Nee, sy is nie die nuutste celebrity nie. Mina is die naam van ’n menstruele koppie, ’n wonderlike alternatief tot sanitêre doekies wat vroue bemagtig en boonop omgewingsvriendelik is.

Wêreldwyd is daar kultureel negatiewe persepsies oor menstruasie, swak higiëne en sanitêre fasiliteite. Dit lei daartoe dat jong meisies en vroue ’n lae selfbeeld het, dit ontmagtig en veroorsaak vrees en verleentheid. Dis noodsaaklik om aan dié meisies die nodige leiding te bied en hulle aan te moedig om in hulself te glo en hulle daardeur te bemagtig. Daarom is Mina, ’n menstruele koppie, groot vooruitgang vir vroue én boonop ’n omgewingsvriendelike opsie.

Gebrek aan kennis
Regoor die wêreld word miljoene meisies die geleentheid vir geleerdheid en ook om noodsaaklike lewensvaardighede aan te leer, ontneem. Dit is alles te wyte aan armoede en ’n gebrek aan mentorskap en kennis.

Toe Zaakira Mahomed, ’n besigheidsvrou, entrepreneur en stigterslid van Happy with a Purpose, hoor van menstruele koppies en die ongelooflike rits voordele daarvan, het sy en haar span dadelik besluit dis die antwoord.

Zaakira verduidelik: “Mina (dit beteken ‘ek’ in Zoeloe) is vir elke meisie en vrou. Tesame met die kennersleiding van ons mediese fabriek in Johannesburg, het ons ’n kleiner vorm koppie ontwerp wat sagter is en daarom meer geskik is vir tieners en eerste gebruikers. Ons wil hê Mina moet meisies inspireer, en spreek kulturele taboes oor menstruasie en maagdelikheid direk aan. Mina is ’n rolmodel wat slim en selfversekerd is en smag na opvoeding. Haar omstandighede definieer nie wie sy is nie.”

Noodsaaklike bewusmaking
Onder die leiding van Zaakira, Dr Motlana, die Adjunk Hoof Uitvoerende Beampte van Sechaba Medical Solutions, Direkteur en Raadslid van Mina en Lerato Ndoro, Raadslid van Mina,
is Mina ’n beweging wat op noodsaaklike vroulike kwessies fokus. Menstruele higiëne is fundamenteel vir menseregte waar jong meisies en vroue onderwerp word aan reëls wat hulle beperk tot ’n menstruele hut of beesskuur omdat hulle sogenaamd “onrein” is gedurende hul siklus.

“Daarom is Mina ’n veilige alternatief tydens die menstruele siklus. Duisende meisies wêreldwyd word skool ontneem weens ’n gebrek aan higiëniese sanitêre produkte en hierdie is boonop ’n omgewingsvriendelike oplossing. Talle sosiale kwessies moet aandag kry, maar met opvoeding- en bewusmakingsveldtogte kan ons dié uitdaging oorkom.”

Omgewingsimpak
Menstruasie het ook ’n enorme impak op die omgewing – sanitêre doekies neem meer as 500 jaar en tampon-toedieners 25 jaar om af te breek en in die see ingeneem te word deur die seelewe. Wanneer ’n mens in ag neem dat elke vrou van ongeveer 137 kilogram menstruele afval in haar lewe ontslae raak, kan Mina ’n enorme verskil maak.

Vanaf 1 Augustus is dit aanlyn, asook in uitgesoekte Wellness Warehouse-winkels, beskikbaar. ’n Permanente “Gee een, ontvang een”-veldtog is bekendgestel, waar vir die verkoop van elke Mina een Mina aan die MINA Stigting geskenk word, wat dit na diegene op die begunstigdelys versprei.

Voordele van Mina
• Dis gemaak van 100% natuurlike medisinale graad silikoon, wat dit sag en buigbaar maak vir gemaklike gebruik.
• Geen chemikalieë is by die vervaardigingsproses betrokke nie. Dit is reukloos, hipo-allergenies, gemaklik en diskreet.
• Dit is ekonomies en kan vir ongeveer vyf jaar gebruik word.
• Dit is gemaklik vir ses ure se gebruik, en vang meer as drie keer meer vloeistof op as ’n tampon.
• Dit plaas gemaklik in die vagina en vorm ’n vakuum wat lekke voorkom.
• Dit word maklik gereinig en benodig slegs warm water om te steriliseer.
• Dit is ekovriendelik omdat niks weggegooi word nie. (In Suid-Afrika word maandeliks meer as 60 miljoen tampons en sanitêre doekies weggegooi!)

Vir meer inligting: minacup.org

Artikel deur YOLANDA WESSELS