Hier is ook vir jou ‘n opsomming van die video, vir ingeval jy sukkel om die video te kyk:

Die video word met trots aan jou gebring deur Marriage Capsule… Your Marriage Matters! 

My naam is Liezel van der Merwe –  stigter en besturende direkteur van Intiem sedert 2006. Vir die afgelope 12 jaar het ons met die kundiges gewerk rondom huweliksake en sekssake. Ons het 100 uitgawes, 50 spesiale “couples dae” en 5 bootreise gehou. Ons het SA Marriage Week in SA tot stand gebring en in 2017 ‘n nuwe briljante huweliks uitdaging gebou wat gegrond is op hierdie kennis – genaamd Marriage Capsule!

Hier is ‘n kommunikasie metode wat jy kan gebruik om oor moeilike goed te praat! Goed wat jy van tevore nie oplossings voor kon kry nie. Hierdie is ‘n 3 stap metode en vat net 30 minute.

Ons noem dit die Edgar-30 metode.

Dit bestaan uit 3 x 10 minute… en 20 van die 30 minute praat julle nie eers met mekaar nie!

Hierdie metode kan jy vandag in jou huis begin gebruik en dit sal jou lewe beslis op een of ander manier positief verander!!!

Hier is hoe!

Kom ons begin met ‘n maklike voorbeeld. Johan wil hê die honde moet buite slaap. En sy vrou Sandra wil hê die honde moet saam met hulle op die bed slaap. Hulle baklei al jare hieroor en die arme honde kry net nie lêplek nie.

Stap 1. Die eerste 10 minute.

Elke persoon kry ‘n bladsy om op te skryf en ‘n pen. Johan gaan sit in  die eetkamer en Sandra in die kamer en skryf vir 10 minute lank hul opinies en oortuigings neer. Hulle praat nie met mekaar nie. Johan skryf alle redes hoekom die honde moet buite slaap, en Sandra al die redes hoekom die honde op die bed moet slaap.

Na 10 minute lui die “timer” en die twee loop na mekaar en ruil bladsye. Niemand praat nie.

Stap 2. Die tweede 10 minute.

Nou gaan Johan en Sandra terug na  hulle aparte plekke en vir 10 minute lees hulle mekaar se bladsye. Lees net. En as jy klaar gelees het, lees weer tot die 10 minute verby is.

Stap 3. Die laaste 10 minute.

Nou kom julle bymekaar en begin gesels. Wat op hierdie stadium gewoonlik gebeur is dat Johan sal sê: Sandra ek het nie geweet hoeveel liefde en lekkerte jy beleef met die honde nie. Hulle kan binne slaap, maar dalk net langs die bed.

Sandra sal dalk sê: Johan ek het nie besef die hondehare laat jou so juk nie. Die honde hoef glad nie saam met ons in die bed te slaap nie. Ek sal voor die tv met hulle cuddle!

Die goue geheim met hierdie metode is dat jy regtig vir die eerste keer behoorlik tyd neem om na jou maat se opinies te luister. Ons is gewoond om dubbel soveel te praat as wat ons luister en as ons luister, luister ons reg om die volgende argument te verwoord!

Die Edgar30 metode het so baie paartjies al gehelp.

Probeer dit! Begin by ‘n klein jakkalsies en takel die groot kommunikasie probleme later.

Dalk is julle dapper genoeg om die Edgar 30 metode te gebruik en oor julle sekslewe met mekaar te gesels…

Om saam te vat:

  • Die Edgar 30 metode bestaan uit 3 x 10 minute sessies.
  • Die eerste 10 minute skryf julle (in aparte vertrekke)
  • Die tweede 10 minute lees julle (in aparte vertrekke)
  • En die laaste 10 minute kom julle bymekaar en bereik ‘n nuwe ooreenkoms!

Probeer dit vandag en maak so ‘n verskil in jou huwelik en jou lewe.