“Daar is werklik geen groter vernedering vir ’n vrou as om deur haar man geweeg en te lig bevind te word nie. Dit is soos ’n begrafnis, maar die oorledene is nie dood nie.” Dié stelling van Nelia (56) som baie vroue se gevoelens op as hulle besef dat hul man ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop het.

In hierdie artikel word die kollig op die manne se perspektief op buite-egtelike verhoudings geplaas. Raak bewus van wat vir die manne belangrik is, sodat wanneer jy geweeg word, jý nie dalk te lig bevind word nie. 

Hoekom raak mans in buite-egtelike verhoudings betrokke?

Nee, dit is nie so eenvoudig soos “’n man is ’n bok, en ’n bok is ’n blik**m nie”. Daar is wel ’n ‘macho-dimensie’ hieraan verbonde, en testosteroon maak dit nie noodwendig makliker vir mans om die versoekings te weerstaan nie. Om egter die duiwel, testosteroon, of oer-instink die skuld vir ontrouheid te gee, sal baie kortsigtig wees. Daar is dikwels baie dieperliggende redes waarom mans buite-egtelike verhoudings aanknoop. 

Die huwelik is te voorspelbaar

Anton (46) vertel dat hy verveeld geraak het met die voorspelbaarheid van sy huwelik. Sy vrou lyk al jare lank dieselfde, reageer dieselfde en hulle het in ’n gerieflike gemaksone verval. Daar was nie meer opwinding of vernuwing in die verhouding nie. Toe ’n kollega by die werk openlik haar belangstelling in hom begin toon, het hy maklik voor die opwinding van iets nuuts en anders geswig.

Die vonk en romantiek ontbreek

Henk (39) sê dat daar glad nie meer ’n vonk in hul huwelik was nie. Romanse het ontbreek en hulle het as paartjie bitter min lekker dinge saamgedoen. Dit was so maklik om tydens ’n sakereis op ’n kollega verlief te raak, omdat hulle soveel lekker dinge saamgedoen het en sy soveel pret was.

My vrou verstaan my nie

Danie (49) voel dat sy vrou hom glad nie meer verstaan het nie. Sy het nie met sy persoonlike groei en ontwikkeling deur die jare tred gehou nie. Hy het gevoel sy ondersteun hom nie, respekteer hom nie en dat hy maar net die ‘broodwinner’ is. Hy kon sy frustrasies met ’n skoolvriendin deel, wat self deur ’n moeilike tyd gegaan het. Hy het begin voel dat sy hom beter verstaan en ondersteun, en kort voor lank was hulle in ’n verhouding betrokke.

My vrou stel nie in my belang nie

Morné( 41) sê dat hy net die gevoel gekry het dat sy vrou nie meer in hom belangstel nie. Sy was altyd met iets anders besig, wat belangriker as hy was. Nodeloos om te sê dat hy gevlei was deur die aandag en belangstelling wat hy van ’n vrou by die gimnasium gekry het.

My vrou se prioriteit is die kinders

Pieter (56) vertel dat sy vrou na die kinders se geboorte net op hulle begin fokus het, en al haar energie en tyd in die kinders belê het. Hulle kon nooit alleen weggaan, of selfs gereeld uitgaan nie, omdat sy nie die kinders alleen wou los nie. Hy het al hoe meer begin voel dat hy nie raakgesien word nie. Toe die laaste kind die dag uit die huis uit is, het hy besef dat hy en sy vrou niks meer gemeen gehad het nie. Voordat hy mooi besef het wat besig was om te gebeur, was hy in ’n verhouding betrokke met ’n vrou wat aan dieselfde marathon-klub as hy behoort het. Hulle het so lekker gesels en baie belangstellings gedeel.

My vrou gee  my nie erkenning nie

Siebert (38) se vrou het hom gereeld afgekraak en verneder. Hy het later gevoel of hy in haar oë niks reg kon doen nie. Hy het al hoe meer onttrek en sy eie lewe begin leef. Toe een van die geskeide mammas in sy dogtertjie se klas vir hom sê dat sy hom bewonder oor die feit dat hy so by sy kind betrokke is, het hulle al hoe meer begin gesels, en kort voor lank was hulle in ’n verhouding betrokke.

Seks het saai en voorspelbaar geword – die enkele kere wat ons wel seks gehad het …

Karel (44) vertel dat hul sekslewe kort ná die wittebrood begin taan het. Sy vrou het later glad nie meer aan hom geraak nie. Seks het net soms op ’n Saterdagoggend plaasgevind, maar nooit op ’n ander tyd of plek nie, en altyd op dieselfde, voorspelbare manier. Hy het die indruk gekry dat sy vrou bloot haar plig doen om met hom seks te hê – en dan nog ietwat teësinnig daarby. Hy het glad nie die idee gekry dat sy seks met hom wil hê, of dit geniet nie, al het hy sy bes gedoen om haar te bevredig. Toe hy dus toevallig een van sy vorige meisies raakloop met wie hy ’n besonder warm, fisiese verhouding gehad het, het die ou vlam van passsie baie gou weer hoog gebrand.

Ander moontlike oorsake

Daar is nie een spesifieke rede hoekom ’n man groener weivelde soek nie. Dit hang van die gehalte van die verhouding, die behoeftes van die individu en ook van faktore af wat soms buite die beheer van albei huweliksmaats is.

’n Man in sy middeljare ervaar byvoorbeeld allerhande fisieke en emosionele veranderings. Sy lyf verander, hy word dalk bles, sy bors sak af en sy ereksies is nie meer so styf nie. Skielik besef hy ook dat hy nie noodwendig al sy drome en ambisies verwesenlik het nie. Dan verskyn daar iemand op die toneel wat sy ego streel, en so word die tafel vir ontrouheid gedek.

’n Persoonlike krisis, soos ’n ernstige siekte, ’n gewapende roof, of die dood van ’n ouer, kan ’n man ook met sy eie verganklikheid konfronteer. Indien hierdie trauma nie effektief hanteer word nie, kan hy daarop reageer deur die onbekende te wil ondersoek, of deur ’n gevoel te hê dat hy vir ‘verlore’ tyd moet opmaak, of die beste van die res van sy lewe moet maak. Dit kan soms daartoe lei dat ’n man in ’n buite-egtelike verhouding betrokke raak.

Seks is nie die belangrikste komponent van ’n verhouding nie, maar dit sou fataal wees om die waarde daarvan te onderskat. As dit op seksuele gebied goed gaan, maak seks ’n klein deeltjie van die totale verhouding uit, maar as seks skeefloop, oorheers dit alles. As daar ’n gesonde en opwindende seksuele verhouding by die huis is, is die kanse baie skraler dat hy by iemand anders betrokke gaan raak.

Ego-behoeftes speel dikwels ’n belangrike rol wanneer mans by buite-egtelike verhoudings betrokke raak. Die manlike ego is soms broos en word dikwels nie by die huis gestreel nie.

Mans en vroue gee en ontvang ook dikwels liefde op verskillende maniere. Maak dus seker dat jy jou maat se liefdestaal ken, en veral dat jy hom in daardie liefdestaal bedien, of dit nou kwaliteittyd, woorde van erkenning, dade van diens, fisiese aanraking of die gee van geskenke is.

Die taboe van ’n buite-egtelike verhouding en die risiko’s daaraan verbonde, is gewoonlik ook belangrike trekpleisters. Dit skep opwinding en laat die adrenalien vloei. Die uitdaging van ’n verbode verhouding maak dit dikwels aanloklik. Mans tussen 40 en 50 ervaar soms ’n behoefte om hul manlikheid te toets en te bewys. “Kan ek dit nog regkry om ’n vrou te verlei, of op my verlief te maak?”, is dikwels die onderliggende motivering.

Hoe kan buite-egtelike verhoudings dus voorkom word as ons die manne se perspektief in gedagte hou?–

Daar is geen waarborg dat jou huweliksmaat tot die dood toe getrou sal wees nie. Tog is daar faktore wat ’n rol in ’n lang en gesonde huwelik speel.

  • Vertel dikwels vir jou man hoe jy hom bewonder en hoe goed hy vir jou en die kinders is.
  • Dit is belangrik dat hy sal voel dat jy hom nodig het. Dit is nie so belangrik wat jy vir hom doen nie, maar eerder hoe jy reageer op wat hy vir jou doen.
  • Skep ’n rustige, kalm en gemaklike atmosfeer by die huis. Dit moet vir hom lekker wees om huis toe te kom.
  • Werk aan emosionele en fisieke intimiteit. Bestee genoeg tyd en energie aan mekaar, sonder kinders of ander afleidings.
  • Wees op mekaar se behoeftes ingestel.
  • Maak julle huweliks- en sekslewe opwindend. Wees kreatief en waak daarteen om in ’n groef te verval.
  • Wees toegewyd aan mekaar en aan jul huwelik.
  • Respekteer mekaar en mekaar se behoeftes, en gee vir mekaar ruimte om as individue te groei en te ontwikkel. So plaas ’n mens nuwe energie en opwinding in die verhouding terug.
  • Versorg jouself altyd goed. Moenie dit eers doen as jou maat se oë begin dwaal nie. Verander ook soms jou haarstyl of haarkleur, en wees soms sommer net bietjie wild en anders. Laat hom wonder wat hy volgende te wagte kan wees.
  • Sorg dat jy self gelukkig en emosioneel gesond is.

Twee heel en gesonde mense kan soveel makliker ’n suksesvolle langtermyn verhouding hê.

Wie se skuld is dit?

Huweliksmaats is geneig om mekaar die skuld te gee vir alles wat in die huwelik verkeerd loop. Verwyte word heen en weer geslinger, omdat nie een van die twee maats hul eie rol in die situasie wil of kan raaksien nie.

Dit is egter selde net die een party wat skuldig is. As jou maat ontrou is, is dit nodig dat jy jouself afvra watter rol jy daarin gespeel het. In plaas daarvan om die skuld op die ander party te plaas, moet jy ook verantwoordelikheid vir jou dade aanvaar. Dit beteken egter glad nie dat ’n mens ooit ’n ‘rede’ het om ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop nie. Soms het die rede niks met die skuldige se lewensmaat te doen nie, en is daar ander maniere om ’n probleem te oorkom as om groener weivelde te gaan soek.

Gebrek aan kommunikasie, emosionele intimiteit en passie is egter van die hoof-oorsake wat ’n huwelik sy vonk laat verloor. Dit word dikwels deur ’n oorvol program veroorsaak wat met werk, kinders, vergaderings en sosiale verpligtinge te doen het, terwyl jy jou huweliksmaat afskeep.

Die oomblik wanneer een van die huweliksmaats voel dat sy of haar behoeftes nie bevredig word nie, begin die gevaarligte flikker. Dit is dan baie maklik om die oorsaak by die gebrek aan onvoorwaardelike aanvaarding, kommunikasie, intimiteit en passie by jou maat te soek. Wees eerder openlik en eerlik, en kommunikeer aan jou maat dat daar nie aan jou behoeftes voldoen word nie. Sodoende kan jul verhouding groei en ontwikkel.

Buite-egtelike verhoudings rig ongelooflike skade aan en is nooit die moeite werd nie. Altesaam 80% van alle buite-egtelike verhoudings beland binne die eerste jaar op die rotse. Van die oorblywende 20% trou ’n klein persentasie, waarvan 75% weer skei. Ontrouheid is dus nie die moeite werd nie. Maak eerder seker dat julle jul huwelik koester en teen die hartseer van buite-egtelike verhoudings weerbaar maak.

Vyf wenke vir hoe om ’n affair te vermy:

  1. Moet nooit begin flankeer nie – selfs nie eers met goeie intensies of in ’n grap nie.
  2. Moet nooit meer as een drankie saam met vroulike kollegas geniet nie (as jy saam met hulle móét kuier).
  3. Moet nooit oor persoonlike dinge met vroulike kollegas gesels nie en moet hulle ook nie toelaat om met jou daaroor te praat nie.
  4. Moet jouself nie toelaat om ’n ‘spesiale vriendin’ (ook genoem ’n ‘work spouse’) te hê na wie jy kan draai vir ondersteuning nie.
  5. Tensy dit in ’n uiters professionele konteks is, moenie ’n vroulike kollega of kliënt alleen ontmoet nie.

Bronne:

http://www.happiness-project.com/happiness_project/2007/09/this-wednesda-1.html

 Artikel deur Elmari Mulder Craig

* Elmari is ’n seksuoloog, psigoterapeut, huweliksberader en kliniese hipnoterapeut.

***

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik –  KLIEK NET HIER!