“Liefde is wanneer jy die hele tyd soen. Wanneer jy dan moeg gesoen is, wil julle nog steeds bymekaar wees en julle praat nog. My mamma en pappa is só. Hulle lyk gross as hulle soen.” – Emily (8)

Ek lees die afgelope vakansie gereeld die dagblad in ’n ander provinsie. Die nuus bly maar dieselfde – ontstellend, maar van die inhoud, artikels en uitleg verskil. Ek lees die familiekennisgewings en sterfgevalle met ’n swaar gemoed. Alida se familie erken dat hulle haar “sterk siel en skerpsinnige insigte” baie gaan mis. Hulle sê sy het ’n groot indruk op almal gemaak.

’n Ander familie neem afskeid van oupa Karel. Hulle onthou hom met liefde. Hy was lojaal, het ’n ongewone humorsin en ’n diep, intellektuele verhouding met God gehad. Marie het net heengegaan na ’n lang siekbed – dis al, niks minder, niks meer nie.

Daar is ’n paar gestorwe ouers wie se kinders in die kennisgewing net die versorgers bedank en die datum van die private diens aankondig (hulle erf seker niks nie).

Ek ken hulle glad nie, maar weet hulle moes eens die lewe met passie aangepak het. Soos kleuters en jong verliefdes vreesloos gespring het, sonder om te huiwer. Arms en harte is gebreek. En só vergaan ons passie vir die lewe en vir mekaar mettertyd.

Wat gaan fout? Is dit as gevolg van onrealistiese verwagtinge? Is ons verward oor die onderskeid tussen begeertes en behoeftes, en raak ons daarom selfsugtig? Leef ons dikwels met die teleurstelling van die verlede of in die hoop van die toekoms, en vergeet ons dan om vandag se uitdagings met passie aan te gryp?

Passie in ’n romantiese verhouding is nie veronderstel om vir ewig dieselfde te bly nie. Verskeie faktore en hormone dra by tot die aanvanklike aangetrokkenheid tussen twee individue. Dit sal na 18 tot 36 maande opdroog en plek maak vir aanpasbaarheid, wat langtermyn-potensiaal het.

Dis wanneer ooreenkomste tussen lewenstyle en waardes ter sprake kom. Vriendskap, gedeelde belangstellings en respek is op die voorgrond. Dit is die boustene van ’n langdurige verhouding, wat die gevoel van vlinders in die maag, verlies aan aptyt en opwinding vervang.

Die paartjie moet nou aanpas en mekaar se tekortkominge met empatie hanteer. Wanneer hierdie fase van ’n verhouding ook met passie aangepak word, staan die paartjie ’n kans om hul goue huweliksherdenking in die koerant te publiseer.

Een bladsy verder lees ek die persoonlike kolom. ’n Aantreklike sakeman sien nie kans om alleen te wees nie. Hy is op soek na ’n aantreklike en avontuurlustige dame met geen skete, rugprobleme, depressie of skuldlas nie, om sy lewe met hom te deel. Sy moet hom ook help met sy sakebelange en sy moet lief wees vir langarm-dans. Rekenaargeletterdheid is ’n vereiste. Genade, aantreklike sakeman . . . sterkte!

Ek het nie die antwoorde nie, maar weet dat verandering en noodgedwonge aanpassing onvermydelik is. Ons leef in tye van twee salarisse en meer egskeidings. Groter, duurder huise en meer gebroke gesinne. Ons spandeer meer en geniet al hoe minder. Ons het baie meer besittings en minder waardes. Ons het meer kennis en minder oordeel. Ons praat te veel en luister te min.

Geboue is hoër en snelweë is breër, maar ons uitgangspunt is nouer en ons temperament korter . . . STOP! Haal diep asem. Maak of koop ’n Valentynskaartjie vir iemand – enigiemand wat dit sal waardeer. Skep geleenthede om saam met jou hartsmense (en soms alleen) te ontspan en pret te hê – leef vandag voluit!