My vrou het onlangs geboorte gegee aan ons eerste kind. Ek is ’n geduldige ou en ek het haar ondersteun deur die hele swangerskap. Ek het ook saam gelees aan swangerskapboeke en is baie bewus van die feit dat ’n vrou se lyf en emosies nodig het om te herstel na só ’n groot ervaring. Haar ginekoloog het gepraat van ses weke, maar dit is nou al drie maande en ons het nog nie weer seks gehad nie.

Ek wil haar tyd gee, maar ’n man is ook nie ’n klip nie. Dit voel vir my asof sy al haar aandag aan die kleintjie wy – ek weet dit is belangrik – maar ek voel afgeskeep. Moet ek nog geduldig wees en vir hoe lank? Of moet ek die saak met haar aanroer? Indien wel, hoe?

TIMOTHY KIESWETTER, SEKSUALITEITSKENNER, ANTWOORD:
Eerstens, baie geluk met die kleintjie. Baie keer nadat ’n vrou mamma geword het, veral met haar eerste kind, neem die sekslewe ’n bietjie van ’n backseat. Dit is nie omdat sy jou aspris afskeep of kwaad is of nie lus is vir jou nie. Dit is bloot omdat die verantwoordelik om hierdie pap baba se moeder te wees en die onsekerheid wat ook daaraan gekoppel is, net te groot en oorweldigend is.
Wat moet jy doen? Jy moet haar daarvan bewus maak en dit met haar bespreek. Komplimenteer haar oor hoe wonderlik sy as nuwe mamma vaar. Stel haar gerus dat sy nog vir jou sexy lyk. Maak dan seker sy verstaan jy smag na haar, jy verlang na haar, jy begeer haar. Maar doen dit met jou woorde, moet nie net vat en gryp nie. Die baba vat en gryp haar, sy wil weer betower word deur jou liefdeswoorde