Elke huwelik het beskerming nodig. Of julle nou pasgetroud is of ‘n leeftyd se klippe saam gekou het – geen huwelik is veilig teen aanslae van buite nie.

Elkeen van ons ken die jaloerse vrou. Sy is getroud met een van ons beste vriende en ‘n paar ure in hul geselskap is eintlik ongemaklik. Sy laat haar man nie uit haar sig nie en sou jy dit waag om ‘n grappie met hom te maak, gluur sy vir jou sodat jy dit nooit weer waag nie. Dit is nie nodig om só ver te gaan nie, maar daar is wel ‘n paar maatreëls wat jy én jou maat in jul huwelik kan implementeer om jul huwelik te beveilig. Bekende verhoudingskenners, insluitende Dr. Scott Haltzman en Dr. Thomas Bradbury, sielkundige en hoof-ondersoekbeampte van die UCLA Marriage and Family Development Study, het ‘n rooi waarskuwingsvlag gelig rakende die huwelik en vriendskappe met die teenoorgestelde geslag. Sy sê in haar boek NOT “Just Friends” dat die meeste mense nie ‘n affair beplan nie en dat mense ‘n fout maak om te dink aangetrokkenheid tussen mense beteken dat iets fout is by die huis. Dit ís moontlik om te dink iemand anders is aantreklik, selfs al het jy ‘n goeie huwelik. Dit is waarom die belangrikste beskermer teen ‘n affair behoorlike grense is. Sorg dat jy jou huwelik teen ‘n moontlik affair beskerm:

1. Spandeer daagliks tyd met God. In die FamilyLife Today uitsendings, “Enticement of the Forbidden” het die gasvrou, Judy Star, ‘n paar maniere gelys waarop jy jou huwelik kan beskerm. Een van hulle is om daagliks tyd met God te spandeer. “Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat jou persoonlike daaglikse tyd saam met die Here ‘n enorme muur van beskerming rondom jou huwelik bou nie.” Sy meen dat daaglikse kwaliteit tyd met die Here ‘n direkte impak op jou verhouding met jou maat sal hê, want jy sal daarna streef om aan te hou groei na Sy wil en ook gereeld jou sondes bely. “As jy God in Sy regmatige plek hou, sal nie net jou huwelik drastiese verskille ervaar nie, maar al jou verhoudinge sal geaffekteer word.”

2. Oorweeg die rol van die teenoorgestelde geslag. Wanneer dit by vriendskappe met die teenoorgestelde geslag kom, verskil mense se opinies. Hoewel dit van elke persoon en elke huweliksverhouding afhang, dink ons dit is veiliger om nie ‘n beste vriend van die teenoorgestelde geslag te hê, met wie jy afsonderlike tyd deurbring en bereid is om meer te deel as met jou maat nie. Natuurlik is vriendskapsverhoudinge met die teenoorgestelde geslag gesond en normaal, maar beveilig jou huwelik deur in ‘n groep of paartjie tot paartjie saam met vriende te kuier.

3. Stel grense in die werkplek. Dit is dikwels in die werkplek waar baie huwelike bedreig word. By konferensies waar kollegas vir ‘n week saam weggaan (soms oorsee) vloei die alkohol geredelik en dit is gedurende sulke tye en laat nagte waar oordeelsfoute gemaak word. Vermy dit ook om laat te werk saam met ‘n kollega van die teenoorgestelde geslag, tensy dit in ‘n groepsverband is.

4. Hou jou huwelik opwindend. Dit is natuurlik vir enigiemand om aangetrokke te voel tot opwinding. Opwinding in ‘n nuwe, vinnige kar, opwinding met die sien van ‘n kort, lae-hals rooi rokkie, opwinding by die aanhoor van sensuele woorde… dis baie belangrik om bedag te wees op die verleiding wat dit inhou… maar ook om dit juis tot jou voordeel te gebruik, deur genoeg opwinding in jul eie huwelik te skep. Neem jou vrou saam met jou vir daardie Porche-rit, trek vir jou man daardie rooi rokkie aan en fluister daardie woorde van verleiding in mekaar se ore. Hou genoeg van die opwinding in jul eie huwelik en die verleiding om daarvoor te swig búíte jul huwelik, raak kleiner.

5. Wees deursigtig sover dit tegnologie aangaan. Jy is dalk ‘n privaat mens, maar as jy mooi daaroor dink: Is daar énigsins ‘n rede waarom jou maat nié toegang tot jou selfoon- of rekenaar-wagwoord mag hê nie? As jy jou wagwoord geheim wil hou, beteken dit dat jy iets wegsteek vir jou maat en enige geheime in ‘n huwelik is groot rooi ligte. Beskerm dus jou huwelik deur heeltemal deursigtig te wees wat alle tegnologiese toestelle sowel as sosiale media aanbetref.

6. Pas jou huwelik op en wees ekstra versigtig in weerlose tye. Elke huwelik gaan mos maar soms deur donker tye en laagtepunte. Wanneer julle vir ‘n lang tyd nie seks gehad het nie en emosionele intimiteit ontbreek, wanneer julle die laaste tyd min kwaliteittyd deurgebring het, of direk na ‘n groot uitval… in sulke tye is jou huwelik veral baie broos en weerloos.

7. Moet nooit jou huwelik met enigeen van die teenoorgestelde geslag bespreek nie. Dit gebeur soms dat ‘n ligtelike gesprek skielik ‘n wending neem. Jy en een van jou werkskollegas (van die teenoorgestelde geslag) gesels oor hoeveel tyd die nuwe projek in beslag neem en voor jy jou oë uitvee, het jy hom vertel dat jy en jou maat mekaar deesdae min sien en dat jou man nie die druk wat jy ervaar verstaan nie… Groot fout! Dit wat jy met hierdie persoon bespreek, is jy eintlik veronderstel om met jou maat te bespreek. Jy ken ook nie die ander persoon se intensie nie en weet nie of hy/sy goedgesind is teenoor jou huwelik nie. Bly weg van hierdie lokval.

8. Praat oor verleiding. Dit klink dalk vreemd om so iets met jou maat te bespreek nog voor enige van julle al in die moontlike situasie was, maar deur oop kaarte met mekaar te speel, kan julle moeilikheid voorkom. Elke persoon het ‘n swakheid of ‘n weerloosheid. As jy ‘n soeke het na iemand wat na jou luister, gaan jy veral weerloos wees as so ‘n persoon oor jou pad kom. As jy ‘n ‘boobs’ man is en ‘n dame wat haar buuste ten toon stel, kom staan en flankeer met jou by ‘n partytjie, kan dit jou in ‘n moeilike situasie plaas. Jou weerstand daal dalk ná die derde drankie. Wees openlik oor waar julle ekstra ondersteuning nodig het. Gesels ook oor aanvaarbare gedrag en grense in jul verhouding. Jy dink dalk niks daarvan om met jou skoonsus te gesels oor haar sussie (jou vrou) se irrasionele gedrag nie, maar weet jy van die geskiedenis wat tussen hulle heers oor ‘n voormalige kêrel? Maak seker julle is op dieselfde bladsy.

9. Moenie naïef wees nie. Sover dit die ander geslag aangaan, het jy dalk die suiwerste intensies. Nooit in jou lewe sal jy jou maat verkul nie, dink jy. En daarom is dit veilig om jouself in twyfelagtige situasies te bevind – jy staan sterk. Weet egter dat iemand wat nie die huwelik waardig ag nie en haar/sy visier op jou het, ysere deursettingsvermoë het. So ‘n persoon is uit op ‘n jagtog. Jy is die prooi en hoe meer jy wegskram, hoe meer van ‘n uitdaging word jy. Elke mens het ‘n breekpunt en joune mag dalk tot die uiterste getoets word. Moet dus nie die krag van ‘n verleier onderskat nie en bly bloot uit sulke situasies.

Dit is beslis nie die ideaal om jou huwelik altyd met agterdog op te pas nie, maar dit is wel noodsaaklik om versigtig te wees rakende die gevare daar buite. Bly bewus van die feit dat jou huwelik nie affair-bestand is nie, maar doen wat jy kan om jul eenheid so weerstandig as moontlik te maak en julle sal die vrugte daarvan pluk.