Minki en Ernst is terug in Suid-Afrika! Hulle het skaars hul tasse neergesit of INTIEM het met dié paartjie gaan gesels oor die huwelik, hul kinders en hul planne vir die toekoms.

Deur Annelize Steyn

’n Mens sou jou kon voorstel dat normale mense ’n paar dae, weke of selfs maande nodig het om tot verhaal te kom wanneer hulle ná vyf jaar in Engeland vir goed terug trek Suid-Afrika toe. Maar nou ja, daar is niks “normaal” aan die lewe van ’n topmodel/televisie-aanbieder en ’n rugbyheld nie. En voor die Kaapse lug behoorlik kon kleefplek kry aan die lywe van Minki van der Westhuizen (31) en manlief Ernst Joubert (35), is dit ’n gebontstaan voor die kameraflits . . . enkele dae ná hulle die drempel van hul Stellenbosch-huis vir die eerste keer oorgesteek het.

Die persoon wat die nasionale park se hekke vir ons kameraspan moes oopsluit, het effens verslaap en só word alles op hierdie salige Kaapse oggend vroeg in die oprit langs die teerpad uitgepak vir die grimeersessie en onderhoud om te begin. As ’n professionele model wat gewoond is aan swemklere-fotosessies in die hartjie van die winter, knip Minki nie ’n oog oor dié onortodokse manier van doen nie. Sy gesels gemaklik en Ernst verwys meer as een keer na die feit dat dit een van die dinge is wat hom na Minki toe aangetrek het.

Die chatterbox en die swyer . . .

Hy weer, is nie regtig ’n geselser nie, knipoog sy. “Hy is so half stil-sterk en was van die begin af misterieus – ek het nie regtig geweet waar ek met hom staan nie, maar ek was van die begin af mal oor hom. En ek het dit gelove dat hy ’n tipiese man is. Sterk en handig. Hy kan iets regmaak en hy is ’n natuurlike leier.” Hulle het mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet.

Vir Ernst was die vriendskap waarop hul huwelik gebaseer is ’n belangrike basis. Een van die dinge wat haar na hom toe aangetrek het, was die feit dat hy daarvan hou om tyd saam met haar deur te bring. “En ja, fisieke aspekte het ook maar seker ’n rol gespeel!” verklap hy met ’n stoute glimlag.

Dit moet inderdaad moeilik wees vir enige man om die blondine met haar stralende glimlag en nommer 30 lyfie te weerstaan, maar om met ’n model getroud te wees, kan nie altyd maklik wees nie. Ook nie om die vrou te wees van ’n aantreklike rugbyspeler nie. (Ernst het ses jaar lank vir die Engelse rugbyklub Saracens gespeel).

Gesinstyd in Engeland

Die paartjie vertel egter dat om ’n lewe in Engeland te kon begin, dinge makliker gemaak het. “In die begin het ek baie Suid-Afrika toe gereis vir werk, en gou agtergekom dat Ernst se skedule in Engeland nie naastenby so woes is soos dié van rugbyspelers hier in Suid-Afrika nie. Daar is hulle ook glad nie so lank van die huis af weg nie. Ons het ’n ongelooflike ervaring agter ons en kon soveel gehaltetyd as gesin saam spandeer,” vertel Minki.

Dit het ook gehelp dat hulle nie so bekend was in Engeland as in Suid-Afrika nie en dat hulle ’n ondersteuningstelsel in die span gehad het, met vriende soos John en Roxy Smit. “Ek was ’n nobody in a big city,” vertel Minki, wat sedert haar dogtertjies se geboortes voltyds ma is.

“Ek was ’n mamma en Ernst se vrou, en dit was ongelooflik om nét op hulle te kon fokus. Ek het net daar besef wat regtig belangrik is in die lewe en dat alles gaan oor jou gesin en jou familie. Solank jou kiddies net happy is. Ons wil dogtertjies grootmaak wat gebalanseerd is en ’n mamma en pappa het wat by hulle betrokke is.”

Hoewel hulle gesinstyd baie spesiaal was, was die lewe in Engeland ook ’n uitdaging, want ’n bediende en voltydse kinderoppasser was nie ter sprake nie. “Dit was die moeilikste tyd, maar ook die lekkerste tyd. Ek dink ’n mens besef jy is tot baie meer in staat as wat jy dink en jy besef mammas is amazing goed!” Sy beskryf hul tyd in Engeland as ’n “ongelooflike leerkurwe” wat haar as mens help vorm het.

Terug in die land waar hul wortels is

Dis egter vir hulle heerlik om terug te wees in die land van sonskyn, donderweer, braaivleis en koeksisters. Ernst het ’n jaarlange kontrak by die maatskappy Remgro geteken, waar hy onlangs begin werk het, en Minki is weer gereed vir model- en televisiewerk. Voor die kameras is sy so tuis soos ’n vis in die water en Ernst hou ook sy lyf model vir ons fotosessie by een van die mooiste baaitjies in Kaapstad. Hy swaai sy vrou met haar voete bo-oor die water en sy staan met haar wang teen sy rug. En hulle lag. Onomwonde. Onbevange. Genoeg. Waarlik picture perfect.

Een van die groot lekkertes daarvan om terug te wees in Suid-Afrika, is die oumas wat nou weer ’n groot rol kan speel in klein Katerien (2) en die amper een-en-’n-halfjarige Elise se lewens. Hulle sien ook uit daarna om hul nuwe huis mooi te maak en die spasie te geniet. “Ons het nou ’n huis sonder trappe en ’n tuin waarin die kinders kan rondhardloop.”

Hul kinders het ook ’n groot uitwerking op hul geloofsgroei gehad, en Minki vertel dat die dogters se geboortes vir haar die ongelooflikste wonderwerk was wat sy nog aanskou het. “Ek het dankbaarheid en hierdie ongelooflike warm gevoel in my hart as ek weet dit is alles net genade. Nadat ’n mens kinders het, kry jou geloof ’n ander dimensie en dit is ’n deurlopende dankie-sê.”

“Ons beskerm ons huwelik”

Ons gesels oor die uitdagings van die huwelik en Minki vertel dat sy ’n oop boek is, terwyl Ernst se gedagtes dikwels vir haar ’n raaisel is! Konflikhantering het hulle egter goed onder die knie. Hulle bly nie lank kwaad nie en in hul huwelik behels ’n “uitbarsting” slegs ’n ligte struweling. “Dit is vir ons belangrik om, wanneer ons vies is vir mekaar, nie dinge te sê waaroor ons later gaan spyt wees nie. Ons dink voor ons iets sê.”

En die lekkertes van die huwelik? Dis ’n veilige hawe, meen die paartjie. ’n Plek waar hulle kan wees wie hulle wil, dink wat hulle wil en kan voel wat hulle voel sonder om geoordeel te word. “Ek sal alles in my vermoë doen om dit te beskerm,” sê Ernst. Dit beteken natuurlik nie dat hulle, soos enige paartjie, nie soms vassit nie. “’n Mens haal maar jou frustrasies op mekaar uit as jy met 12 stukke bagasie op ’n vliegtuig moet klim!” vertel hy met ’n glimlag.

“Maar dis vir my lekker om te weet ‘someone has got my back’, ek het iemand wat my ondersteun, wat na my kyk en na my dogtertjies kyk. Minki is geduldig en gee vir hulle baie liefde. Ek het altyd geweet sy sal ’n liefdevolle ma wees, maar sy is baie oulik met hulle en voed hulle mooi op in geloofswaardes. Ek dink tussen die twee het hulle al omtrent 50 Bybels!” lag hy.

Hoewel hulle weet die huwelik verg harde werk, was dit tot dusver nie vir hulle baie moeite nie, bieg hy. “Dalk maar omdat ons nog nie so lank getroud is nie.” Hulle het voorbeelde in hul ouers se huwelike wat die toets van tyd deurstaan het en hoop ook om hierdie voorbeeld vir klein Katerien en Elise te stel. “My hartsbegeerte vir ons dogtertjies is dat hulle met die regte leiding en God se genade ook die regte lewensmaats sal vind.”

Vir eers wag ’n baie opwindende tyd vir dié gesin. Daar lê ’n paar maande van restourasie aan hul huis voor – die huis waar hulle hoop om te bly tot hul kinders groot is. Ernst voeg by: “Ek dink dit is fantasties as ’n paartjie saam kan groei en saam kan oud word – dat ’n mens nie op ’n punt kom waar jy voel jy en jou maat ken mekaar nie meer nie. Maar as ’n mens heeltyd bewus is hiervan, hoef dit nie soveel werk te verg nie.”

Minki stem saam. “Gelukkig is ons uitkyk dieselfde. Dít wat ons in die lewe wil hê kom ooreen, en dít maak dinge makliker. Ons is net real. Ons is lief vir mekaar en probeer nie ander mense, of vir mekaar, beïndruk nie. Ons weet wat ons in mekaar het en ons is baie content daarmee.”

‘n Uittreksel uit INTIEM Feb Maart 2016, digitaal beskikbaar by http://tiny.cc/INTIEM_Feb_Maart_2016