Die tandarts was nog nooit my gunsteling plek nie, en ek was al meer as genoeg in my lewe in daardie stoel waar jy moet “aaaaahhhhhh” en hoor hoe hulle boor tot jy dink die hele tand is nou vir seker weg. Ek vermoed ek moes my tande êrens verkeerd geborsel het, want die tandarts is elke jaar een of ander tyd my voorland. Inplantate, krone, wortelkanale . . . ek het alles.

Só oorleef ek weer ’n traumatiese wortelkanaal in November en het skaars begin bly word oor ’n gesonde mond toe my agterste tand in Desember begin seer word. Dis vakansie en ek gaan sommer na die naaste tandarts. Hy skud sy kop, soos die meganiese manne maak as jou kar se enjin groet.

Die tand moet uit. Dit het reeds ’n wortelkanaal en kroon, maar die wortel het nou binne-in die tandkas afgebreek en die tandvleis swel met infeksie. Die alternatief, sê die tandarts, is antibiotika vir die inflammasie, maar hy dink die tand moet uit. Ek kies egter steeds die antibiotika en gebed.

Die pyn verlig effens, maar is na ’n maand of wat weer terug. En só loop ek toe met die seer tand en kou alles so half aan die een kant. Teen Meimaand besef ek die inflammasie kan seker nie goed wees nie en bel vir Lara, my tandarts, met ’n swaar hart. Daar aangekom, ondersoek sy my en bevestig my vermoede – die tand moet uit. Ek drink weer antibiotika om die inflammasie hok te slaan en meld die Maandag aan om die tand te laat trek. In die stoel. Sonder my ma . . .

Ek lê en net voor Lara begin, vra ek half huiwerig: “Kan iemand my hand vashou?” Die “skaam voel” was op daardie stadium heelwat minder as die “bang voel”. Haar lieflike assistent vat my hand stewig vas. Lara spuit. Ná ’n ruk is die area verdoof. Die assistent vat my hand weer vas en Lara begin woel en werskaf. Ek druk haar hand vir al wat ek werd is, en na 20 tellings is die tand uit en het ek die gevreesde afspraak oorleef.

Ek ry “dikbek” weg, dankbaar dat dit verby is en diep in verwondering dat iemand wat my hand vashou dit soveel beter en makliker gemaak het.

Tuis gaan Google ek “the science of holding hands”. Kon hierdie aksie my werklik gehelp het om deur die moeilike prosedure te kom? Studies toon inderdaad dat die aksie van hande vashou areas in die brein wat geassosieer word met angs en pyn, demp. Daarom sal ’n pynlike situasie meer hanteerbaar wees indien iemand jou hand vashou.

Een van die eerste aksies wat jy as babatjie gedoen het, was om jou handjie toe te maak wanneer Mamma of Pappa se pinkie in jou handjie kom lê het. Later het Pa of Ma se hand vashou jou veilig gehou en rigting gegee. Al die hande vashou was veilig, maklik en het ons beskerm.

Aanraking is inderdaad baie belangrik vir jou gesondheid. As jy die eerste keer verlief is en ’n outjie vat jou hand, draai jou ingewande en maak dit wawiele tussen die skoenlappers. En só word die hand van ’n outjie eendag die hand van die man met wie jy gaan trou. Hy hou jou hand die eerste keer vas en jy hoop dat hierdie hand vir altyd by jou gaan wees.

Hande vashou met Nico was nog altyd een van my gunsteling dinge. Dit is vir my ’n teken dat ons aan mekaar behoort, maar dis ook net ’n lekkerte wat elke dag se gewone ’n bietjie meer spesiaal maak. Hande vashou is deel van ons daaglikse roetine, van rondry in die kar tot rondloop waar ons ook al is.

Ek onthou wakker word van ’n operasie en my eerste bewuswording is sy twee hande wat my hand warm vashou. Ek onthou hande vashou met ons kinders se geboortes en hande vashou toe ons familie hartsmense moes begrawe. Ons hande vashou was deur laagte- en hoogtepunte altyd ’n plek waar ons net weer kon connect. Dit was vir my nog altyd my veilige plek en ’n teken van iemand wat sê: “Ek is hier saam met jou.”

Vandag wil ek onthou om opnuut weer iemand se hand te vat. My man s’n om te wys ek is lief vir hom, my kinders s’n, al is hulle groot seuns, iemand wat swaar en seer kry om te sê “Ek is hier” en in my gees my Vader s’n, want Sy hand is die hartklop van my lewe.

Ek hoop dat jy vandag sal onthou dat om iemand se hand te vat, soveel meer beteken as wat ons dink. Dis ’n teken van lewe en omgee.