In my navorsing oor hierdie onderwerp het my paaie gekruis met Dave Willis wat die volgende gesê het:

“Obviously, our kids need to be a huge priority and we would do anything for our children, BUT our modern world has mistakenly viewed children’s happiness as a greater priority than marital health. It’s not our job to raise “happy kids;” it’s our job to raise responsible adults. When all the focus is on the children’s temporary happiness, we end up harming the kids and harming the marriage at the same time. We also end up with an “empty nest” and an empty marriage. One of the greatest gifts you can give your children is the security that comes from living a unified home where their mom and dad are in a loving, committed marriage with each other.”

So, kinders soek voorbeelde, maar nog beter as dit, hulle kyk na Pa en Ma en besluit dan op hulle eie wat vir hulle van daardie verhouding werk en wat nie. Dit wat werk sal hulle dan ook later in hulle eie huweliksverhoudings wil behou.

Ja, daar is ‘n teorie wat sê dat as mense huweliksmaats soek, soek hulle iemand wat hulle kan help met die regmaak van die dinge wat hulle verkeerd ervaar het in hulle kinderjare. Daar is egter ook ‘n teorie wat sê dat hulle ook sal wil herhaal wat hulle positief ervaar en gesien het by hulle eie ouers.

Die punte wat Dave Willis uitlig wat mense in hulle huwelike en ouerskap kan doen en wat hulle kinders sal wil voortsit in hulle eie huwelike is onder andere:

1. Daardie tye wat julle as ouers vir hulle as kinders die moed gegee het om nuwe dinge te probeer.

Waagmoed en risiko word by ouers geleer. As ons as ouers wil hê dat kinders in hulself moet glo, moet ons vir hulle die geleentheid gee om dinge te probeer – nuwe dinge. Gaan hulle moontlik foute maak? Vir seker! Maar dit is ook in hierdie foute wat ons by hulle moet staan. Die Here kan ons nie na nuwe vlakke neem as ons nie bereid is om te waag en te vertrou nie. Dit is waar geloof inkom. Ons kinders kan dit nie toepas as ons dit nie in praktiese maniere vir hulle wys nie. As dit ou bekende dinge is wat ons doen, het ons min geloof nodig, dit is by die nuwe onbekende dinge wat hulle aanpak wat ons geloof nodig het, asook om te leer om te luister na die Here.

2. Die tye wat jy deur jou voorbeeld en nie met woorde jou kinders geleer het.

Kinders is soos sponse. Hulle is ook nie onnosel nie. Hulle kan baie gou agterkom of dit wat jy sê en dit wat jy doen hande vat. As dit nie doen nie, sal hulle baie min waarde daaraan heg en dit sal ook geen veiligheid vir hulle skep nie. As julle woorde en julle dade egter wel ooreenstem en mekaar aanvul, sal dit baie rigting, veiligheid en sekuriteit vir kinders skep. Wees versigtig om reëls in die familie neer te lê wat julle self nie bereid is om na te kom nie. Moet dus nie dinge van jul kinders verwag wat julle nie self bereid is om te doen nie. Wys hulle hoe om dinge te doen. Woorde is baie keer leeg en kan ook seer maak en baie onduidelikheid skep.
Laat julle voorbeeld dus harder praat as woorde. Indien jy woorde wil gebruik, maak seker dat julle kinders verstaan wat gesê word.

3. Die tye wat julle as ouers hulle laat veilig (of onveilig) voel het.

Die grootste behoefte van ‘n kind is om liefde te ervaar, aanvaar te word en beskerm te word. Daarin lê baie veiligheid, vreugde en vrede opgesluit. Skep hierdie veilige hawe eers tussen julle as ‘n huwelikspaar. As julle onveilig voel, sal die kinders dit onmiddellik optel. Die probleem is dat kinders baie keer die afleiding maak dat hulle die oorsaak van hierdie “onveiligheid” is en dit dan probeer regmaak. Hierdie probeerslag van hulle word baie keer nie deur die ouers raakgesien nie of selfs afgemaak as onnodig. Dit skep dan verdere verwarring by die kinders. Veiligheid is uiters belangrik vir enige huwelikspaar om optimaal te kan funksioneer…. maar dis net so belangrik vir die kinders!

4. Die tye toe julle vir julle kinders tyd gemaak het.

Maak tyd. Die lewe hardloop teen die spoed van wit lig en sleep alles en almal saam in daardie stroom. Deur tyd te maak, heel eerste vir mekaar as ‘n huwelikspaar, sal julle die waarde daarvan besef en ook dan daardie waarde vir julle kinders wys. Liefde, aanvaarding en waarde word in kinders se terme gespel met die woord “tyd”. Hulle lewens en behoeftes moet erken en gerespekteer word. Dit kan alleenlik gedoen word as daar tyd eenkant gesit word. Is dit ‘n opofferimg? Sal daar iets anders wees wat julle in daardie tyd kon doen? Ja, daar sal altyd wees. Maar jou kind sal ervaar dat daar altyd iets is wat belangriker is as hy of sy en met daardie kennis die lewe en hulle huwelike ingaan, naamlik dat my eie lewe en program altyd eerste aandag moet kry en dit wat oorbly kan ander kry, insluitend my kinders.

5. Die manier hoe jy met jou huweliksmaat leef en werk.

Ons almal wil hê dat ons kinders die beste huweliksmaats moet kry en dat hulle gelukkig in hulle huwelike sal wees. Die beste manier om vir hulle te wys hoe so ‘n huwelik lyk, is om julle huwelik te gebruik as die bloudruk. Hierdie bloudruk sal die indruk los wat kinders sal navolg. As hulle sien dat jul huwelik werk en dat daar veiligheid en sekuriteit ontwikkel vanuit hierdie verhouding (vir hulle en vir julle), sal hulle net so ‘n verhouding wil hê. Hulle sal ook nie bereid wees om ‘n tweede-handse weergawe te aanvaar nie. Hulle sal die beste wil hê, want hulle is gewoond aan die beste. Hoekom ‘n tweede-handse artikel optel as jy weet dat ‘n splinternuwe artikel soveel beter is?

6. Julle woorde wat opbou en julle woorde van kritiek.

Ons het vroeër gepraat oor die krag van woorde. Onthou dat negatiewe woorde sterker is as positiewe woorde. So kies ons om die positiewe raak te sien en uit te lig aan mekaar as huweliksmaats, maar ook aan die kinders. Die positiewe is teenwoordig in oorvloed in ons lewens, maar meeste mense aanvaar dat die positiewe raakgesien word en dat ander dit waardeer. As dit egter nie genoem word nie, gaan niemand weet dat daar positiwiteit in die spasie is nie. As daar negatiwiteit is, word dit egter dadelik genoem, want ewe skielik voel ek tenagekom, ek voel nie meer so goed nie en daarom wil ek dit regstel. Die probleem is dat as jy net reageer op die neagtiewe, sal mense net die negatiewe raaksien. Maak die keuse om die positiewe raak te sien en waardeer en komplimenteer mekaar en julle kinders.

7. Julle familietradisies (Bv vakansies, verjaarsdae en spesiale geleenthede)

Skep herinneringe. Doen dit bewustelik. Daar is so baie dinge wat ons vreugde en lewenslus steel in die tye waarin ons leef. Kies om tradisies te skep as ‘n paartjie, maar vir seker ook as gesin. Dit skep weereens veiligheid, maar dit gee ook iets anders, naamlik identiteit. Iets waarmee julle as ‘n paartjie en ook die kinders kan assosieer en wat uitsluitlik aan julle as ‘n gesin gekoppel is. Dit is positiewe bydraes in die gesinsdinamika en dra daartoe by dat ‘n gesin baie heg raak en mekaar begin vertrou. Hulle voel dat hulle aan iets behoort wat spesiaal is. Dit veroorsaak dat mense voel dat hulle uniek is en dat hulle behoort. Identiteit, om iewers te behoort en om uniek te wees, dra alles daartoe by dat ons waarde het en dat ons kan waarde toevoeg. As kinders dit in die huis ervaar sal hulle dit wil voortsit in hulle eie huwelike.

Kom ons hou die volgende aanhaling in gedagte as ons weer ons omgaan met ons maats in ons huwelike, wetende dat daar klein ogies is wat ons stip dop hou:

“Your children are learning about marriage by watching you. Treat your spouse the way you want your children’s future spouse to treat them someday.”

Artikel deur Kobus en Linda Pauw van Connection Impact