Die huwelik is inderdaad nie net maanskyn en rose nie – só besef elke paartjie waarskynlik in hul eerste jaar reeds.

“Jy lyk vir my af, wat is fout?” vra jy vir jou vriendin wat nou al drie minute lank na haar koffie staar sonder om ’n woord te sê. “Ag, dis ek en Kabous. Ons gaan deur ’n fase . . .” Jy knik met die wete dat jy en manlief ook al deur só ’n “fase” was en nog ’n hele paar sal beleef.

Want die huwelik is meer oseaan as dam. Vol getye. Laaggetye, hooggetye, springgetye en ebgetye . . . en solank jy bewus is van die fases, sal julle okay wees.

In haar boek The nine phases of marriage: How to make it, break it, keep it, meen Susan Shapiro Barash dat elke vrou wat trou en kinders kry, nege baie definitiewe fases sal beleef. In haar navorsing onder 200 vroue uit verskillende omstandighede oor hul huwelike het sy bevind dat:

  • Altesaam 80% van vroue hul huwelike afskop met die idee dat dit gebaseer is op romantiese liefde.
  • Altesaam 70% van vroue mettertyd hul ongelukkigheid en ontevredenheid (emosioneel, seksueel en finansieel) oor hul huwelike uitspreek.
  • Altesaam 60% van vroue voel hulle het vir die verkeerde redes getrou.
  • Altesaam 65% van vroue sê dat as hulle oor kon kies, hulle nie weer met hul maats sou trou nie.

Susan sê dat as ’n vrou mooi na haar rol in elke fase van haar huwelik kan kyk, sy haar ontnugtering kan beperk en ’n manier kan vind om in daardie fase ’n beter band met haar man te bou.

Fase #1: Die hoopvolle bruid

Soos jou ouma gesê het, dít is die fase waarin jy op liefde en water leef. Of, soos jou ouma nié gesê het nie, op seks en sweets. Julle surf die see koel en kalm, want julle geniet die drie bestanddele van ’n gelukkige huwelik: Passie, intimiteit en toewyding. Die uitdaging van hierdie gety?

NEEM AKSIE: Julle floreer op passie en romanse en alles wat van Valentynsdag ’n kommersiële sukses maak, maar werk ook aan ’n vriendskapsband.

INTIEM-WENK: Huweliksvoorbereiding help ’n paartjie om die huwelik nugter binne te tree. Hierdeur word jy voorberei op die realiteite van die huwelik wat jou ná die tyd kan verras, sóú jy nie hierdie roete stap nie.

Fase 2 tot 9 word bespreek in die Feb Maart 2016 Uitgawe van INTIEM Tydskrif, digitaal beskikbaar by https://www.mysubs.co.za/magazine/product/865377