs mekaar op die bank, vryf Manlief se rug (en hopelik masseer hy jou voete!) en ontspan. Raak sommer net daar op die bank aan die slaap. En as julle wakker is en energie vir ’n bietjie aksie oor het . . . moenie ’n kosbare minuut mors nie!

Griekse tradisies en bygelowe . . .

Spoeg drie keer
Sommige Grieke glo dat om te spoeg die duiwel en ongeluk weghou. So, wanneer iemand slegte nuus deel, spoeg die ander gewoonlik drie keer en sê: ‘Ftou, ftou, ftou’. Wanneer een persoon ’n ander oor sy/haar skoonheid komplimenteer, spoeg hierdie persoon ook drie keer op die gekomplimenteerde persoon (goeie idee om vandag al die negatiwiteit weg te ‘ftou’, maar as jy vir Manlief vertel hoe sexy hy vir jou is, en dan op hom spoeg, gaan hy waarskynlik nie veel waardering vir hierdie Griekse tradisie hê nie!)

‘Piase kokkino’ (raak aan rooi)
Sorg dat jy vandag ’n rooi lap in jul knapsak pak en dra dit oral saam met jou. Wanneer jy en Manlief presies dieselfde ding gelyktydig sê, sê onmiddellik die frase ‘piase kokkino’ vir mekaar en raak aan die rooi lap (of enige rooi item wat jy naby jou kan kry). Die Grieke glo dat om dieselfde ding gelyktydig kwyt te raak, soos ’n vloek is, en dat twee mense in ’n argument betrokke gaan raak as hulle nie ’n rooi ding aanraak nadat dit gebeur het nie. Jy hoef dit nie te glo nie, maar dit sorg vir pret!

Het jy ’n ‘Griekse skoonma?’
Wys jou man hoe lief jy hom het deur haar reg te hanteer. Daar word gesê dat die hoof van die huishouding teoreties die vaderfiguur is, maar dat dit in realiteit die ma van die huisgesin is wat die reëls maak en breek. As dit soos jou skoonma klink, onthou die volgende om haar ‘Griekse’ neigings te oorleef:
• Jy sal nooit goed genoeg vir haar seun wees nie. Aanvaar dit en berus daarby. Sy het ’n engel grootgemaak, en nie jy of enigiemand anders sal haar van standpunt laat verander nie.
• Antwoord die telefoon as sy bel (gewoonlik wanneer sy wakker word). Sy moet tog hoor of haar seun die nag oorleef het (veral ná jou aandete), en as jy nie onmiddellik antwoord nie, gaan sy die hospitaal bel!
• Sy het jou man se nommer, selfoonnommer, faksnommer, e-posadres en Facebook-besonderhede in haar beursie. Julle kan nie wegkruip nie. Sy sal julle kry.
• Die Grieke glo nie aan uitnodigings nie. Griekse ouers ‘ry’ in die middae en hierdie ‘ryery’ lei gewoonlik tot by jul voordeur. As jy gelukkig is, besit hulle nie ’n spaarsleutel nie.
• As hulle ’n sleutel het, sal jy ’n tuisgemaakte ete, gewaste wasgoed en meubels wat herrangskik is, teëkom wanneer julle tuiskom.
• Onthou dat alles wat sy doen, oor haar kinders gaan. Jy sal altyd kos, ’n baba-oppasser en nuwe klere hê. Jy sal nooit reg wees nie, maar Manlief was self ook nooit reg nie. Verduur dit maar – jy sal liefgehê word (al is jy nie die vrou waarop sy vir haar bloedjie gehoop het nie!) (www.greekweddingsandtraditions.com)