As jy die wittebroodreëlings aan jou aanstaande man oorlaat, maak seker dat hy dié artikel onder oë kry! Dit is die kosbaarste vakansie wat julle waarskynlik ooit sal hê, so maak dit spesiaal – waar julle ook al heen gaan.

Daar’s nog bobby pins in jou hare en jou oogomlyner lê tot op jou wangbene. Miskien het jy nog jou groot, wit roomysrok aan jou lyf. Die maagseer wat jy die afgelope paar weke ontwikkel het en die blase op jou voete, is die laaste ding waaraan jy dink, want jy is eindelik … mevrou! En julle eerste, onvergeetlike vakansie as man en vrou lê voor … of so hoop jy. Hier is ’n paar wenke om julle te help om ’n wittebrood te hê waarvan julle onvergeetlike herinneringe sal oorhou. Herinneringe waarvan julle sommige nét vir julself sal hou, en die res eendag glimlaggend met jul agterkleinkinders sal kan deel!

Natuurlik is dit tradisioneel ’n wyse idee om jou wittebroodbestemming ’n geheim te hou – om verskeie redes! En om seker te maak daardie bestemming is die regte plek – wat daarin sal slaag om die regte atmosfeer vir julle te skep om van jul moegheid ontslae te raak en julle die privaatheid te gee wat julle verdien en nodig het vir ongelooflike seks!

“’n Wittebroodbestemming is so belangrik, omdat dit maklik die pas kan aangee vir seks in jou huwelik vir jare daarna, so moet dit nie te ligtelik opneem nie,” sê Carolyne Nakazibwe op The Weekly Observer se webtuiste. “Twee nagte in ’n groot hotel is nie regtig ’n wittebrood nie, eerder ’n duur blaaskans. Maak jouself gereed. Enkele pasgetroudes kan regtig seks op hul troudag hê, want hulle is óf te moeg om dit te geniet, óf te bekommerd oor die skuld om in die regte bui te kom.” Die wittebrood is belangrik vir ’n pasgetroude paartjie om mekaar te leer ken en te geniet.

Waarheen op aarde?

Vroeër was ’n Aventura-oord aan die orde van die dag. Of die lodge so 100km van jou tuisdorp af. Die afgelope paar dekades het die aard van wittebroodvakansies egter heelwat verander. Pasgetroude paartjies trou later en is dus finansieel beter af (geld vir die wittebrood word nie meer by Pappa geleen nie). Die wêreld het kleiner geword en sóveel paartjies bestee derduisende rande op ’n oorsese wittebroodvakansie. Selfs dié wat dit nie regtig kan bekostig nie, is bereid om eerder ’n paar jaar daaraan af te betaal.

“Ons het ’n baie duur wittebrood gehad. Die geld was daar, danksy ’n meevallertjie, maar baie mense sou sê dat ons dié geld beter kon aanwend. Dit was ’n vakansie wat ons waarskynlik nooit weer sal kan bekostig nie, idillies en onverbeterlik! En al sou ons vir maande na ons troue van brood en liefde moes leef, en al sou ons die geld moes leen, sou ons weer daardie besluit geneem het. Dit het aan ons die kosbaarste herinneringe gebied en ons sal dalk nooit weer die geleentheid vir so iets hê nie. Ek sou enigiemand aanbeveel om te óórbestee op die wittebrood (al weet ek finansiële kenners sou van my verskil!) want jy kan altyd weer geld bymekaarmaak vir daardie huis of kar of wat ook al, maar jy gaan nooit weer daardie eerste paar euforiese weke as ’n pasgetroude paartjie kan terugkry nie,” vertel Annekie (33).

Dit is natuurlik net ’n aanbeveling en daar is sóveel paartjies wat weer meen dat hulle ’n wonderlike wittebrood op ’n streng begroting en ná aan die huis geniet het. As jy verward is oor waarheen om met jul wittebrood te gaan, maak seker jy het internettoegang. Daar is soveel webtuistes wat jou hiermee kan bystaan, soos www.thetravelerszone. com. Vra reisagente en vriende om jou te help. Baie bruide en bruidegomme besluit op ’n sonnige strandvakansie soos in Hawaii, of ’n reis na Meksiko, maar daar is geen wet wat sê jy kan nie eerder die Andes gaan klim nie. Onthou, die beste bronne is ander paartjies. Gesels op webtuistes soos www.TheKnot.com/talk met ander paartjies oor hul ervaringe.

Hier is ook dikwels een van julle eerste toetse om te compromise. Jy en jou maat gaan nie noodwendig saamstem nie. As jy lus is vir ’n luilekker vakansie, terwyl hy elke avontuur moontlik wil aanpak, dink aan ’n middeweg. Gaan na ’n rustige strandoord, waar daar ook skubaduik en perdry aangebied word, of deel jul vakansie in twee – ’n paar dae in ’n Toskaanse villa en dan na Rome om te gaan sightsee.

Bespaar só op jou luukse vakansie:
Kry jou prioriteite reg. Besluit wat jou doel met die vakansie en jou voorvereistes is.
• As jy van ’n reisagentskap gebruik maak, kan jy baie geld bespaar. Hulle het fantastiese pakkette en laaste minuut–aanbiedings en kan jou boonop van raad uit eie ervaring voorsien. Maak seker jou agent weet wat jou behoeftes is.
• Vind uit of jou reisagentskap ’n honeymoon registry het, sodat gaste tot jul wittebroodvakansie kan bydra. Sommige dienste, soos www.honeyluna.com, bied aan gaste die geleentheid om sekere aktiwiteite soos ’n bootrit, ’n skuba-uitstappie of ’n ete by ’n romantiese restaurant te borg.
• Bespaar deur buite seisoen te bespreek. As julle ’n oorsese wittebrood verkies, soek na ’n bestemming wie se buiteseisoentydperk (die tydperk reg voor en na hoog seisoen) met jou reisdatums ooreenstem. Dit bespaar geld en voorsien aan julle meer privaatheid.
• Kies goedkoper plekke, waar die ekonomie swak is of daar swaar toeristeverkeer is. Natuurrampe kan nie voorspel word nie, maar tsoenami’s, orkane en aardskuddings het ook ’n uitwerking op die ekonomie.
• Hoe nader jou bestemming aan die huis is, hoe goedkoper is die vliegkoste. Daarom is dit slim vir Suid-Afrikaners om eerder in byvoorbeeld Kenia en Zanzibar ’n tropiese eilandvakansie te geniet as in Hawai of Tahiti.
• Bespreek vroeg. Dit verseker dat al die goedkoper kamers nog nie uitverkoop is nie. Aan die ander kant, kan jy ’n heerlike laaste minuut winskoop agt weke voor jou vertrek opraap as ’n plesierboot byvoorbeeld nie vol bespreek is nie. (Jy sal egter ’n beperkte keuse hê as dit by kajuite kom.)
• Oorweeg alternatiewe roetes. Soms kan jy baie goedkoper vlieg deur in ’n ander land oor te stop. Dit gaan dalk ’n bietjie ekstra kos, maar is deur en deur die moeite werd, veral as die stop by ’n interessante lughawe is waar jy lekker kan rondsnuffel.
• Bespreek of bie aanlyn. Op www.priceline.com kan jy bie. Die proses is gratis, maar onthou, hoewel jy die stad, die area, die datums en vlak van gehalte (een tot vier sterre) kan spesifiseer, kan jy nie ’n spesifieke hotel versoek nie. As Priceline dan akkommodasie kry wat by jou bie pas, moet jy dit aanvaar (jou kredietkaart word onmiddellik met die volle bedrag gedebiteer).
• Oorweeg ’n bed-en-ontbytplek. By sommige plekke word jy van privaatheid beroof, maar nie by almal nie. Gewoonlik het dit veel meer karakter, romantiese hoekies en die pryse is goed, wat dikwels ontbyt insluit.
• Oorweeg dit om ’n pakket te neem. Hier kry jy soveel ekstras (veral wanneer jy sê jy is op wittebrood), soos ’n spa-behandeling, ’n bottel wyn in jou kamer, ensomeer.
• Jy kan baie bespaar deur die goedkoopste kamers in die duurste hotelle te bespreek. As jy nie van plan is om baie tyd in die kamer deur te bring nie, maak dit nie soveel saak as jy nie ’n see-uitsig het nie.
• Oorweeg ’n all inclusive-pakket. Daar is geen onaangename verrassings nie en julle kan oorboord gaan! Julle kan soos konings en koninginne op een fooi leef. Die meeste tariewe sluit kamers, etes, aktiwiteite, vermaak, fooitjies, belasting en lugawe-oordragte in. Drankies word gewoonlik uitgesluit. As jy so ’n pakket oorweeg, maak seker jy hou van die meeste dinge wat aangebied word, anders gaan dit nie veel help nie en dan kry jy nie waarde vir jou geld nie!
• Moenie ’n prys aanvaar sonder om navraag te doen nie. Vra of dit absoluut die goedkoopste tarief is wat aangebied kan word en wat jy moet doen om ’n goedkoper tarief te bekom.
• Maak seker die persoon wat vir jou die bespreking doen, weet dat julle op wittebrood is! Dit sal ten minste toesien dat julle ’n beter tafel of gratis sjampanje kry. En as julle buite seisoen daar is, kan julle selfs ’n beter kamer losslaan!
(www.wedding.theknot.com)

Wenke vir die vlug
• Bly nugter. Hoewel jy en jou man waarskynlik ’n glasie op julle nuwe titels wil klink en dit met die hele vliegtuig wil deel, is dit nie so ’n goeie idee nie. Alkohol sal jou net verder dehidreer. As julle wel iets drink, sorg dat julle twee keer soveel water inkry.
• As jou rit langer as vier ure is, wend elke paar ure gesigsroom aan om jou vel teen uitdroging te beskerm. Neem ’n sakkie met ’n tandeborsel, tandepasta, gesigwasmiddel, handeroom, ’n weggooibare skeermes en Tylenol saam. Onthou ook kontaklensoplossing, lipsalf, ’n reiskussinkie, ’n klein kombersie, pantoffels, ’n sonbril en ’n kepsie.
• As die vlug vervelig raak, kan jy altyd deel raak van die mile high club…

Wanneer om wat te doen…

Ses maande vooraf:
• Stel jul begroting vas en begin oor jul wittebroodfantasieë gesels – waarheen wil julle gaan en wat wil julle doen? Gesels met vriende, reisagente en besoek die internet.
• As jy beplan om by jul bestemming te trou, begin met die papierwerk en kontak ’n troubeplanner wat in bestemmingtroues spesialiseer.
• Kry ’n reisagent wat in die bestemming spesialiseer waar jy wil heengaan, die aktiwiteite (soos ’n avontuurtoer of ’n skuba-uitstappie) of die manier van vervoer (soos ’n bootreisspesialis).
• As jul droomreis buite jou begroting is, bedink maniere om geld te spaar (lees hierbo).
• Bespreek jou kaartjies, kry sitplekke, bestel spesiale vliegmaaltye en kyk hoeveel bagasie toegelaat word, veral as julle ski’s of skubatoerusting wil saamneem.
• Kyk na hotelle, kamerbeskikbaarheid, bespreek ’n kamer en ’n huurmotor.
• Kyk of daar enige inentings is wat julle moet kry voor julle vertrek (sommige reekse moet maande voor die tyd geneem word).

Drie maande vooraf
• Kry julle paspoorte en visas reg, indien dit nodig is.
• Dit neem gewoonlik 6-8 weke en die reëls is streng, so maak betyds werk hiervan.
• Oorweeg dit om reisversekering te kry as een van julle gesondheidsprobleme het, julle bekommerd oor jul veiligheid is, of as die weer dreig om amok te maak (soos in die orkaanseisoen).

Twee maande vooraf
• Koop ’n kamera en tasse – of registreer daarvoor vóór jou kombuistee. Oefen om jou kamera goed te gebruik.
• Ondersoek toere, teaterkaartjies en enige ander aktiwiteite wat dalk vooraf besprekings vereis, doen dit selfs vroeër as julle binne seisoen gaan.
• Woon jul skubakursus by of begin met lesse vir enige ander aktiwiteit wat julle graag op jul reis wil onderneem.

Een maand vooraf
• Maak ’n lysie van wat om te pak en aan te skaf.
• Bevestig al die besprekings.
• Kontak ’n huisoppasser om seker te maak hy/sy is beskikbaar.
• As jy op die Pil is en jou periode wil uitstel omdat dit met jou wittebrood oorvleuel, gesels met jou ginekoloog daaroor om die placebo’s oor te slaan en dadelik met die volgende siklus te begin. Dit is heeltemal veilig. Maak seker jy het genoeg pille byderhand.

Twee weke vooraf
• Gaan haal jou vliegkaartjies en al die toepaslike geskenkbewyse by jou reisagent. Lees alle dokumente versigtig deur om seker te maak die inligting is korrek. As dit nie is nie, kan jou agent dit regmaak.
• Kry jou valuta, kredietkaarte en reisigerstjeks in orde.
• Ruil ongeveer R1000 of minstens genoeg om jou vanaf die lughawe tot by die hotel te kry, in die geldeenheid van die land wat jy sal besoek. Dit is lekker om kontant in die hand te hê vir ingeval.

Een week vooraf
• Tref reëlings dat die poskantoor jou pos terughou gedurende jou reis.
• Staak koerantaflewering vir die tydperk wat jy weg is.
• Maak twee of drie kopieë van jou paspoort, kredietkaarte, versekering, reisigersnommers, en enige papierwerk wat jy mag nodig kry indien jou beursie gesteel word of iets met jou gebeur. Gee een stel aan elke ouer en/of ’n familielid of vriend, pak een in jou bagasie en los een stel veilig in jou kluis.
• As jou gidsboekie swaar is, maak kopieë van die relevante bladsye wat jy kan gebruik en laat dit bind.
• Vra ’n familielid om na jul trougeskenke om te sien.
• Maak seker jy het ekstras van alles waarsonder jy nie kan leef nie – hoofpyntablette, allergiepille, ’n asmapompie, ’n bril of kontaklense. Dra al die medikasie in die oorspronklike voorskrifbotteltjies om vrae by die doeane te vermy.
• Skakel jou huisoppasser om te bevestig wanneer julle reis, gee vir hom/haar die sleutels, jou kontakinligting en ’n kopie van die veearts se nommer.

Drie dae vooraf
• Bevestig jou oorsese vlugte.
• Bestel sjampanje om in die kamer gereed te staan met jul aankoms.
• Koop boeke en tydskrifte vir die reis (moet nie van INTIEM vergeet nie!)
• Skryf al die nommers en adresse van vriende aan wie julle poskaarte wil stuur en belangrike telefoonnommers in ’n klein reisgrootte notaboek of joernaal neer.
• Tref reëlings vir jou ritte na en vanaf die lughawe.
• Los ’n kopie van jul reisplan en ’n stel huissleutels by ’n familielid of goeie vriend in geval van nood.
• Kyk na die weervoorspelling van jou bestemming.
• Berei jou huis op jul vertrek voor – eet of raak ontslae van bederfbare kos en gee die plante water.

Een dag vooraf
• Bevestig weer eens jul vlugte.
• Maak seker jul bagasie is aan die buite- en die binnekant met jul name, hoteladresse en telefoonnommers gemerk.

Wanneer jy jou tasse pak
• Was die wasgoed ’n paar dae vooraf sodat jy seker kan maak alles wat jy nodig het, is skoon.
• Begin ’n week voor julle weggaan met jou paklysie, sodat jy items kan byvoeg soos jy daaraan dink en ’n lys het vir ingeval die tas wegraak.
• Wanneer jy aan jou klere dink, probeer effekleure, plooibestande mikrovesels (Lycra, nylon, Spandex) en veelsydige skoene inpak. Onthou ook dat ligte kleure vlekke wys, maar koeler as donker kleure is.
• Om plooie te voorkom, rol of draai jou klere in tissuepapier of droogskoonmaaksakke toe. Rol klere wat maklik kreukel op, in plaas daarvan om dit op te vou.
• Vermy dit om skoene of klere saam te neem wat jy nog nooit gedra het nie. (Dames, ons weet dit is bykans onmoontlik!)
• Druk sokkies en onderklere in skoene of handsakke om dié items hul vorm te help behou.
• Pak ’n ekstra sak. As jy ’n bagasiestel het, pak alles in die tweedegrootste sak en pak daardie sak dan in die grootste sak. As jy daar aankom, koop aandenkings en duty-free items – jy het ’n ekstra sak om alles in huis toe te neem.
• As jou tas heeltemal vol is, maak dit toe en tik dit ’n paar keer op die vloer om ekstra ruimte te maak.
• Moenie jou tas propvol maak nie. Ritssluiters kan breek of jy kan jou gewigsbeperkings oorskry en dan moet jy ekstra betaal.
• Deel badkamerprodukte soos tandepasta en sjampoe.
• Pak ’n tas soos jy ’n inkopiesak sou pak – swaar items onder en die ligter items bo.
• Pak al jou waardevolle items, een stel klere, eetgoed, ’n klein botteltjie water en toiletware in ’n sak wat jy by jou dra, vir ingeval jou tasse wegraak of agterbly.
• Sodra jy arriveer, pak uit en hang jou klere op.

Agt móéts vir jou wittebroodtas
Al jou noodsaaklikhede is in jou tas en jy het slim en prakties gepak, maar natuurlik is daar ’n deel van jou wittebrood wat vir INTIEM baie belangrik is. Jou wittebrood mag dalk pret en avontuurlik wees, maar dit is ook die verleidelikste vakansie wat jy ooit sal hê. Jy moet sexy en op jou sensueelste lyk en voel. Maak seker jy pak ook die volgende vir daardie tropiese nagte in!
1. Drie stelle ekstra sexy onderklere. Dit moet die tipe onderklere wees wat jy nooit dra nie, en praktiese nut moet heel onder aan jou prioriteitslysie wees wanneer jy dit koop. Dink aan kant, lint, satyn, sjiffon, deursigtigheid en fyn detail. Dit behoort die tipe onderklere te wees waarmee jy uit ’n koek kan spring en Happy Birthday Mr President vir Manlief kan sing. Een hiervan moet beslis ’n broekie, korset en kousbande insluit (enige man se fantasie!), maar moenie te veel hiervan koop nie. Drie stelle is genoeg, veral wanneer julle eilandvakansie gaan hou. Hy gaan dit in elk geval so gou uittrek dat hy dit nie so lank gaan waardeer soos waarvoor jy gehoop het nie!
2. Drie super sexy bikini’s. Dink aan klein nommertjies met dun bandjies. Daar is deesdae soveel snitte beskikbaar dat amper enigiemand goed in ’n bikini kan lyk. Manlief gaan sy hande nie van jou kan afhou nie. Koop twee sexy bikini’s, al is hulle nie baie prakties nie. (Dink aan besonderhede soos strikkies en gespes in vars en sexy kleure – selfs wit!) Een van die bikini’s kan praktieser wees, vir wanneer julle watersport gaan beoefen en jy ’n betroubare nommertjie nodig het.
3. Drie stelle super sexy nagklere. Weer eens moet dit nagklere wees wat jy nie andersins sal dra nie. Koop byvoorbeeld een sexy babydoll rokkie (dikwels het hierdie rokkies ingeboude bra’s wat jou buuste baie mooi laat vertoon), een ragfyn boycut broekie en spagettibandjie-hempie en een satynrokkie. Weet wat jou goeie en swak punte is en vra ’n goeie vriendin om saam met jou te gaan koop! Trek kleure aan wat by jou gelaat pas en wat jou figuur beklemtoon.
4. Aromaterapie kerse. Daar is niks wat ’n kamer so gou in ’n romantiese liefdesnes kan transformeer soos die warm, flikkerende atmosfeer wat kerse skep nie. As dit boonop ’n heerlike, sensuele geur afskei, soveel beter!
5. Skuimbad. Dit is ’n móét vir ’n wittebrood. ’n Heerlike diep borrelbad waarin jy en jou nuwe man kan week. Baie oorde bied dit as deel van ’n wittebroodpakket aan. Een van die werkers kom tap vir julle ’n bad met heerlike geurmiddels, badskuim, blomme en kerse wat brand. As dit nie deel van jul pakket is nie, koop self die duurste bottel badskuim wat julle kan bekostig. Onthou net, jacuzzi’s vereis omtrent die helfte van die hoeveelheid wat jy normaalweg sou gebruik.
6. Masseerolie. Wat ’n heerlike ritueel ná ’n verleidelike borrelbad – ’n wedersydse massering. Pak ’n reisgrootte botteltjie gegeurde masseerolie in en wend vryelik aan. Sensuele olies en geure sluit Patchouli, Rosewood, Sandelhout en Ylang Ylang in.
7. Smeermiddel. Moet nie dié outjie op wittebrood vergeet nie. Julle is waarskynlik albei gespanne en wil graag hê seks moet so glad moontlik verloop. Soms is ’n bietjie smeermiddel nodig om die daad makliker en minder pynlik te laat geskied – veral aan die begin wanneer julle mekaar se lywe nie noodwendig goed ken nie.

Daar het jy dit …
Pak verder die volgende in: avontuurlustigheid, passie, verleidelikheid, waagmoed, optimisme, liefde en bewondering vir jou nuwe man … en die vakansie van jul lewens wag op julle! Geniet dit, neem baie foto’s en onthou dit deur mekaar vir jare daarna aan die Utopia te herinner waar jul huwelik tot lewe geroep is!

Addisionele bronne: www.thetravelerszone.com; www.wedding.the