Jy wil saam met jou man droom oor kinders, vakansies en huisplanne en die laaste ding waaroor julle julle wil verknies is die moontlikheid van dood. Maar, meen kenners, dis een van die belangrikste onderwerpe wat julle moet takel …


Weet jy hoe jou maat voel oor die dood? Is hy ’n gelowige? Weet jy of hy sal wil hê jy moet die masjiene laat afskakel as hy breindood verklaar word? Wil hy ’n groot, uitspattige begrafnis hê of sy as in die bosveld laat uitstrooi?

’n Alledaagse onderwerp …

“Ek lyk so badass in hierdie prentjie,” het Aaron Vaughn vir sy vrou, Kimberley, gesê toe hy eendag deur die foto’s van sy ontplooing na Irak blaai. “Gebruik dit in my begrafnisbrief.” Aaron en Kimberley was pas getroud vir nét meer as ʼn jaar, maar teen dié tyd was sy reeds gewoond aan die gemaklike manier waarop hy oor sy dood gesels het. Só skryf Kira Zalan in haar artikel “The Talk that makes Every Relationship Stronger” op www.redbookmag.com.

Waaraan Kimberley nié aan gewoond was nie, was die ritueel van die vloot se papierwerk waarop die familie moes skryf wat hul wense is vir in geval hul geliefde sterf. “Dit het my ontsenu om die name van ons strooijonkers neer te skryf in die seksie wat vra vir die name van kisdraers.”

‘Jy mag nooit weer trou nie’

Ná sy eerste ontplooing in 2009 het Kimberley geboorte gegee aan hul eerste kind en sy kon sien dat die gewig van dít wat hy nou moes agterlaat, vir hom moeilik was. “Jy mag nooit weer trou nie,” het hy gesê. Gewoonlik sou hy sy doodswense sommer so terloops laat val.

“Ek wil hê jy moet ’n paar maande rou voor jy weer gaan party,” sou hy byvoorbeeld terg. “Wat as jy doodgaan as ’n jong stud en teen die tyd wat ek jou in die hemel ontmoet, is ek al ’n ou tannie met ’n kierie? Sal jy my steeds wil hê?” het sy terug geterg. Maar te midde van die ligsinnigheid, het hulle geweet hulle moet die beste van nóú maak. Hy het selfs haar ouers aangemoedig om grond reg langs hulle s’n te koop. “As ek die dag weg is, sal jy dit waardeer om hulle naby te hê … het hy gesê.

Die laaste totsiens

Dit was nie maklik nie en elke gesprek oor die dood het gevoel soos ’n ekstra laag wat afgeskil word en wat hulle rou en broos laat. Kort voor sy laaste ontplooing na Afghanistan in Junie 2011, het hy skielik van plan verander oor sy argument ten opsigte van hertrou. “Ek sal wil hê jy moet trou,” het hy vir haar gesê. “Ons is so jonk, ek haat dit om te dink aan die idee dat jy alleen is vir al die jare wat voorlê.” Met hulle laaste totsiens voor sy missie van vier maande (sy was swanger met hul tweede kind) het hy sy trouring afgehaal en op haar duim gesteek, met die woorde: “Dinge soos dié het ’n manier om weg te raak as iets gebeur.” En ‘iets’ hét gebeur.

Twee maande later het Kimberley die slegte nuus gekry. “Ek wou wegkruip van die realiteit van sy dood, maar soveel besluite moes geneem word. Wou hy veras word? Moes sy kis van staal of hout wees? Waar wou hy begrawe word? Ek moes weet watter liedjie hy gespeel sou wou hê en watter foto op die program gedruk moes word.” Dit het haar oorweldig – tot sy besef het Aaron het dit deur die jare al beplan. Hulle het al daardie gesprekke reeds gehad.

Kimberley se raad

Haar vriendinne het nooit hul gesprekke oor die dood verstaan nie. Dit was vir hulle fassinerend, maar hulle het gekies om te glo hul mans is onuitwisbaar. Vandag sê sy: “Wat die meeste paartjies nie verstaan nie, is dat hulle uitmis op ’n heel nuwe vlak van intimiteit. Moenie bang wees om met jou maat oor die dood te praat nie, dit sal jul verhouding meer lewendig maak … Hoewel ek en Aaron ’n kort tydjie saam gehad het, het daardie gesprekke ons definitief nader aan mekaar gebring, en dit is daardie passievolle intimiteit wat elke aspek van ons huwelik geraak het, wat ek altyd sal koester.”

Geskeduleerde gesprekke oor die dood

In Amerika is daar ’n neiging wat ‘death dinners’ genoem word. Families hou ’n ete om die onsekerhede rondom die dood te bespreek.Vrae word gevra soos: Hoeveel mediese intervensie wil ek hê om my aan die lewe te hou? Kan ek langtermyn mediese sorg bekostig? Vir baie mense is dit ’n goeie manier om hulle doodswense te deel aangesien so ’n gesprek rondom ’n etenstafel die tema bietjie meer ‘verteerbaar’ maak en ook voorkom dat dié wat nagelaat word oor finansiële en mediese kwessies baklei.

“Finansiële kwessies kan soveel probleme en bekommernisse vir mense veroorsaak,” meen Betsy Trapasso, ’n voormalige hospice werker wat nou werk as ’n ‘end-of-life-guide’. “Ek het al mans gehad wat my gevra het of dit nie goedkoper sal wees vir hulle om net te sterf sodat hul vroue nie die huis verloor nie. Dit het my verstom …”

Wat sê die kenners?

Seksuoloog Elmari Mulder-Craig stem saam dat dit beslis nodig is om met jou maat oor die dood te praat. “Nie net skep dit emosionele intimiteit nie, maar ook gemoedsrus. Die dood is ’n realiteit – ongeag jou ouderdom.” Sy vertel dat dit nodig is om dinge te bespreek soos die testament, wat met die kinders moet gebeur as albei sterf en die kwessie van begrafnis of verassing. “Wil jy ’n tradisionele begrafnis of ’n celebration of life geleentheid hê? Hoe sou jy graag wil hê die geleentheid moet afloop? Almal sal nie noodwendig die behoefte hê om detail, soos musiek, te bespreek nie, maar vir ander is dit wel belangrik. Daar moet ook ’n doodslêer gehou word met alle inligting soos lewensversekering, die makelaar se nommer, jou bankrekening nommer ensomeer.”

Elmari voeg by: “Mense moet besef dat met die afsterwe van ’n huweliksmaat, die gestorwene se bankrekening dikwels gevries word. Daar moet voorsiening hiervoor gemaak word, sodat die maat wat agterbly en reeds getraumatiseerd is en rou, nie nog met kontantvloei probleme moet worstel nie, aangesien daar heelwat onvoorsiene uitgawes, soos die begrafnis, is.”

Of jy die kwessie oor hertrou met jou maat moet bespreek, hiervan is Elmari nie so seker nie. “Dit gebeur dan eintlik dat die persoon wat dood is ‘uit die graf regeer’. Die lewens van die mense wat agterbly gaan aan en ’n mens kan nie voorspel wat in die toekoms sal gebeur nie. Sou die maat wat agterbly weer vir iemand lief raak en wil trou, kan die skuldgevoelens dan ondraaglik raak …

Wat as jou maat besig is om te sterf?

In sommige gevalle het paartjies tyd vir beplanning en voorbereiding – as ’n geliefde byvoorbeeld ’n terminale siekte het, maar selfs dan verkies hulle om die onderwerp te vermy omdat dit so somber is. As jou maat besig is om te sterf en die onderwerp probeer vermy, onthou die volgende:

1. Moet hom/haar nie dwing om daaroor te praat nie. Dit sal gebeur as hy/sy reg is daarvoor.

2. Moenie hartseer wees as hy dit met iemand anders bespreek nie, maar laat hom verstaan jy is gereed om daaroor te praat as hy is.

3. Gebruik die taal wat jou maat verkies. Jy hoef nie rondom woorde soos ‘die dood’ te dans nie, maar eufemismes, soos ‘wanneer jy gaan’ is beter.

4. Erken al die emosies waardeur jou maat gaan.

5. As jou máát die een is wat die gesprek inisieer, moenie wegskram deur te sê: “Moenie dit sê nie …Selfs al is jy nie gereed om daaroor te praat nie, laat hóm toe om dit te doen …

6. En wanneer jy wel gereed is, gesels op ’n natuurlike manier oor hoe dinge sal wees as hy nie meer daar is nie. Vra of daar spesiale wense is soos: “Wil jy hê ek moet in ons huis aanbly of dink jy ek en die kinders moet eerder na ’n kleiner/veiliger plek toe trek?”

7. Praat ook oor sy siekte en sy hoop en vrese vir die toekoms. Só kan jy uitvind wat sy vrese vir die toekoms is en miskien iets daaraan doen, soos om die dokter te vra of daar medikasie is vir ingeval die pyn erger raak.

Dis ʼn gesprek wat kriewelings met jou ruggraat langs afstuur. Dit laat jou ongemaklik en benoud. “Wie wil nou praat oor die dood as jy kan praat oor die lewe,” vra ’n vriendin onlangs. Maar dit is ’n realiteit waarmee almal moet deal sodat julle voorbereid kan wees as dit met julle gebeur …

Addisionele bronne: www.redbookmag.com; www.huffingtonpost.com; www.caregiverslibrary.org; www.forbes.com; www.theguardian.com