Miskien het ek hierdie keer ’n beter kans op geluk, dink jy. Jy hét nie, sê die statistiek, maar jy is in elk geval bereid om die kans te waag. Want wie wil nou alleen oud word?

“My eerste man, Japie, het my hart gesteel en aan’t flarde geskeur toe hy my met my beste vriendin verkul het,” vertel Amy. “Ek het altyd geweet hy is ’n haan onder die henne, ’n man wat daarvan hou om te pronk, en om die een of ander rede was ek nie baie verbaas die dag toe ek hom op heter­daad in ’n naburige dorp betrap het nie. Ek was wel verbaas dat hy die ongevoeligheid gehad het om sy keuse my beste vriendin te maak, en ek het die huwelik beëindig.”

Vier jaar later het ek met ’n man getrou wat ek glo die teenoorgestelde van Japie is. Philip is baie skugter vir vroue, loop nie met sy hart op sy mou nie en is ’n introvert. Ons is baie gelukkig saam, maar daar is ander haakplekke. Ek glo egter dat dinge, met harde werk, dié keer vir my sal uitwerk …

Daar word dikwels gesê dat mense wat geskei is, té veel bagasie met hul saamdra om ’n tweede huwelik te laat werk. In Pshycology Today is gevind dat 60% van alle tweede huwelike misluk.

Time Magazine het egter in 2006 ’n artikel gepubliseer waarin die mening uitgespreek word dat dié statistiek nie in die kol is nie, en dat ’n tweede huwelik slegs ’n 3% groter kans op mislukking as ’n eerste een het. Daar is geen rede waarom dit, mits daaraan gewerk en dit gekoester word, nie kan slaag nie. Wéét egter dat ’n tweede huwelik veel meer gekompliseerd is, om verskeie redes …

Kinders vorm dalk deel van die prentjie . . .

Jy en Manlief begin miskien nie jul huwelik as twee mense wat uitsluitlik op mekaar en die huwelik hoef te fokus nie. Een van die stresvolste tye in ’n huwelik is wanneer die kinders klein is, en indien jy gedurende hierdie tyd trou, maak jou gereed vir ’n uitdaging. Dit is noodsaaklik om verwagtinge te bespreek, gesins-reëls vas te stel en ’n struktuur daar te stel. Alles moet beplan word – en daar is vier ouers wat die beplanning van vakansies, verjaardae en skool aktiwiteit bywoning selfs nog moeiliker maak. Tweede huwelike met kinders vereis weeklikse afspraak-aande en minstens een romantiese wegbreek-naweek per jaar om gesond te bly.

Om met ’n man wat tieners het, te trou, verg waagmoed, veral as jy self nog nie kinders het nie! Wanneer die stiefouers vanuit die staanspoor as die dissiplinêre figure moet optree, spat die vonke gewoonlik! Dit is moeilik om ’n vertrouensband te kweek wanneer jy dissiplinêre verant­woordelikhede het. Die ideale situasie is dat die biologiese ouer die voortou moet neem wat dissipline betref, en dan stelselmatig die leisels met die ander ouer oor ’n twee- of drie-jaar periode moet begin deel. Dit werk ook as die ouer die stiefouer by die besluitneming betrek, maar die voortou neem wat die implementering daarvan behels.

Soms is dit gevaarlik om direk nadat die kinders uit die huis is, te trou, omdat mense nie meer weet hoe dit is om alleen te leef nie. Dit is ’n goeie idee om eers by jou al­leenwees status aan te pas, voordat jy vir ’n tweede keer die knoop deurhaak.

Geld is ’n gekompliseerde kwessie in ’n tweede huwelik waar die kinders uit die huis is, meen Karen L. Maudlin, ’n gelisensieerde kliniese sielkundige wat in huwelik- en gesinsterapie spesialiseer. Paartjies wat later trou is op testamente, aftrede en trusts vir die kinders gefokus. “Albei gaan die huwelik met gevestigde en miskien verskillende waardes betreffende geldsake binne, wat die noodsaak­likheid om te onderhandel en opoffererings te maak, beklemtoon,” sê sy. Volwasse kinders hou hul eie uitdagings in.

Onthou, jul situasie kan deur die volgende vererger word:

  1. Die kinders is jul verantwoordelikheid en hulle het ook al die tyd en aandag nodig wat ’n kind van sy ouers behoort te kry. Dit kan jou gefrustreerd laat voel, veral wanneer die aandag eerder op die familie as op jou is.
  2. Die situasie kan erger voel as dit jou eerste huwelik is en jy dit vol verwagtinge, sonder die bagasie, binnegetree het. Natuurlik wil ’n bruid eerste gestel word, en nie laer af op die prioriteit-leertjie skuif nie.
  3. Jy voel dalk of jy voortdurend in kompetisie met sy eks en die kinders is. Jou maat sal soms gedwing wees om sy kinders bó jou te kies. Moet ook nie jaloers wees op die feit dat hierdie gesin ’n gedeelde geskiedenis het nie.
  4. Finansieel kan dit nogal ’n las op julle wees, maar onthou dat hier nie ’n kortpad is nie. Selfs volwasse kinders uit ’n eerste huwelik vereis geld, en dit is deel van ’n ouer se verpligtinge.
  5. ’n Tweede huwelik moet as ’n verhouding met spesiale behoeftes beskou word. Julle moet méér koesterend wees, méér kommunikeer en die kinders sal versigtig hanteer moet word, aangesien hulle besig is om trauma te verwerk.

WENKE:

Hier is ’n paar dinge wat jy kan doen om jou tweede huwelik ’n beter kans op sukses te gee:

  1. Weet presies wie die man is met wie jy trou.
  2. Maak ’n nuwe fotoalbum en hou dit op jul boekrak.
  3. Maak seker dat julle dieselfde oor dinge dink en dat julle dieselfde waardes oor geld, dissipline, liefde, seks, huishoudelike take en sosiale take deel.
  4. Kry ’n nuwe gunsteling restaurant waar nie een van julle in jul vorige huwelike geëet het nie. Gaan eet een keer per maand daar.
  5. Omdat jy gretig is om weer liefde te vind, kan jy dalk jou maat idealiseer. Die waarheid kan jou dalk ontnugter, so kyk deur nugter oë na hom.
  6. Skep jul eie, nuwe tradisies. Loop byvoorbeeld op Sondae deur die buurt, of lees soggens saam koerant.
  7. Maak ’n lysie van dít wat tot jou egskeiding gelei het en kyk of dit nie dalk in jou tweede huwelik na vore tree nie.
  8. Gesels met jou maat oor hoe jy oor dinge op daardie lys voel.
  9. Vervang mettertyd die kombuisgereedskap wat julle in jul vorige huwelik gebruik het, met nuwe gereedskap.
  10. Navorsing toon dat die geneigdheid van ’n tweede egskeiding verhoog as jy jou maat korter as ’n jaar ken voordat julle trou.
  11. Draai al jul waardevolle trougeskenke van jul eerste huwelike versigtig toe en bêre dit. Julle kan later besluit wat julle daarmee wil maak, maar dit behoort nie nou deel van jul nuwe lewe saam te vorm nie.
  12. Verstaan jul verwagtinge van mekaar.

Op INTIEM se Facebook-blad skryf een van ons aanhang­ers: “Dit is my tweede huwelik en ek kon nie vir beter gevra het nie. Daar is op en af tye, maar ek glo as daar nie tye is wat dit nié goed gaan nie, is daar fout, want dít is die tye wanneer ’n mens mekaar baie beter leer ken. Jy moet alles gee. Dit is nie ’n 50/50-vennootskap nie, maar ’n 100/100- vennootskap. En wanneer albei die Here aan hul kant het en saam Bybelstudie doen, kán dit nie verkeerd gaan nie.”

Almal het hul eie raad en wysheid om te deel, maar die meeste mense is dit eens: Sover dit ’n tweede huwelik aangaan, is spasie en geduld twee begrippe wat jou ver kan bring.

Addisionele Bronne:  www.kyria.com; www.time.com; www.worldvillage.com