’n Silwerdoek-date night!

Jy gee nie om om soms agter meneer Clooney, meneer Pitt of meneer Butler op hul wit perde te sit nie (in jou drome), selfs al lê jou eie ridder (meneer van der Merwe, meneer Bezuidenhout of meneer van der Walt) langs jou. Maar julle twee kan jul eie fliektoneel skep! Hier is ’n bietjie inspirasie.

Vra jy vroue uit oor hul gunstelingflieks, is die kans goed dat die meeste hiervan romantiese nommertjies is. Ván die tipiese romantiese komedies en ander chick flicks  is ’n paar hiervan ietwat vergesog (maar treffers ten spyte hiervan!), en ander kan werklik inspirasie bied sover dit kreatiwiteit in die slaapkamer – of daarbuite – aangaan. Gebruik die volgende  flieks (waarvan die meeste uit vorige dekades dateer) om die regte atmosfeer vir jul liefde te skep. Julle hoef nie die dialoog te memoriseer nie – tensy julle werklik wil – maar gebruik die oorkoepelende idee om van jul liefde Hollywood-glans te gee! Enige van dié flieks behoort genoeg inspirasie te bied vir ’n date night wat julle sal onthou!

Titanic (1997)

Wie kan daardie toneel vergeet waar Jack (Leonardo DiCaprio) en Rose (Kate Winslet) met uitgestrekte arms voorop die skip staan en die temalied My Heart Will Go On in die agtergrond speel? Dié toneel kan egter ’n bietjie moeilik wees om te herskep – tensy jy ’n skeepskaptein is! Niks verhoed julle egter om ander tonele uit dié treffer na te maak nie. Soos die een waar Jack ’n naakte Rose skets. . . gaan koop ’n sketsboek en tekenpotlode, draai dit toe in ’n rooi pakkie met ’n nota wat sê: “Ons is nou wel nie Titanic-akteurs nie, maar wys jy hoe jý my sien op papier…” Los die pakkie vir hom voor jul toe slaapkamerdeur. Wanneer hy binnekom, moet jy uitgestrek op die bed, in ’n sensuele posisie lê, met die kamer vol kerslig. Belowe jou – dié is een kunsprojek wat manlief in vreugde gaan voltooi! As nie een van julle kans sien om jul talente (of tekort daaraan) so ten toon te stel nie, probeer die ander sexy toneel. Los dit vir ’n koue wintersaand op die agtersitplek van sy kar. Buite kan dit vriesend wees – julle moet die motor se vensters laat opwasem…

Dirty Dancing (1987)

Dans was nooit weer so sexy nie en min vroue het nie oor dié fliek – en sy hoofakteur – geswymel nie. Patrick Swayze en Jennifer Grey was wárm en wie sal daardie stukkie uitklopdialoog vergeet: “Nobody puts Baby in a corner…” Maar dit was veral gedurende die danstonele wat vroue wêreldwyd gewens het hulle staan in Baby se skoene. Met die ongelooflike musiek en natuurtonele waar die dansoefeninge plaasgevind het, word dinge net nóg meer romanties gemaak. Om hierdie fliektonele te herskep, moet jy professionele klasse neem. ’n Warmbloedige dans, soos die tango, sal goed werk. Kom ná jou les huis toe en verklee in Dirty Dancing garderobe. . . laat die fliek jou inspireer met Baby se kort boob tube hempies, hempies wat voor onder die buuste geknoop word, dans tights en sjoebroekies. Sê vir manlief jy wil hom graag ’n paar danspassies leer, en sit Dirty Dancing se klankbaan aan. . .

Ghost (1990)

Tranetrekker van die dekade. Molly (gespeel deur Demi Moore) verloor haar sielsgenoot Sam (gespeel deur Patrick Swayze) waarna hy met haar probeer kontak maak. Die pottebakkerstoneel is een van die sterkste tonele in dié fliek. Sy is besig by haar wiel, waarna hy agter haar kom sit, sy hande oor hare. Kort-voor-lank raak dit ’n liefdestoneel, waar sy haar bene om sy middel draai en ’n mens net kan raai wat verder gebeur. As jy ’n pottebakkerswiel besit, kan dié fliek baie goed vir jou werk. As jy dit nie het nie, plaas ’n tafeltjie en stoeltjie iewers in die huis en maak manlief in die middel van die nag met ’n soen wakker en fluister: “Die hobby room. . . oor vyf minute.” As hy daar kom, tref hy jou aan in een van sy oopknoophemde (met niks onderaan nie), waar jy by die tafeltjie sit en werk. As hy nie weet wat om te doen nie, kan daardie man van jou wraggieswaar nie ’n skimp vang of ’n geleentheid raaksien nie!

9 1/2 Weeks (1986)

Goed, hierdie fliek is eerder stout as romanties, maar gebruik dit tóg vir inspirasie. Liz (Kim Basinger) is ’n moderne kuns handelaar en John (Mickey Rourke) is ’n ou met geld. Albei is New Yorkers. Die sentrale idee van die fliek is dat ‘n vrou die maklikste verlei word deur al haar sintuie in te span. John ‘voed Liz op’ om seks te geniet deur sensualiteit. Daar is ’n element van gevaar in alles wat hy doen en Liz moet leer om die risiko’s te omhels om sodoende die genot te ervaar.  Sy kruip uit haar dop tot sy hom selfs toelaat om haar te blinddoek. Daarop volg iets wat jy en manlief gerus kan probeer. John klink ’n leë glas teen Liz se oor en begin dan sy meesterlike verleiding deur haar nek en borste met ’n ysblokkie te terg. Daar is ook ’n baie aanloklike kostoneel waar hy haar allerlei kossoorte met die hand voer (selfs ’n rissie!) en sy dit met toe oë ervaar. Probeer dit in jou eie huis uit jul eie kombuis. . .

How to Lose a Guy in Ten Days  (2003)

Ben (Matthew McConaughey) en Andie (Kate Hudson) wil elkeen aan mekaar iets bewys, maar besef nie dat die liefde hom nie laat voorskryf nie. Sy gaan kuier vir hom by sy ouers se huis en nadat hulle regtig pret saam gehad het, verlief geraak het op mekaar en papnat gereën het op sy motorfiets, eindig hulle in die badkamer. Hy trek haar hempie uit, sy trek syne uit en die stortwater loop. Dié fliek is maklik om na te maak, mits jy ’n motorfiets het. Volgende keer as dit lekker reën, se vir manlief jy wil graag voel hoe dit voel om nat te reën op sy motorfiets. As julle nie motorfietse het nie, leen die tieners se fietse! Onthou om jou styfste wit hempie (verkieslik sonder ’n bra) aan te trek. As julle by die huis kom, trek hom in die badkamer in, draai die stortkrane oop en trek hom nader. Hy sal weet wat om te doen. . .