Prioriteite verskil en dit maak nie saak hóéveel julle ooreenkom nie, dit kán konflik in jul huwelik veroorsaak.

Onthou jy jul eerste groot rusie? Jy het waarskynlik gedink dit is die einde van die wêreld! Tot jy begin besef het dat verskille ’n normale deel van elke huwelik uitmaak. Daar is natuurlik paartjies wat mekaar slegsê en selfs fisiek bydam, terwyl ander paartjies dit op ’n redelike manier uitpraat.

Menslike gedragspesialis, outeur en onderwyser, dr John Demartini, meen die rede vir rusies is dat elkeen volgens sy/haar eie stel prioriteite leef. Dit is dus heeltemal te verstane dat elke paartjie in ’n sekere stadium sal voel dat hulle net nie “jel” nie, meen John (ook outeur van The Heart of Love en stigter van die Demartini Instituut).

“Dikwels komplementeer ’n paartjie se waardes en prioriteite mekaar, maar dit is nooit presies dieselfde nie,” noem hy. Soms is die verskil tussen manlike en vroulike waardes juis dít wat balans in ’n huwelik bring. Veronderstel julle word gekonfronteer met die volgende situasie:

JY: “Bokka, ons sal gou moet spring met die deposito vir die nuwe skool. Ek is bang ons verloor Danie se plek.”
HY: “Lief, ek dink nie ons moet meer vir daardie skool gaan nie. Op die lange duur is dit beter om die geld terug te ploeg in die besigheid. Dit maak net meer sin.”
JY: (raak hittig en ongeduldig): “Ek hoor jou, maar dink jy nie ons kinders se opvoeding is ’n bietjie belangriker as dít nie? Vir Danie se ontwikkeling gaan dit ’n reuse verskil maak, maar in die besigheid is dit ’n druppel in die emmer. Dit gaan dan nou uiteindelik goed genoeg dat ons dit wél kan bekostig …”
HY: “Ja, maar is dit regtig nodig? Ek was in ’n staatskool en ek het heeltemal okay uitgedraai … ons kan mos maar weer daarna kyk as hy hoërskool toe gaan.”
JY: “Ekskuus? Tye was anders! Moet ons kinders hul skoolopvoeding nou prysgee ter wille van jou nuwe boot?”
HY: “’n Nuwe boot? Ek dog ons praat oor skole …”
JY: “Die besigheid sorg reeds goed vir ons, maar as jy ’n paar ekstra Rande inploeg kan jy seker gouer jou ou diepsee-hengelbootjie bekostig. En dan moet jy maar ons kinders leer visvang vir ’n lewe, want hulle het nie juis veel van ’n toekoms met die besluite wat jy nóú wil neem nie!”

Ontploffing. Jy voel manlief se prioriteite ondermyn joune – hy voel dieselfde.

Hierdie soort spanning vererger wanneer ’n mens aanneem dat jóú prioriteite reg is. John verduidelik: “Jou prioriteite word die filter waardeur jy die wêreld beskou. Ons projekteer ons prioriteite op enige situasie en individu wat ons teëkom, ons omhels enigiets wat lyk of dit hulle ondersteun en verwerp enigiets wat hulle bedreig.” As jou maat dus iets doen wat in lyn is met jou prioriteite, voel julle ná aan mekaar. Maar die teenoorgestelde is ook waar: As jou maat enigiets doen wat jou geloofstelsel uitdaag, raak jy verdedigend en trek jy terug.

“Ons kan onsself nie help nie,” meen John. “Blameer dit op die oorblyfsels van die predator-mentaliteit wat ons gehelp het om te oorleef as grotmense, wanneer die vermyding van ’n uitdaging die verskil tussen lewe en dood beteken het.” Dit is hierdie ingebore veg-of-vlug instink wat konflik onvermydelik maak, meen hy.

“Konflik is ’n botsing van prioriteite en onvermydelik.” Hoe hanteer jy konflik sonder om skade te los? John meen dat compromise nie die antwoord is nie, omdat dit lei tot verwyte. Dit gaan nie daaroor om jou eie belange op te offer nie, maar om die kuns van kommunikasie aan te leer, meen hy.

Hoe maak jy?

Gesels gereeld met jou maat en bespreek dan mekaar se hoogste prioriteite, beveel John aan. “Dit help om te kyk hoe sy/haar doelwitte jou dien.” Kyk na hoe julle mekaar se prioriteite kan vervul en wees content. Jy kan nie ’n ander persoon se waardes en prioriteite verander nie, maar as jy kan verstaan hoe dit ’n positiewe verskil in jou lewe maak, raak dit makliker om dit te aanvaar. Dis belangrik, want daarsonder sal jy en jou maat nie ’n konstruktiewe dialoog kan hê nie.

Julle moet ook mekaar se bekommernisse en wense herhaal so gereeld soos wat dit nodig is vir julle om mekaar te waardeer. Jou identiteit wentel om jou prioriteite, so as jy nie die dinge kan waardeer wat jou man dryf nie, gaan hy moontlik iemand soek wat dit wel doen, waarsku hy.

“Neem mekaar se stellings op of dokumenteer en berg dit op jou rekenaar,” meen hy. “Veranderinge in jou prioriteite kan stadig gebeur; dit kan aangemoedig word deur veranderinge in jou gesin, loopbaan of op ander gebiede. Wees seker dat jy en jou maat in voeling met mekaar bly.”

Volgens examiner.com kan julle ook die volgende doen as daar ’n verskil in prioriteite is:

• STAP 1: Sit tyd opsy waarin julle hierdie kwessies sonder enige onderbreking kan bespreek. Skeduleer ’n afspraak met jou maat om seker te maak die onderwerp kry al die aandag wat nodig is.
• STAP 2: Maak seker dat julle een prioriteit per afspraak afhandel. Sodra julle meer aanraak, kan dit oorweldigend raak.
• STAP 3: Gesels oor die voor- en nadele van die betrokke prioriteit. As dit byvoorbeeld gaan oor tuisbly ma-wees vs. werkende ma-wees, praat oor wat die implikasies van elk sal wees.
• STAP 4: Erken jou maat se opinie. Dit verskil dalk van joune, maar dit beteken nie dat sy opinie sleg of verkeerd is nie. Kyk na die goeie in elk van julle se mening/perspektief. Só kan julle makliker ’n middeweg vind.
• STAP 5: Laat tyd toe om te dink oor die kwessie. Kom dan later terug en finaliseer julle besluit.

* Vir meer inligting, besoek www.drdemartini.com.