Een dag en aand. . . op Griekeland!

Bêre jy iewers in jou laai ’n brosjure oor ’n eilandvakansie op Santorini? Waar jy en manlief lui in die son kan uitstrek en die gemaklike leefstyl van die Grieke kan beleef? Wel, hou jou lyf gereed. Vandeesmaand breek julle weg na Griekeland (sónder die jet lag!)

Griekeland gaan oor daardie luukse swem in die see, lang siëstas, vars seekos-etes, drankies langs die see en daardie. . . ai. . . daardie Griekse mans! As jou eie man nie eers 30 jaar gelede soos ’n Griekse God gelyk het nie, sit jou speel-speel sonbril op en beskou hom daardeur. As hy die sjarme aandraai (soos Griekse mans geneig is om te doen) en jou laat voel soos die mooiste vrou in die hele wêreld, gaan hy tien-teen-een vir jou veel bruiner, leniger en gespierd lyk as wat hy regtig is. Kies ’n Saterdag, stuur die kinders na maats toe, trek ’n reisgids nader en span jul verbeelding in!

10:00 Klere in Mykanos is baie gemaklik maar as jy tradisioneel wíl lyk, laat die eilande jou inspireer en trek jou koelste wit of blou rokkie aan! Begin die dag deur ’n ontbyt vir julle in te pak. As julle by die see bly – eerste prys! Gaan strand toe vir die oggend. As daar ’n rivier naby julle huis is, gaan soontoe en as jy met die dorp se dam tevrede moet wees, so be it. Pak jou tweestuk, jou sonbrandolie en jou grootste sonhoed sowel as ’n mandjie of knapsak met ’n tipiese Griekse ontbyt vir twee. In Griekeland is ontbyt iets wat jou ’n boost vir die dag gee, maar min Grieke het soggens tyd vir aansit. Tipiese bestanddele vir ’n Griekse ontbyt is Griekse koffie, hardgekookte eiers, olywe en fetakaas – dikwels ook dik brood. En as jou tand ’n soete is, maak ’n draai by jou naaste bakkery vir ryk gebak soos baklava en pasteitjies met feta en spinasie.

 

11:00 Span jou sonsambreel in en soek ’n lekker skaduhoekie. Natuurlik het jou draagbare CD-speler saam gekom en die fliektreffer ‘Mama Mia’ se klankbaan is daarin. Pluk ’n wit rokkie van ligte katoen oor jou kop (natuurlik mits jy jou baaikostuum onder aan het!) en vra manlief om jou van kop tot tone met sonbrandolie in te smeer (wees verantwoordelik en dra ’n sonskerm met ’n 40+ faktor – jy sal steeds met ’n tan wegstap). Skakel die CD aan en trek vir jou man nader. Natuurlik sal dit help as julle nie op Clifton se swemstrand lê nie, maar iewers op ’n ongerepte rivieroewer buite sig. Wanneer laas het jy en manlief onbevange gedans? Abba se treffers roep tien-teen-een goeie herinneringe op.

12:00 Teen dié tyd is julle hopelik flou geboogie. Spring in die water en koel af. Hou mekaar vas. Daar is iets baie romanties daarin om ’n golf te trotseer in mekaar se arms, of met jou bene om manlief se lyf onder ’n waterval te staan. Speel en vry dat die water spat! Klim nou uit, droog mekaar af en gaan bak weer warm in die son. Nou moet julle egter eers ’n glasie klink op die lewe! Daar is tientalle wingerde in Griekeland. Rooiwyn is meer gewild as witwyn en plaaslike wyne is redelik goedkoop as julle dit in ’n taverna bestel. Maar as rooiwyn nie jou ding is nie, sal Ouzo (’n anysgeur drankie), griekse koffie of vrugtesap (baie gewild in Griekeland) ook werk.

13:00 Tyd om huis toe te gaan. Maar op pad terug, moet julle by ’n seekoswinkeltjie stop. Kry die lekkerste, varsste seekos wat jy kan bekostig. Sorg ook dat daar ’n variasie is van lynvis, calamari, garnale. Kry genoeg botter en suurlemoensap sowel as speserye. Kyk ook sommer of julle by ’n pottebakkery kan stilhou waar jy twee rou keramiekborde teen ’n appel en ’n ei kan aanskaf. Julle gaan nou saam kos maak. Een voorwaarde: Geen resepteboek nie. Julle mag maar voortdurend proe en wysig. Julle kan mekaar met jul vingers voer en quickies op die tafel inwerk (verkieslik nie op die blad waar julle nie besig is om julle kos voor te berei nie!) Dit is spesiaal om saam skeppend te wees en vandag skep julle ’n vyfstergereg extraordinaire!

15:00 Na ete, plaas weer musiek met ’n lekker ritme in die CD-speler en haal die keramiekborde uit. Skryf wat jy op die hart het op jou bord, en vra manlief om dieselfde te doen. Skryf hoekom jy vir jou maat lief is en wat vandag vir jou beteken. Gebruik eenvoudige taal en nie te veel metafore nie. Anders is dit vir hom asof jy, wel. . . Grieks praat. Hou dit op die man af. Gee dit dan vir mekaar om te lees, sluit af met ’n sensuele soen, breek die borde en dans daarop!

16:00 Vind vooraf uit of daar donkieritte in die omgewing is. As julle naby ’n romantiese dorpie soos Clarens bly, gaan jy nie sukkel nie. Ook nie as julle iewers in die Weskus woon nie. Miskien bly daar ’n boer naby wat julle ken. Reël vooraf met hom om twee donkies vir die middag te leen. Druk die grootste, rooiste blom in jou hare wat jy kan kry en ry op die donkies. Onthou, ’n donkierit gaan meer oor die reis as oor die bestemming – nes jul liefde vir mekaar. Dit is luilekker tyd wat julle langs mekaar kan deurbring en oor jul lewe saam gesels.

17:00 Daar is genoeg oorskietvis, so jy hoef jou nie oor kosmaak te bekommer nie (en as daar nie oorskiet is nie, is julle waarskynlik nie honger nie!). Vanmiddag is storieleestyd. Neem ’n boek oor die Griekse mitologie by die biblioteek uit en lees vir manlief jou gunsteling mite. Daar is heelwat mitologiese figure wat baie sensueel is. Gesels daaroor. Kies ’n figuur wat by manlief pas en vertel hom hoe sexy hy vir jou is. Die meeste mans sal met die meeste mitologiese figure vergelyk wil word! Al is dit net lyflik! Onthou ook dat die Grieke baie van gebare gebruik maak. Moenie huiwer om vir hom te wys presies hóé groot en hóé sterk hy vir jou is nie!

18:00 Hoop julle kan nog jul oë oophou, want vanaand is fliek-aand. Daar is hope flieks wat deur Griekeland geïnspireer is (Dink aan My Big, Fat Greek Wedding, Zorba, Mama Mia en My Life in Ruins). Neem ’n video uit, gaan lê styf langs mekaar op die bank, vryf manlief se rug (en hopelik masseer hy jou voete!) en ontspan. Raak sommer net daar op die bank aan die slaap. En as julle wakker is en energie oorhet vir ’n bietjie aksie. . . moenie ’n kosbare minuut mors nie!