Vra jy mense wat hulle uiteindelike doel is, en hulle sê dikwels: “Ek wil net gelukkig wees…” Maar vir baie mense is geluk ‘n ontwykende konsep – iets wat net nie mooi vasgevang kan word nie. En min mense kan waarlik sê hulle is gelukkig.

Die Amerikaanse motiverende spreker, skrywer en consultant Denis Waitley het gesê: “Geluk kan nie na toe gereis word, besit word, verdien word, gedra word of verbruik word nie. Gelukkigheid is die spirituele ervaring om elke minuut met liefde, genade en dankbaarheid te leef.”

Ja, soms onderskat ‘n mens die rol wat jy speel in jou dankbaarheid. Dit het eintlik baie minder te doen met omstandighede wat jou toegedeel word as wat jy dink en meer te doen met ‘n mens se eie ervaring van die realiteit. Sommige paartjies maak daagliks spesifieke keuses om gesonde, gelukkige huwelike na te streef.

Gelukkige paartjies KIES…

1) … om intensioneel aan hul huwelike te werk. ‘n Goeie huwelik gebéúr nie net nie, dit vereis harde werk, selfdissipline, deursettingsvermoe en wyse besluite. Wanneer hulle voor ‘n moeilike keuse te staan kom, neem hulle altyd hul huweliksgesondheid in ag en is nie passiewe karakters in hul liefdesverhaal nie.

2) … om selfstandig én saam te groei. ‘n Gesonde paartjie weet dat ‘n huwelik bestaan uit twee individue wat hul lewens saamvoeg. Dus is dit belangrik om saam te groei maar ook om aparte identiteite te behou. Hulle respekteer mekaar se individualiteit en laat mekaar toe om elk eie voorkeure, afkeure, vriende, drome, en opinies te hê. Maar hulle weet ook wanneer dit noodsaaklik is om na mekaar te draai en sáám te groei.

3) … om vir ‘n hoër doelwit te leef. Gelukkige paartjies is tevrede met hul omstandighede en met mekaar, maar besef ook dat hul lewensdoel groter is as hulself en daarom maak hulle ‘n impak waar hulle gaan, in hulle wel en weë met vriende, kollegas, families en kinders… en bring hulle só eer aan God.

4) … liefde bó emosies. Ons is menslik, ons het emosies en anders as ons Skepper, is ons wisselvallige wesens. Dit is wat die huwelik so moeilik maak. Want een dag is jy gek oor jou maat se humor en die volgende dag is dit nie so snaaks nie. Een dag voel jy verlief en die volgende dag bloot irritasie. Liefde is egter nie ‘n gevoel nie en daarom kan jy nie jou ‘gevoelens’ met jou huwelik vertrou nie. Jy moet besluit om jou maat lief te he. Herhaaldelik.

5) … om nie verveeld te raak nie. Soveel paartjies verloor die vonk en in Hollywood-draaiboekteks klink dit so: “We fell out of love…” Daar is nie so iets nie! Maar daar is wel so iets soos verveling. En as jy nie doelbewus en aanhoudend jou maat bly ondersoek nie, gaan jy en jou maat verveeld raak met mekaar. Gelukkige paartjies besluit om elke dag iets nuuts te leer van die mens met wie hulle ‘n lewe deel.

6) … om seks ‘n prioriteit te maak. Seks is nie alles nie, maar wanneer dit sleg gaan in jou huwelik speel seks ‘n groot rol! Seks kan ook die oorsaak wees van baie groter probleme in jou huwelik en daarom moet dit nooit ‘n plig word wat so dan-en-wan afgerammel word nie. Gelukkige paartjies doen moeite met hul sekslewens en probeer om dit te verbeter.

7) … voorspelbaarheid. O, dit klink baie vervelig, né?! Niemand wil ‘n voorspelbare huwelik hê nie! Maar dit is nie wat ons bedoel nie. Wat ons met voorspelbaarheid bedoel, is dat jou maat altyd moet kan weet waar hy/sy met jou staan. Dit is wonderlik om misterie in ‘n huwelik te behou, maar as jou maat jou laat twyfel oor sy/haar liefde of toegewydheid, en jou in ‘n posisie plaas waar jy onseker voel, is dit emosionele manipulasie. Wees voorspelbaar sodat jou maat weet hy/sy kan op jou peiltrek – en wees konsekwent.

8) … om hul sente om te draai. Gelukkige paartjies bestee nie meer as wat hulle inkomste toelaat nie. Gelukkige paartjies werk saam aan finansiele doelwitte, stel begrotings op en spaar (al is die bedrag hóé klein). Mens dink soms finansies het nie ‘n invloed op jou geluk nie, maar vra menige paartjie wat deur finansiele worstelinge gestoei het en hulle sal vir jou sê dat as finansies ‘n mate van spanning bring, die hele huwelik daaronder lei.

9) … onselfsugtheid. Op United Church of God se webtuiste skryf outeur en leraar Jerold Aust op 21 Julie 2005 dat moeilikheid ontwikkel wanneer mense aanneem dat die huwelik déúr mense vir menslike gerief ontwerp is. Nee, dit is ‘n Goddelike ontwerp en daarom lê die geheim van ‘n gelukkige huwelik in die maak van regte keuses wat in lyn is met God se wil. “God het spirituele wette in werking gestel wat tot goeie of slegte gevolge kan lei – afhangende van die keuses wat ons maak. Wanneer jy God se wette gehoorsaam sál dit goeie dinge tot gevolg hê. Breek God se wette en jy sal slegte resultate kry. Onselfsugtigheid lei tot goeie uitkomste.”

Eindelik bestaan mense se lewens – en paartjies se huwelike – uit ‘n reeks aaneenlopende keuses. Sommige keuses skep vrees en onsekerheid en ander keuses maak ons gelukkiger. Weet vanaf dag een dat jý en jou maat die sleutel tot geluk in jul huwelik vashou deur die keuses wat julle regdeur jul huwelik sal maak, en jul kanse op sukses is groot.

Artikel deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.kevinathompson.com; www.goodmenproject.com; www.ucg.org

***
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!